Vra vir Faffa

Soek inligting oor miskruiers

Vraag

Kan u 'n goeie boek voorstel oor plaaslike miskruier- soorte, gewoontes en habitat?

Antwoord

Vraag:
Kan u ‘n goeie boek voorstel oor plaaslike miskruier- soorte, gewoontes en habitat? Waarmee kan ek dip (beeste) wat geen nadelige invloed op die miskruiers gaan hê nie en watter metodes kan ek aanwend om hulle getalle te vermeerder? Ansoria Geldenhuys – (ansoria@jjg.co.za)

Antwoord:
Ek is nie bewus van ‘n boek wat spesifiek oor miskruiers in Suid-Afrika handel nie, maar die meeste boeke oor insekte het ‘n gedeelte oor miskruiers waarin hulle biologie beskryf word. In die verband lees gerus die boek Insects of Southern Africa, onder redakteurskap van proff. Clarke Scholz en Erik Holm of besoek die webwerf http://af.wikipedia.org/wiki/miskruier/. Daar is egter ‘n artikel of twee oor die miskruiers (wat nie kan vlieg nie) in Addo-Olifantpark.

U kan beeste dip met een van die organofosfaat- of piretroïed-bevattende dipstowwe. U moet egter in gedagte hou dat die organofosfaat vir ‘n paar dae giftig bly terwyl die piretroïed heelwat langer aktief bly. Om die diptenk of drukgang sal die miskruiers vrek, maar verder in die veld in behoort min skade aangerig te word. Meeste van die wurmmiddels is ook nie giftig vir die miskruiers nie, behalwe die makrosikliese laktone, soos avermektien, moksidektien en doramektien wat uiters giftig is vir die insekte.

In die Landbouweekblad van 20 April 2004, is daar ‘n artikel oor mnre. Hennie Bezuidenhout en Hendrik Steyn wat begin het om organies met beeste te boer. Mnr. Steyn sê dat daar oor die vier jaar ‘n betekenisvolle toename in miskruiers was en miskoeke word deur ‘n menigte van die insekte toegetakel. Mnr. Steyn glo vas dat dit te danke is aan die afwesigheid van chemiese middels in die mis, en dus ook op die veld en in die grond.

(Klik hier om dié artikel te lees. – Webred.)

Om die insekte te laat vermeerder, is die eerste ding om sover moonlik die gebruik van insekmiddels en dipstowwe uit te skakel. Daar moet ook voldoende miskoeke wees wat lank genoeg klam bly vir die miskruiers om dit te kan verwerk. Die weikampe of gebiede waar die miskoeke is, moet nie omgeploeg word nie, omdat die larwes van die insekte in die misbolletjies in die grond voorkom.

Ten laaste, Prof. Clarke Scholtz van die departement Dierkunde en Entomologie en sy kollegas het ‘n weidingsgesondheidsindeks vir veeplase ontwikkel deur miskruiers as biologiese aanwysers te gebruik. Die indeks word nou gebruik om weidingsgesondheid op plase regdeur Suid-Afrika te assesseer. Dit is die eerste indeks van weidingsgesondheid ter wêreld wat gebruik maak van ‘n biologiese aanwyser. Die groep het ook ‘n handelsmerk vir "miskruiervriendelikheid" geregistreer wat gebruik sal word om die biologiese toksisiteit van teenparasitiese middels aan te dui. Dit is ook die eerste handelsmerk van sy soort ter wêreld. Die navorsing is deur Nat Lam (Edms) Bpk en Novartis Animal Health, Suid-Afrika, ondersteun met mede-befondsing van THRIP.

 

  • Prof. J. Boomker is verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

    22 November 2005


Kommentaar

Kommentaar (2) “Soek inligting oor miskruiers

  1. Johann Grobler
    Johann Grobler

    Wat is ‘n Boskriek en waar kan ek meer inligting kry

  2. Louise
    Louise

    Kan ‘n muskreier vlieg?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X