Vra vir Faffa

Slapsiekte in perde, donkies en muile

Vraag

Wat is 'slapsiekte' by perde? Wat is die simptome, behandeling en waardeur word dit veroorsaak? Nou al 'n paar keer gehoor mense praat van die siekte, maar kon nie volledige inligting bekom nie.

Antwoord

Slapsiekte is ‘n kroniese aansteeklike siekte van perde, muile en donkies.

Oorsaak: Slapsiekte word veroorsaak deur ‘n protosoa, Trypanosoma equiperdum en is ‘n geslagsiekte.

Epidemiologie: Volbloedperde is geneig om meer vatbaar te wees as inheemse perde, donkies en muile wat dikwels subklinies of lig geaffekteer word. Die siekte word geslagtelik oorgedra van ’n hings na die merrie of omgekeerd. Die voorkoms van die siekte in ‘n groep perde kan dikwels teruggevoer word na ‘n besmette perd wat ingebring word wat nie tekens van die siekte wys nie.  Dit mag maande neem voordat siektetekens gesien word en teen hierdie tyd is die siekte al wydverpreid in die perde.  Subkliniese gevalle kan deur serologiese toetse opgespoor word. Seksuele aktiwiteit word eers in die wiele gery as diere baie vermaer of as daar erge swelsels van die geslagsdele is.

Die siekte versprei veral waar daar ongekontroleerde teling van perde en donkies plaasvind. Die Trypanosomas  kom in groot getalle voor in vaginale afskeidings van besmette merries of veral in die begin van die siekte in die urienbuis van hingste voor. Besmetting vind nie tydens elke dekking plaas nie, maar geskied veral as diere pas besmet is.

Slapsiekte word selde in volbloedperde in Suid-Afrika gesien omdat teling onder streng toesig geskied. Perde word ook getoets vir slapsiekte voor en gedurende die teelseisoen.

Soms word vullens ook besmet deur vaginale uitloopsels of deur die melk van besmette merries. Sulke vullens is serologies positief en kan die siekte oordra as hulle seksueel aktief raak.

Nie-besmette vullens kan serologies positief raak as hulle biesmelk van seropositiewe merries inneem, maar hulle verloor hierdie teenliggame binne 5 tot 6 maande en hulle is nie aansteeklik nie.

Siektetekens

Die verloop van die siekte en sieketekens varieer aansienlik afhangende van die virulensie van die protosoastam en vatbaarheid van die gasheer.

Na ‘n inkubasieperiode van een week tot ‘n paar maande kan die siekte een van drie vorms aanneem nl. asimptomatiese vorm (geen siektetekens), geswelde en senuweevorm. Die senuweetoestand volg op die swelselvorm en is dodelik.

Latente vorms (asimptomaties) mag oorgaan tot siektetekens deur stres wat veroorsaak word deur gure weer, fisiese uitputting en wanvoeding. Effense bloedarmoede kan in alle gevalle waargeneem word.

Geswelde vorm (word ook interstisiële vorm genoem) is gewoonlik ‘n aanduiding van ‘n chroniese infeksie en kan maande tot selfs jare duur. Siektetekens wat in hingste en merries kan voorkom, is geleidelike gewigsverlies totdat die diere erg vermaer is. Hierdie diere is baie vatbaar vir infeksies en parasiete en kan vrek van hierdie sekondêre komplikasies. Hierdie vorm van die siekte mag ook gepaard gaan met swellings in die vroeë stadia van infeksie. By hingste ontstaan ‘n sagte, pynlose swelsel van die skede en balsak, wat ook na die omliggende vel van die buik versprei.  Die swelsels mag na ‘n paar dae verdwyn om maar net weer terug te keer na 2-3 weke.  Sulke swelsels mag vir 18 maande teenwoordig bly om daarna permanent te bly a.g.v. bindweefselformasie. Die kop van die penis swel ook en later ontstaan daar op die penis geel knoppies, wat ná 1-3 dae sere word en genees terwyl daar wit vlekkies agterbly. Grys of gelerige slym vloei uit die penis. Die penis mag ook uithang en die urienbuis mag ‘n prolapse ontwikkel. Die diere urineer dikwels en die geslagsdrang is verhoog. By merries swel die lippe van die skede, daar is ‘n slymerige uitvloeisel en in die skede is die slymvlies rooi en geswel. Daar ontstaan ook knoppies wat oorgaan in sere en later in vlekkies, terwyl sulke wit vlekke ook buite op die vel om die geslagsopening ontstaan. Sommige merries urineer dikwels en reageer asof hulle permanent op hitte is. Op enige deel van die liggaam kan daar plat, ronde swelsels van die vel vorm, 25 mm in deursnee en na ‘n paar dae weer verdwyn.

Senuweevorm nl. aan die een kant van die dier kan daar oorgevoeligheid van die vel wees en aan die anderkant verlamming. Die verlamming tas dikwels die gesigsenuwees aan, sodat die gesig skeef trek, veral die lippe. Ook die bene raak verlam en die diere loop moeilik en styf.  Uiteindelik gaan lê die dier en kan nie opstaan nie. Die diere vermaer en verswak, hoewel hulle tot die einde goed vreet.

Hoewel die siekte soms akuut kan wees en die diere al ná 6 tot 8 dae vrek, is die verloop gewoonlik langsaam en duur maande. Gevalle kom voor met ligte siektetekens, sodat hulle glad nie opgemerk word nie. Die vrektesyfer is gemiddeld 50%.

Diagnose

Die diagnose is soms moeilik en kan alleen deur bloedtoetse met sekerheid bevestig word.

Differensiële diagnoses

Swelsel van die geslagsdele kom voor in siektes soos nagana wat veroorsaak word deur T. brucei, perde virale arteritis, “coital exanthema”, “purpura haemorrhagica”.

Toestande wat tot kroniese gewigsverlies en uittering lei, is o.a.: wanvoeding, wurmbesmetting, tandprobleme, kroniese infeksies en kroniese lewersiektes (Seneciose).

Die senuweetoestand moet onderskei word van toestande soos perde herpesvirus 1 enkefalomiëlitis, wobblersindroom, beserings van die rug en pelvis, iliac trombose, ensomeer.

Behandeling

Behandeling word nie aanbeveel nie deurdat kliniese tekens mag verbeter, maar  die dier nog ‘n draer van die parasiet kan bly en ander perde aansteek.

Beheer

Die siekte word bestry deur siek hingste te vernietig of minstens te kastreer en siek merries af te sonder totdat hulle vanself genees. Gekastreerde hingste kan nog ‘n tyd lank merries dek en aansteek. Tot dusver is daar nog nie in geslaag om ‘n entstof te ontwikkel nie

Aangeebare siekte

Slapsiekte moet by die Staatsveearts aangegee word.

Bronne:

Coetzer, J.A.W. and Tustin, R.C. 2004. Infectious Diseases of Livestock. Oxford University Press. ISBN 0 19 578202 X

Mönnig en Veldman, F.J. 1975. Handboek oor Veesiektes. Tafelberg Uitgewers. ISBN 0 624 00359 0

Saamgestel deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

15 Julie 2014


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X