Vra vir Faffa

Slakke in krip

Vraag

'n Boer kry klein bruin doplose slakke by die bolklep in 'n sementkrip. Hy vra of dit gevaarlik is of nie.

Antwoord

Vraag:
Ek het klein bruin slakke van so ongeveer 8 mm groot by die bolklep in ‘n sementkrip. Dit is doplose slakke. Is dit gevaarlik of nie? – Johan, Potchefstroom (poppekas@yahoo.co.uk)

Antwoord:
Waterslakke is tussengashere vir sommige belangrike inwendige parasiete wat in die mens en dier voorkom. Die belangrikste van hierdie parasiete is lewerslakwurms, peervormige maagslakwurms en bilharzia. Die eiertjies wat in die mis en uriene van mens en dier uitgeskei word, moet eers uitbroei nadat hulle in die water geval het. ‘n Klein mirasidium broei uit die eier uit en dring dan die waterslak binne waar daar verdere ontwikkeling van die parasiet plaasvind.

‘n Klein paddavisagtige stadium, die serkaria, verlaat die slak en by bilharzia dring die serkaria die gasheer se vel binne. By lewer en peervormige maagslakwurms swem die serkaria tot teen ‘n grassie en vorm daar dan ‘n beskermende doppie (metaserkaria) om die parasietstadium en kan dan lank vir die finale gasheer besmetlik bly. Diere word dan besmet wanneer hulle die metaserkaria met plantmateriaal inneem.

Al hierdie waterslakkies (Lymnaea en Bulinus-spesies) is gewoonlik swarterig van kleur met harde doppe en wissel van speldekop grootte tot 1 cm lank. Hulle word dikwels in krippe, vleie, fonteine, gronddamme en langs die kante van stadig vloeiende stroompies aangetref. Hulle sit dikwels op waterplante, asook op takke en klippe wat in die water lê. Slakke lê klein, jellieagtige eierpakkies en is tweeslagtig.

Boere word aangeraai om hul krippe gereeld skoon te maak en uit te skrop. Ganse en eende kan ook gebruik word om waterslakke te beheer. Slakke sonder doppe dien nie as tussengasheer nie en is dus onskadelik. Skakel u veearts om te help met die identifikasie van slakke indien nodig.

24 Mei 2006


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X