Vra vir Faffa

Skubbe op hond se neus

Vraag

My Boerboel het skubbe op haar neus. Ek weet nie of dit van die son is en of sy haarself so teen die sementmuur geskuur het nie, maar ek het al salf aangesmeer en dit gaan nie weg nie. Dit lyk soos erge sonbrand wat rowe gemaak het. Haar neus is ook baie sensitief. Het u raad vir my daarvoor?  - Tribelaj@eskom.co.za

Antwoord

Rowe op die neus kan in enige van die onderstaande kondisies waargeneem word:

• Trauma
• Insekbyte
• Neus pioderma
• Omloop
• Hondesiekte
• Kontak dermatitis
• Pemfigus foliaseus
• Pemfigus eritematose
• Disko?ede lupus eritematose
• Sistemiese lupus eritematose
• Idiopatiese nasodigitale hiperkeratose
• Honde son dermatitis
• Kanker

Neus pioderma
Dit is ‘n bakteri?le velinfeksie (pioderma) wat ook sekondêr tot trauma (verwonding) of insekbyte mag wees.

Hondesiekte
Hiperkeratose (verdikking van die buitenste laag van die vel) van die neus is een van die tekens van hondesiekte.  Meer algemene tekens sluit in:  ‘n algemene velkondisie, koors, ooguitloopsels, hoes, moeilike asemhaling, diarree en selfs senuweetekens.

Kontak dermatitis (ontsteking van die vel)
Dit is ‘n allergiese reaksie na aanleiding van kontak met iets in die omgewing.

Pemfigus foliaseus
Dit is ‘n outoïmmuunsiekte (siekte waar die immunsisteem die dier se eie liggaam aanval) en is die algemeenste outoïmmuunsiekte wat in honde voorkom.  Die letsels begin gewoonlik op die brug van die neus, rondom die oë, en op die punte van die ore voordat dit meer algemeen versprei. Die volgende honderasse mag meer vatbaar wees:  Akitas, Chow Chows, Worshonde, Gebaarde kollies, Newfoundlands, Doberman Pinschers, Finnish Spitz en Schipperkes.

Pemfigus eritematose
Dit is ‘n meer goedaardige vorm van pemfigus foliaseus.  Kom algemeen voor in Duitse herdershonde, Kollies en Shetland skaaphonde.

Disko?ede lupus eritematose
Dit kom algemeen voor in honde en is vermoedelik ‘n outoïmmuunsiekte wat deur sonlig vererger word.  Slegs die vel, en hoofsaaklik die neus word geaffekteer.  Dit kom hoofsaaklik in Kollies en Duitse herdershonde voor.

Sistemiese lupus eritematose
Dit is die ergste vorm van lupus siekte omdat dit die vel asook verskeie ander organe affekteer.  Die oorsaak sluit ‘n verskeidenheid van faktore in:  geneties; immunologiese abormaliteit; virusinfeksie; hormone; sonlig.  Velletsels kom mees algemeen op die gesig, ore en pote voor.  Dit mag meer algemeen in Kollies, Shetland skaaphonde, Poedels en Duitse herdershonde voorkom.

Idiopatiese nasodigitale hiperkeratose
‘n Kondisie waarvan die oorsaak nie bekend is nie en wat lei tot die uitermatige verdikking van die buitenste laag van die vel op die neus en/of die voetkussings. Dit kom algemeen in ouer honed voor.

Honde, son dermatitis
Herhaaldelike blootstelling aan sonlig kan lei tot dermatitis waar die areas met min hare, soos die neus en die nie-gepigmenteerde areas rondom die neus rooi en skilferig raak.  Dit mag lei tot die ontwikkeling van skubselkarsinoom (velkanker). 

Aangesien daar so ‘n wye lys van toestande is, moet ek aanbeveel dat u die boerboel na u lokale veearts neem vir verdere ondersoek en behandeling.

Verwysings:
1. Ettinger S J & Feldman E C. 2000. Textbook of Veterinary Internal Medicine. W.B. Saunders Company, USA
2. Hand, Thatcher, Remillard & Roudebush. Small Animal Clinical Nutrition 4th edition. Mark Morris Institute, USA.
3. Medleau L and Hnilica K A. 2001. Small Animal Dermatology A color Atlas and Therapeutic Guide. W.B. Saunders Company, USA.
4. The Free Dictionary by Farlex [website].  Available from http://medical-dictionary.thefreedictionary.com, as accessed on 26 June 2009.

Geskryf deur:  Dr. Sunelle Strydom (BVSc)

15 Julie 2009


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X