Vra vir Faffa

Skoon water vir vee – beheer van alge en watergrasse

Vraag

Ek boer met beeste naby Vrede en sit veral die laaste paar maande met slyk in my stoordamme sowel as my krippe. Ek het al water uitgetap en die krippe skoongemaak en weer gevul net om ‘n week of 2 later weer met vuil krippe te sit. Het u vir my raad of selfs produkte wat ek kan gebruik om die probleem op te los asb.?

Antwoord

Alge groei net in die teenwoordigheid van sonlig en plantvoedingstowwe soos fosfaat en stikstof. Alge be?nvloed die smaak en reuk van water, verstop pype en kan selfs toksies vir mens en dier wees. Beheer van alggroei in veesuipings is dus belangrik.

 
Jy kan na die volgende beheeropsies vir alge in stoordamme en suipkrippe kyk:
 
 
Die alge moet verkieslik reeds in die stoordamme aangespreek word.
 
  1. Chemiese beheer:
 
    1. Kopersulfaat (blouvitrioel) kan gebruik word teen ‘n konsentrasie van 2 gram per 1000 liter water in ‘n stoordam. ‘n 800 Liter krip kan met 1 gram kopersulfaat behandel word. Los eers kopersulfaatkristalle (H2SO4.5H2O) op in louwarm water voordat die oplossing in ‘n trog of dam gegooi word. Voer koperoplossing by die inloop van die dam in en versprei rondom die dam sodat deeglike vermenging plaasvind. Moenie die gewensde hoeveelheid kopersulfaatkristalle net so in die dam gooi nie. Los dit eers op in ‘n emmer met louwarm water en loop rondom die dam en gooi eweredig in die dam. Skape het ‘n laer toleransie vir koper as beeste. Wees dus maar versigtig as jy skape ook by hierdie krippe laat suip. Onthou koper is korrosief en sal mettertyd metaalkrane en ander metale laat roes. Koper kan visse laat vrek in die stoordam. Kopersulfaat sal heelwaarskynlik by jou plaaslike koöperasie beskikbaar wees. Kontak my as jy nie regkom daarmee nie.
 
    1. Waterstofperoksied (50 of 70% H2O2) kan ook gebruik word. Hierdie produk sal geen nadelike werking op jou vee hê nie en is baie effektief vir algbeheer. Jou koöperasie sal waarskynlik nie voorraad dra nie, maar Protea Chemicals op die Rand verkoop dit in 20 liter dromme.
 
    1. Jik (ongegeur) kan ook gebruik word vir algbeheer, maar sal waarskynlik duur uitwerk. Gebruik 25ml per 1000 liter water.
 
    1. Sinksulfaat kan gebruik word deur ‘n oplossing van 250 mg in 5 liter louwarm water op te maak. Dien 500ml van die oplossing per 1000 liter water toe.
 
  1. Biologiese beheer:Plaas ‘n baal garsstrooi in die stoordam. Garsstrooi skei ‘n verbinding af wat alggroei inhibeer. Resultate sal eers na sowat 6 weke tot ‘n maand sigbaar wees aangesien verbinding nie die alge dood maak nie, maar verhoed dat hul vermeerder. Alge sterf dus na 6 weke af en die nuwe generasie kan as gevolg van die teenwoordigheid van die inhibitor nie weer begin groei nie. Jou garsstrooibaal behoort die dam vir 6 maande en meer algvry te hou. Hierdie metode is uiteraard veilig vir jou vee met minimale koste. Garsstrooi sal in die Wes-Kaap en Vaalharts beskikbaar wees.
 
  1. Fisiese beheer: Jy kan ligindringing in jou stoordamme beperk deur 80% skadunet daaroor te span. Dit sal ook verdamping verminder en alggroei beperk.
 
  1. Meganiese beheer: Skrop jou damme minstens een keer per seisoen met ‘n kopersulfaatoplossing en laat die dam droog word voordat dit weer gevul word met water. Dien jou algbeheermiddel direk na opvulling toe en herhaal behandeling elke 5 tot 6 weke.
 
Geskryf deur: Kobus du Plessis (duplessisk@envirokonsult.co.za), Direkteur Envirokonsult (www.envirokonsult.co.za)
 
Dit blyk ook dat nie enige garsstrooi werk nie. Ek het in die verlede garssaad van daar onder (Suid-Kaap) "ingevoer" en verbou om uitsluitlik in eendedamme vir slykbeheer te gebruik. Dit het nie gewerk nie!! Alhoewel die een baal wat ‘n vriend vir my van die Kaap af gebring het voorheen baie goed gewerk. Die verskil blyk toe te wees dat ek die graan eers heeltemal ryp laat word het voor dit gestroop en die strooi gebaal is. In die Kaap word die gars blykbaar afgesny voordat dit heeltemal ryp is en in windrye laat lê voordat dit verder geoes word. Ons kollegas in die garsproduserende gebiede kan my dalk duidelikheid gee i.v.m. die korrektheid van die bewerings?
 
Geskryf deur: dr. Murray Smith, Reitz, Vrystaat.
 
Lees ook:
 
 
       Brakwater vir vee
 

Kommentaar

Kommentaar (6) “Skoon water vir vee – beheer van alge en watergrasse

  1. Louis Kruger
    Louis Kruger

    Kan kopersulfaat in huishoudelike swembaddens gebruik word. Tans gebruik ek Chloor elke 2de dag.

  2. Gerhard Minnaar
    Gerhard Minnaar

    Ek het ‘n rou sement swembad op die plaas. Kan ek kopersulfaat gebruk vir die alge? niks wil help nie en ek kan nie elke 3 de week nuwe water intap nie.

    • Jan Bezuidenhout

      Gerhard,
      Ek het gehoor dat dit werk! probeer en laat weet, asb.
      Groete

  3. Henry Badenhorst
    Henry Badenhorst

    Geagte Leser

    Met belangstelling gelees hoe om alge te beheer. Ek is nie n boer nie maar is woonagtig in Pretoria. Met n swembad wat maar nie wil regkom nie. Kan ek een van daardie middels gebruik? n Plaaskrip is een ding, n swembad n ander ding …. Kopersulfaat? Waterstofperoksied? JIK (!) Sinksulfaat?

    Hoop u kan my help

    Groetnis

  4. Didi Mus
    Didi Mus

    Kopersulfaat werk vir swembaddens! Los dit net eers op in louwarm water!

  5. Roslynne Strydom
    Roslynne Strydom

    Ek wil weet of daar ‘n vis is wat sal verhoed dat alge groei of wat dit sal beheer?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X