Vra vir Faffa

Skape verloor tande

Vraag

Ek het 6 uit 'n groep van 16 Dormer ooie wat een of meer tande verloor het. Die ooie is nie ouer as 5 jaar nie en loop hoofsaaklik op ou lande met kikiyu en kweekgras. Wat kan die oorsaak wees en hoe kan ek die probleem oplos?

Antwoord

Daar word nie aangetoon watter tande die diere verloor het nie.  So byvoorbeeld is die vroegtydige verlies van snytande in Engels bekend  as “broken mouth” en dit gee tot die gedwonge uitskot van hierdie diere op ‘n vroeë ouderdom aanleiding omdat sulke diere dan probleme ondervind om die gras af te byt. Te min inligting word egter verskaf om ‘n korrekte diagnose asook ‘n aanbeveling te maak.   Daar moet dus deur ‘n proses van eliminasie gegaan word om te bepaal of een of meer van die volgende faktore dalk ‘n rol gespeel het in die verlies van tande.

 

1 Vir die instandhouding van gesonde tande moet skape voldoende kalsium, fosfor en magnesium inneem omdat ongeveer 99 % van die liggaamskalsium; 80 % van die liggaamsfosfor en 70 % van die liggaamsmagnesium in die tande en bene van diere voorkom.  Die kalsium- tot fosforverhouding in tande is ongeveer 2.13:1 terwyl die kalsium- tot fosforverhouding in  kikoejoeweiding ongeveer 1:1.  Normaalweg het beide kikoejoe- en kweekweiding ‘n tekort aan kalsium vir vinnig groeiende diere asook vir laatdragtige en lakterende ooie.  Die kalsiuminhoud van die weiding kan egter deur die tipe grond asook bemesting beïnvloed word. Vir optimale diereproduksie behoort skape op kikoejoe- en kweekweiding ‘n lekaanvulling te ontvang wat voldoende deurvloeiproteïen en energie voorsien asook kalsium, fosfor en spoorelemente om gesonde tande te verseker. Geen melding word gemaak van enige byvoeding wat die skape ontvang nie.

 

2 Dit is algemeen bekend ‘n oormaat inname van fluoor tot tandprobleme en tandverlies aanleiding kan gee. Dit gebeur wanneer lekke ongefluorineerde rotsfosfaat bevat waarvan die fluoorinhoud te hoog is.

 

3 Boorgatwater kan soms ook ‘n bron van fluoor wees soos diep boorgate in spesifieke geologiese formasies en artesiese water asook waterbronne wat deur industrieë besoedel is. Drinkwater moet gereeld ontleed word en moet minder as 1 mg fluoor per liter bevat. Soos verdamping van drinkwater plaasvind, kan die konsentrasie van fluoor egter styg.

 

4 Industriële besoedeling van weiding met fluoor vind byvoorbeeld plaas deur industrieë soos aluminiumsmeltery asook fabrieke waar koper, glas, enamel, yster, staal en superfosfaat  verwerk word en dit kan ook tot te hoë fluoorinname aanleiding gee asook inname van fluoorbevattende gasse van die rook afkomstig vanaf hierdie industrieë. Daar is gerapporteer dat skape in Tibet, in die suidweste van China, hulle tande verloor het  as gevolg van die besoedeling van die weiding met fluoor deur ‘n nabye aluminiumsmeltery.

Indien die probleem nie opgelos kan word nie, kan hulle my direk kontak.

Geskryf deur :

Dr. Jasper Coetzee

Jasper Coetzee Consulting

Pr.Sci.Nat. (Anim.Sci.) Ph.D. (Agric.) Stellenbosch

Skaapvoeding- en Bestuurspesialis Konsultant

Professionele Veekundige (400328/83)

Adres: Posbus 12022, Die Boord, 7613

E-pos: jasperco@iafrica.com

Sel: 076 846 8800


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X