Vra vir Faffa

Skape sukkel met snotneuse

Vraag

"Ons is almal bly vir die baie reën, veld is groen en skape almal spekvet. Al die skape het egter snotneuse. Is dit 'n probleem en wat kan ek daaraan doen?"

Antwoord

Vraag:
Ons is almal bly vir die baie reën, veld is groen en skape almal spekvet. Al die skape het egter snotneuse. Is dit ‘n probleem en wat kan ek daaraan doen? – Eugene (eugfer@lantic.net)

Antwoord:
In die volksmond word die kondisie waar slymerige neusuitloopsels by skape en bokke voorkom, dikwels toegeskryf aan "neuswurm". Die irritasie word egter deur ‘n insek parasiet nl neusvlieglarwes veroorsaak.

Lewensiklus
Die volwasse vlieg het geen monddele nie, voed nie, plant slegs voort en vrek dan. Eerste stadium larfies word in en om die neusgate van skape en bokke gelê. Hierdie larfies is baie klein en kan skaars met die blote oog waargeneem word. Hulle kruip dan in die neusgange en kopholtes in waar hulle twee vervellings ondergaan en dan ontwikkel in die derde larfstadium. Hierdie larf het zebra strepe en is 20-30 mm groot en kruip dan uit die neusuit, boor in die grond en ontwikkel dan in ‘n papie waaruit die vlieg dan kruip. In die somer neem dit ongeveer drie weke vir die eerste larfstadium om tot die volgroeide derde stadium te ontwikkel en ‘n verdere drie weke vir die vlieg om uit die papie te kruip. In die herfs neem dit ongeveer twee maande vir die vlieg om in die papie te ontwikkel. Meeste van die larfies wat deur hierdie vlieë gelê word, oorwinter in die eerste stadium en sit eers hulle ontwikkeling voort in die lente. Waar die winter baie koud is, sal die papies wat gedurende April tot Augustus gevorm is, nie oorleef nie. Oorwintering in hierdie stadium is dus nie moontlik nie. Volwasse vlieë wat dus net voor die winter ontwikkel het, leef net vir een tot drie weke en geen nuwe larfbesmettings vind dus na Junie plaas nie. Die belangrikste om dus te onthou is dat die totale neusvliegbesmetting in die kouer wintermaande slegs in die skape se neusgange oorleef. In die warmer dele van die land kan die ontwikkeling reg deur die jaar geskied.

Effek op die gasheer
Ongeveer 80% van alle skape en bokke in die RSA is deur hierdie parasiet besmet en die besmetting is gewoonlik erger in skape. Gewigsverlies kom veral in groeiende diere voor en jong lammers wat besmet is, gekastreer word en wie se sterte afgesny word, verloor selfs meer gewig as lammers wat nie besmet is nie. Vuil neuse belemmer die reukvermoë van ramme tydens paartyd asook van ooie tydens die lamseisoen. Die mens kan ook ‘n ooginfeksie ontwikkel wanneer die vlieg ‘n larfie in die oog deponeer. Mediese behandeling moet so gou moontlik verkry word.

Beheer
In teorie behoort ‘n behandeling met ‘n effektiewe neusvliegmiddel in die middel van die winter, met die voorbehoud dat alle diere in ‘n gebied behandel word, tot ‘n groot afname in besmetting gedurende die lente te lei. Met die kennis wat ons vandag het oor die seleksie vir weerstandbiedende parasiete lei hierdie behandeling tot die seleksie vir weerstandige parasiete want die weerstandige parasiete oorleef en sal die volgende generasie uitmaak. Dit is dus baie meer sinvol om slegs diere of troppe met kliniese tekens te behandel. Behandeling aan die einde van Oktober sal die besmetting beheer wat aan die begin van die lente opgedoen is en ‘n behandeling in Maart sal die somerbesmettings onder beheer bring. Behandeling van lammers ‘n week of twee voor stertsny en kastrasie mag gewigsverlies voorkom. Behandeling van ramme voor paartyd en ooie voor lamtyd, sal die reukvermoë van die diere verbeter, wat verhoogde produksie tot gevolg sal hê. Ramme moet ooie op hitte kan ruik en ooie moet lammers kan ruik. In enkele gevalle na behandeling is gevind dat neuse nog vuil bly. By nadoodse ondersoek is dooie derde stadium larwes in die kopholtes gevind wat vassit en ‘n ontsteking veroorsaak het. Dit sou ‘n geruime tyd neem vir hierdie infeksie om op te klaar.

Middels vir neusvliegbeheer
Groep 1 Makrosikliese laktone bv Ivotan (G2858)
Groep 4 Salisielaniliede bv Nasalcur (G1831) en Tri-dose (G3103)
Groep 7 Organofosfate bv Unidose (G3078)
Daar is ook kombinasiemiddels op die mark wat Groepe 1 en 4 bevat.
Voorbeelde is: Fluxacur NF, 1 plus 2 (G3202) en Nem-A-Rid, 3 plus 4 (G3548)

 

  • Geskryf deur: Dr. Faffa Malan, Intervet, ‘n deel van Schering-Plough

    26 Januarie 2008


Kommentaar

Kommentaar (2) “Skape sukkel met snotneuse

  1. joseph
    joseph

    Help met behandelng vn neus wurm


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X