Vra vir Faffa

Skape se wol val uit

Vraag

Wat kan ek doen as my skape se wol op die kop en dan op die nek en rug uitval?

Antwoord

Vraag:
Wat kan ek doen as my skape se wol op die kop en dan op die nek en rug uitval? – Johan (berlynfarm@hotmail.com)

Antwoord:
Wolverlies by skape is ‘n ernstige toestand aangesien dit geldelike verlies vir die boer inhou.

Seker die belangrikste parasitiese toestand wat wolverlies kan veroorsaak, is skaapbrandsiekte wat deur ‘n myt Psoroptes communis ovis veroorsaak word. Die myte is baie klein en witterig en kan skaars met die blote oog waargeneem word. Die myte byt deur die vel en voed op die limf wat uit die wondjies kom. Sug mag ook later voorkom en vorm korste. Inflammasie volg en veroorsaak erge irritasie. Skape krap hulself teen voorwepe en sodoende word wol verloor.

Hierdie siektetoestand is hoogs aansteeklik en is ‘n beheerde siekte. Veeartsenydienste moet onmiddellik in kennis gestel word en beheermaatreëls moet so gou moontlik ingestel word. Baie belangrik om te onthou is dat elke skaap op die plaas behandel moet word, want as een besmette skaap oorgeslaan word, begin die besmetting weer van voor af.

Middels wat gebruik kan word, is die inspuitbare makrosikliese laktone, bv. Ivotan, Intervet G2858 of dipmiddels soos die organofosfate bv. Zipdip, Intervet G381; die amidiene bv. Taktic Cattle Spray, Intervet, G2535. Twee behandelings 8 tot 10 dae uitmekaar word aanbeveel om te verseker dat al die myte dood is en sodoende te voorkom dat die siekte weer uitbreek. Die siekte kan deur een besmette skaap wat ingekoop word of deur skeerders of met die vervoer van diere in ‘n besmette trok op die plaas gebring word.

Nog ‘n kondisie wat ‘n skaap kan laat krap, is die jeukmyt Psorergates ovis. Die myte veroorsaak ‘n allegiese reaksie en laat die diere erg jeuk. Diagnose word gemaak deur velskraapsels op verskeie plekke op die lyf te neem en mikroskopies te ondersoek. Behandeling is dieselfde as vir Brandsiekte.

Luise
Twee soorte luise kom voor, nl. suigende of blou luise en bytende of rooi luise.Rooi luise wat op die oppervlakte van die vel op skilfers en bloedstolsels van wondjies voed, is ‘n groot probleem omdat hulle in almeer gebiede in Suid-Afrika weerstand bied teen sekere aktiewes. Rooi luise beweeg vinnig tussen die wol deur en is meer volop in die wintermaande wanneer diere se kondisie gewoonlik afneem en die wol langer is. Blou luise is bloedsuiers. Luise is gasheerspesifiek en kan nie lank weg van ‘n gasheer oorleef nie.Luise veroorsaak irritasie en diere byt wol uit en skuur hulself teen voorwerpe. Dit kan wolverlies veroorsaak.

Omdat daar soveel weerstandbiedendheid van veral rooi luise teen middels is, moet boere hulself vergewis van wat die toestand op hulle plaas is. Middels wat gebruik kan word, is organofosfate bv. Zipdip, Intervet G382; die piretroïde bv. Delete X5, Intervet G3279, of Delete, Intervet G2815, of Delete All, Intervet G2837 of Deltab, Intervet G2517; en die amidiene bv. Taktic Cattle Spray, Intervet G2535; en dan ook die insekgroeireguleerders soos Fleececare, Intervet G 1743. Hierdie groep middels verhoed dat die buitenste kitienlagie van die luise gevorm word en hulle sterf dan af.

Skaap luisvlieë of "keds"
Die parasiet Melophagus ovinus is eintlik ‘n vlieg sonder vlerke. Die luisvlieg kan met die blote oog gesien word (6 mm lank) en is ligbruin met ‘n ronderige voor- en agterlyf. Die monddele boor die vel binne en suig bloed. Die luisvlieg voltooi ook sy hele lewensiklus op die skaap. Luisvlieë beskadig die wol deur hul mis wat soos swart stippeltjies lyk. Skape jeuk en byt en skuur hulself. Dit kan wolverlies en vagversteuring veroorsaak. Middels wat geskik is vir luisbeheer kan gebruik word, maar omdat hul bloedsuiers is, sal die makrosikliese laktone groep bv. Ivotan, Intervet, G2858 hulle ook beheer.

Skaapbrommers
Die metaalkleurige brommers van die genera Lucilia en Chrysomyia is die belangrikste vlieë wat brommeraanvalle veroorsaak. Die vlieë word aangetrek deur reuke wat deur nat wol (vagvrot) afgegee word. Baie reën, uriene en diarree is belangrike oorsake. Skape met oormatige velvoue het ‘n sweterige reuk wat vlieë aanlok. Wonde veroorsaak deur bosluisbyte, steekgras, kastrasie en stertafsit lok vlieë om hul eiers daarin te lê. Die eiers broei uit en die larfies of maaiers wat uitbroei skei ensiemes af wat die weefsel verteer en hulle voed op hierdie vloeistof. Verdere brommeraanvalle vind nou plaas, die wond vergroot en larwes tonnel in die weefsel in. Indien die skape nie behandel word nie, kan vrektes voorkom.

Behandeling
Deur jare se gebruik van middels is daar geselekteer vir weerstandbiedende vlieë en boere moet weereens seker maak dat die middel wat hy gebruik, steeds effektief is. Middels wat gebruik kan word teen brommeraanvalle, is die insekgroeireguleerders bv. Fleececare, Intervet G1743. Die middels het ‘n lang nawerking en larwes wat uitbroei kom in aanraking met die aktief en as die larf na die volgende stadium toe vervel, kan die buitenste kitienlagie nie vorm nie en die larf vrek dan.
Organofosfate kan ook gebruik word om vlieë, sowel as maaiers te beheer, maar daar moet eers seker gemaak word of hierdie middel nog effektief is.
‘n Lokval wat die brommer aanlok en vang, Lucitrap, word deur NWKV versprei. (NWKV tel no 041-3655030)

Klontwol
Die kondisie klontwol word deur die bakterie Dermatophilus congolensis veroorsaak. Hierdie kondisie kom veral in nat, reënerige toestande voor. Klonte word op die wol gevorm a.g.v. die swamagtige groei van die organismes op die vel en wol. As die klont afgetrek word, is daar soms ‘n rou, bloeiende seer aanwesig. Wolverlies kom voor en harde klonte bemoeilik die skeerproses. Lammers wat in die reënseisoen gebore word, se wol word hard. Die klam wol gee aanleiding dat die hele rug, nek en selfs ore een harde kors word. Dorpers kan hul hele bedekking van wol en haar verloor weens klontwolbesmetting.

Behandeling
Behandel met antibiotika wat ‘n langwerkende tetrasiklien bevat, bv. Reverin LA, Intervet, G3442. Ligte infeksies kan behandel word met ‘n 1: 200 oplossing van ‘n kwaternêre ammonium-preparaat. Dip of handdresseer die skape en herhaal na 3 weke indien nodig.

Meganiese oorsaak
Waar wolverlies op die nek voorkom, dink mens heel eerste aan ‘n meganiese oorsaak. Waar skape by bakke staan en vreet en hul nekke teen die voerbakke skuur, kan die wol afgeskuur word.

Breuk in die wol
Wolbreuk word gesien as ‘n lokale swakheid in die treksterkte van die vesel. Toestande wat breuke veroorsaak, is voedingstoestande wat verander, bv. as van ‘n hoë voedingspeil na ‘n lae een verander word. Dit vind dikwels in die lente en herfs plaas. Verder kan enige koorsreaksie soos by Bloutong, longontsteking, blou-uier en vrotpootjie ‘n breuk in die wol veroorsaak. Dele van die vag kan selfs afval.

Genesing van wonde kan ‘n kaal kol veroorsaak, bv. ‘n sweer veroorsaak deur Corynebacterium.

 

  • Geskryf deur dr. Faffa Malan en Johannes Klopper, NWKV Produksie-adviseur, Hoëveld-streek.

    20 Maart 2006


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X