Vra vir Faffa

Skape blok teen hartwater

Vraag

Ons boer met stoet Skilder-Persie skape in die Karoo waar min bosluisverwante siektes voorkom. Volgende jaar wil ons deelneem aan ? veiling te Pretoria wat Noordwes, Limpopo en Mpumalanga dek. Die afslaers beveel aan dat ons die skape voor die veiling moet ‘blok’ vir hartwater en ander siektes. Hoe moet ons te werk gaan?

Antwoord

Wees baie versigtig om skape of bokke teen hartwater te ent omdat die “entstof” weliswaar nie ‘n gewone entstof is nie. Dit bevat lewende en gevaarlike organismes wat baie diere sal kan doodmaak as hulle nie gereeld (daagliks) vir temperatuurstyging getoets word nie. Die entstof moet op droë ys bevries gehou word en net voor inspuiting (net in die aar) ontdooi word. Indien hulle reageer, moet diere met die regte tetrasikliene behandel word en weer dopgehou word om vas te stel dat hulle veilig is. Soms moet die behandeling herhaal word.

 

Aangesien die proses van hartwaterenting moeilik, gevaarlik en vol moontlike komplikasies is, word dit sterk aanbeveel om die situasie en program deeglik saam met ‘n plaaslike veearts te beplan en uit te voer. Die voordeel daarvan is dat die veearts dan vir raad beskikbaar is en om stiptelik enige verdere maatreëls voor te stel soos probleme opduik.

 

 

Die term “blok” word gewoonlik gebruik om die beheersisteem aan te dui waar diere in bestaande, gevaarlike hartwater gebiede met kort tussenposes voor die voet almal voorkomend behandel word.

 

In hierdie geval kan die skape met aankoms met ‘n tetrasiklien teendie  hartwaterparasiete geblok word en wat na 5 dae herhaal word. As die diere dalk weer na die plaas teruggebring word kan hulle weer geblok word.

 

Skape kan ook met ‘n opgietmiddel wat geregistreer is teen bosluise voorkomend behandel word deur die middel op die pote , onder die stert en op die kop aan te wend.

 

Wat ander entings betref, behoort die lys ook met die afslaers en die plaaslike veeartse eers bespreek te word. Ons kan nie sê dat die diere “teen alle siektes ingeënt is” nie. Dit kan baie misleidend wees.

 

Geskryf deur: prof. Gareth Bath, kleinveekonsultant (gareth.bath@up.ac.za) en prof. Ken Pettey, Fakulteit veeartsenykunde (ken.pettey@up.ac.za)

 

13 Desember 2012


Kommentaar

Een kommentaar op “Skape blok teen hartwater

  1. George Enslin
    George Enslin

    Ek lees daar word geskryf ” die regte tetrasikliene”, wat word met die’ regte bedoel? Ek het gedink as dit se tetrasikliene is dit tetrasikliene.Groete George


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X