Vra vir Faffa

Skaapvoerkrale verg goeie bestuur

Vraag

Watter bestuursmaatre?ls word benodig in ‘n skaapvoerkraal?

Antwoord

Skaapvoerkrale verg goeie bestuur

Dit kan voordelig wees om skape in ’n voerkraal af te rond. Trap jy egter nie versigtig nie, kan groot verliese jou voorland wees, waarsku die kenners.

Die afronding van beeste in voerkrale is ’n algemene praktyk in die land. In die geval van skape is daar egter betreklik min inligting beskikbaar en moet boere hulle meestal tot veevoervervaardigers en die internet wend om meer daaroor te wete te kom. Om daardie rede is ’n inligtingsdag onlangs by die Landboukollege Grootfontein, Middelburg (Oos-Kaap), gehou waar kenners op die gebied oor die fyner kunsies gepraat het.
Die prys van die voer en die aankoop- en verkooppryse van die vee, asook dieregesondheid is van die belangrikste faktore wat die verskil tussen wins en verlies kan beteken.
Mnr. Renso Nel, die veevoermaatskappy Molatek se verkoopsbestuurder vir die suidelike streek, sê deur skape in ’n voerkraal te sit, kan weiding bespaar word. Meer ooie kan dus vroeër gepaar word, aangesien hulle gouer die ideale liggaamsgewig sal bereik. Waar die diere vir die mark in ’n voerkraal afgerond word, kan beter gradering en swaarder karkasse te wagte wees.
Lammers presteer gewoonlik beter as ou ooie in die voerkraal. Hoe jonger die lammers is, hoe beter is die groeitempo en voeromsetting. Hoewel vleis- en woltiperasse oor die algemeen beter as wol- en vetstertrasse vaar, is kruisskape se groeitempo vinniger en gebruik hulle dus minder voer om die verlangde gewig te bereik. Ramlammers kan tot 26% vinniger as ooi- en hamellammers groei.
Die wins sal ook beïnvloed word deur die aankoopprys van lammers of, waar die boer sy eie lammers in die voerkraal sit, deur die produksiekoste daarvan. Die prys waarteen die lammers bemark word, uitslagpersentasie, voeromsettingsverhouding (VOV) en vrektes in die voerkraal speel ook ’n deurslaggewende rol in hierdie verband. 
Dr. Willem Schultheiss, herkouerspesialis van die dieregesondheidsmaatskappy Intervet Schering-Plough, sê die feit dat soveel vee van verskillende oorsprong op ’n betreklik klein oppervlakte aangehou word, maak ’n voerkraal ’n teelaarde vir dieresiektes as die boer nie die nodige voorsorg tref nie. Kripspasie (1 m per 12 lammers), staanspasie (10 m x 20 m vir 120 lammers) en voldoende skaduwee (0,3 m² per lam) is noodsaaklik vir dierewelsyn. Die boer moet minstens agt liter skoon drinkwater per lam toelaat en waterkrippe elke dag skoonmaak.
Voerkripbestuur is uiters belangrik in die voorkoming van die twee belangrikste siektes in skaapvoerkrale, naamlik bloednier en pasteurellose (longontsteking). Na gelang van die weerstoestande en vreetgedrag van skape, kan sowat 30% van die daaglikse voerkwota soggens vir die diere uitgesit word. Teen 12:00 moet die krippe egter leeg gevreet wees. Daarna kan die res van die rantsoen uitgesit word. Die gevaar van subkliniese asidose kan egter verminder word deur meer voedings per dag uit te sit en ruvoer beskikbaar te stel.
Die oneweredige of selektiewe inname van voerrantsoene waarvan die veselpartikellengte nie kort genoeg is nie, kan tot opblaas en suurpens asook rumenitis (’n ontsteking van die grootpenswand) van diere lei. Kroniese subkliniese suurpens lei tot ’n tiamientekort.
Die dag as die diere in ’n voerkraal ingeneem word, moet hulle teen bloednier en pasteurellose geïmmuniseer word. ’n Boer wat sy eie lammers in die voerkraal sit, behoort die vee vier weke voor inname teen bloednier en pasteurellose in te ent en met inname moet hy al twee behandelings herhaal.
Lammers wat oningeënt of eenmalig ingeënt is, kan ongesiens longontsteking opdoen. Sommige kan sonder behandeling in die voerkraal herstel, maar die longletsels wat by die slagplaas gevind word, sal vir aansienlike verliese in groei en uitslagpersentasie verantwoordelik wees. Behoorlike inenting sal help om dít te voorkom, sê Schultheiss.  
Ander siektes wat meestal in voerkrale voorkom, is vrotpootjie en sweerklou waar die oppervlak modderig is. Oogsiektes kom meer voor waar daar stowwerige, winderige toestande is, asook waar las met insekte en vlieë ondervind word. Rektale prolapse kan ook redelik algemeen voorkom. Hoewel daar nie bo alle twyfel vasgestel is wat dit veroorsaak nie, kom dit meer algemeen voor by diere waarvan die sterte te hoog afgesit is en waar lammers gereeld hoes as gevolg van stowwerige voer. Blaasontsteking asook hoë stikstof- en fosfaatvlakke in die rantsoene verhoog die risiko vir blaasstene.
Dr. Shaun Morris, ’n spesialis-voerkraalkonsultant van Johannesburg, sê die belangrikheid van ’n goeie doseerprogram en dieregesondheid in voerkrale kan nie oorbeklemtoon word nie. “Ons het hierdie jaar oneindig probleme met haar- en bankrotwurm gehad. Van die skape wat ingeneem is, het ná 70 dae in die voerkraal net 5 kg opgetel. Weens die nat toestande was koksidiose vanjaar ook ’n ernstige probleem.”    
Schultheiss stem saam dat waar waterbakke lek of die grond nie goed gedreineer is nie, koksidiose probleme sal skep. ’n Onderliggende tekort aan sink en vitamien A kan, naas die verswakking van die immuunstelsel, ook die uitbreking van vuilbek (orf) aanhelp. Dit sal groei vertraag omdat diere met dié siekte nie na wens sal vreet nie.
Wolskape behoort eers nadat hulle in die voerkrale aangepas het, geskeer te word. Indien die boer hulle onmiddellik ná aankoms skeer, vererger die stres saam met die reeds lae bloedsuikervlakke. Die gevolg is dan dat hulle nie goed op die entstowwe reageer nie. Die boer moet skaapskêre ontsmet na elke skaap wat klaar geskeer is en die diere dadelik behandel om sponssiekte te help voorkom. Pas geskeerde skape het ’n hoër voerinname en beter voeromsetting.
Dr. Johan van Rooyen, staatsveearts verbonde aan die Landboukollege Grootfontein, sê hoewel voerkrale gewoonlik met die vetmesting van diere vir die mark geassosieer word, is daar nogtans op baie plase reeds kampies en klein voerkraaltjies waar boere dragtige tweelingooie en jong ooitjies aanhou om beter te lam. Dit is ook ’n manier om van prulle ontslae te raak.
Boere kan baie van die probleme in voerkrale uitskakel deur goeie krip- en rantsoenbestuur toe te pas. Toegang tot skoon, koel water is noodsaaklik en die waterbakke moet ongeveer 300 mm van die grond wees. Die diere moet mekaar ook nie verdring by die krip waar die voer uitgesit word nie, aangesien die nie-dominante skaap dan minder voer sal vreet. Hoe groter die ruimte tussen skape is, hoe rustiger sal hulle wees.
Die ideaal is om lammers in die omgewing van die voerkraal aan te koop. Dit sal vervoerkoste spaar. Diere wat nie te ver vervoer hoef te word nie, is ook minder aan stres blootgestel.
Nel sê diere wat ingekoop word, kan skraal wees, maar moet darem ook nie brandmaer wees nie. Vermy boepenslammers, aangesien hulle nie in die voerkraal gaan presteer nie. Waar ’n groot aantal diere in die voerkraal is, moet die boer ’n groep (10% tot 20% van die totaal) merk. Hy behoort die merkergroep daagliks te weeg om hul groei te monitor.
Dit is onekonomies om diere te lank te voer. Boonop sal dit net oormatige vetneerlegging tot gevolg hê. Ideaal gesien behoort lammers tussen 25 kg en 30 kg te weeg as hulle in die voerkraal gesit word. Hulle behoort binne 60 tot 80 dae ’n bemarkingsgewig van 42 kg tot 50 kg te bereik.
Van Rooyen sê voldoende skaduwee in voerkrale is belangrik, aangesien die diere as gevolg van die hoë voerinname van baie hitte ontslae moet raak. Die skaap koel af deur warm, vogtige lug uit te asem en koel lug in te asem. Sou die omgewingstemperatuur te hoog wees, sal die diere dus nie behoorlik afkoel nie. Hulle sal gevolglik meer water drink en minder voer vreet.
Lammers wat voor die tyd met kruipvoeding gekondisioneer is, sal gouer in die voerkraal aanpas. ’n Hoëgehalte-rantsoen vir die eerste paar dae tydens die aanpassingstyd is ononderhandelbaar. Die veearts, voedingkundige, veekundige, genetikus, boekhouer en ouditeur is almal net so belangrik as die werkers wat die besluite op die plaas moet uitvoer. Swak skape kan nie rég gevoer word nie.
Van Rooyen sê dit is belangrik dat ’n boer ’n voerkraal nie te naby aan die woonhuis moet oprig nie sodat hy nie met reuke en vlieë opgeskeep sit nie. Hy moet dit verkieslik aan die noordelike of oostelike kant van die plaasopstal plaas. Na gelang van die reënval, behoort die helling van die grondvlak 2% tot 5% weg van die slaapgebied te wees. Die skape sal altyd die hoogste punt as slaapplek kies. ’n Heuweltjie in die middel van die kraal is veral geskik vir skape en bokke.
Die kraaloppervlak moet nie te sanderig of te kleierig wees nie. Waak veral teen stowwerige toestande, wat die teelaarde vir oog- en longsiektes is. Skadunette of verkieslik sinkplate moet hoog genoeg wees sodat die skape gedurende warm dae steeds koel kan bly. Windbreke moet minstens 2 meter hoog wees om dié doel te dien.  
Die afloop uit voerkrale moet so geskied dat dit nie ander waterbronne op die plaas sal besoedel nie. Die hekke moet wyd genoeg wees sodat ’n trekker met ’n damskrop daardeur kan gaan om van tyd tot tyd die krale skoon te skrop.
Die boer moet ook die toegangspaaie goed onderhou.
Kompos, pleks van mis wat net op ’n hoop gegooi word, word aanbeveel.
Van Rooyen sê tesame met die volvoerrantsoen behoort hooi, wat verkieslik in ’n hooirak geplaas word, beskikbaar te wees. Ronde selfvoerders is beter as dié wat vierkantig is. Enige drade of skerp kante van geroeste voerbakke kan die diere beseer.
Daar moet ook ’n kraaltjie wees wat as siekeboeg dien. ’n Verbrandingsplek vir enige biologiese materiaal en plastieksakke wat nie weer gebruik word nie, is ook nodig. Skep ook ’n klein sementblad met ’n afvoerpyp na ’n septiese tenk. Diere wie se swere oopgesny word, kan daar met ’n tuinslang skoongespuit word. 
Boere behoort nie siek skape ná behandeling weer in die voerkraal terug te sit nie. Hulle moet die diere liewer apart hou totdat hulle bemark word.
Hulle moet gereeld mismonsters neem en dit vir eiertellings ontleed. Dit is noodsaaklik dat hulle nadoodse ondersoeke doen op enige dier wat vrek.
Boere moet skape met inname in ’n kwarantyngebied doseer en vir drie dae daar hou om te voorkom dat hulle wurmeiers in die voerkraal uitskei. ’n Boer moet alle skape wat hy inneem deur ’n voetblad jaag om bosluise en vrotpootjie te bestry.
Van Rooyen sê dat die handel en verbruikers al hoe meer naspeurbaarheid vereis. Boere kan oorplaatjies gebruik om diere individueel te identifiseer. Waar die boer skape inkoop, moet hy ook aanteken by watter boer dit gekoop is.
Daar is deesdae groot teenkanting teen die gebruik van hormoonstimulante. Daar is tans net enkele van die middels wat aanbeveel word om groei te stimuleer.
“Diereregtegroepe se invloed raak al hoe groter. Sorg dat jy die voerkraal goed bestuur – gelukkige diere is ook dié wat die meeste geld in jou sak sal sit,” sê Van Rooyen.
Al die deelnemers was dit eens dat waar boere die nodige voorsorgmaatreëls tref en hoogstaande bestuur toepas, daar ’n plek vir skaapvoerkrale in die land is.

Geskryf deur: Theuns Botha. Landbouweekblad

 
Hierdie artikel het in die Landbouweekblad verskyn
 
23 Julie 2010

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X