Vra vir Faffa

Skaapvoerkrale : Basiese bestuursbeginsels

Vraag

Ek begin ’n skaapvoerkraal en soek inligting oor hoe om so ’n voerkraal te bestuur.

Antwoord

‘n Skaap is nie ‘n klein bees nie en daarom is ‘n skaapvoerkraal ook nie dieselfde as ‘n beesvoerkraal nie. Skape se behoeftes in ’n voerkraal verskil van die van ’n bees. Sukses met intensiewe groei- en afrondingsisteme in lammers begin by korrekte fasiliteite wat die behoeftes en gedrag van skape in ag neem. In ’n intensiewe produksiestelsel wat skape van verskeie oorsprong en ouderdomme mag bevat, is die risiko vir verliese baie groter en is bestuur van uiterste belang om ’n volhoubare netto wins te verseker.

 
Fasiliteite:
 
Basiese Kraalkonstruksie-inligting:
Area/skaap:                              1,5-2,5 m2
Skaduwee:                                0,3-0.5 m2/skaap. Kraalligging oos-wes vir maksimum teenwoordigheid van skaduwee, met die helling weg van die skaduwee
Krip spasie:                               Aanpassing: 250mm/ skaap; Afronding: 100mm/skaap. Geen selfvoerders nie.
Water voorsiening:                     8-10 liter koel, skoon water sonder ’n stoflaag daarop/ skaap/ dag. Lammers drink meer tydens warm weer. Een balklep, waterdigte trog van 2.5m x 300mm deursnee, 30cm bokant grondoppervlak op ’n sement blad, is voldoende vir 100-200 lammers. Maak 2x per dag skoon.
Skape per kraal:                        50-100 is ideaal. Maksimum aantal is 200 per kraal 
 
Konstruksie van ’n kraal moet van so aard wees dat skape nie onderdeur die heinings kan kruip nie. Hulle moet ook nie in die voerbakke kan lê of daaroor spring nie. Skadunette moet in die middel van die kraal opgerig word vir maksimum gebruik van spasie. Raadpleeg die LNR vir meer inligting.
 
Tipe lam om te voer:
Merinolammers word minder suksesvol afgerond as volwasse Merino’s of hulle kruisings.  Dorperlammers is geneig om gouer vet te word en staan dus korter op voer. SA Vleismerino’s, Dormers en Döhne merino’s is ideale lammers om te voer..  Die lewende aanvangsmassa varieer van ongeveer 25-28kg en die finale lewende massa van tussen 35-45kg behoort binne 60-80 dae behaal te word (afhangende van ras en raamtipe). Lammers behoort skraal te wees sodat kompensatoriese groei maksimaal benut kan word. Die ideale karkasmassa is in die omgewing van 22 kg. Lammers met ’n swak voedingstatus en met parasietladings (‘boepenslammers’) groei swak. Volwasse skape behoort nie langer as 30 dae te neem om af te rond nie.   
 
Basiese prosesering:
Skape kom die voerkraal binne vanaf 2 maande ouderdom en word dan vir ongeveer 40-80 dae (afhangende van ouderdom, ras, rantsoene en groeibevorderaars) gevoer voor hulle markgereed is. Dehidrasie van ongeveer 5% by aankoms kan verwag word as skape vir langer as 24-36 uur vervoer word. Voorsien dus skoon, koel drinkwater ad. lib.
 
Skeer:               As lammers korter as 6 maande wol het, kan hulle aan die einde van die voerperiode geskeer word. Wol langer as 6 maande moet geskeer word. Skeer kan produksie verbeter met tot 15%
 
Weeg:               Weeg na hulle geskeer is, word gedoen om die aanvangsmassa van al die diere te bepaal.
 
Entings:             Inentings teen bloednier en pasterellose by ontvangs is essensieel. Voorbeeld van ’n entstof om te gebruik is Multivax-P Plus (G3694 Wet 36/ 1947) wat help om beskerming teen beide hierdie toestande te verleen. 
 
Vitamien A:       Inspuiting binnespiers help met slymvliesintegriteit as eerste linie van verdediging teen siektes  
 
Ontwurming:     Gebruik ’n breë spektrum middel met aankoms. Maak seker dat ’n middel gebruik word wat lintwurms en bruin maagwurm ook behandel. ’n Voorbeeld is Nem-a-Rid (G3548 Wet 36/ 1947) of Ivotan (G3393 Wet 36/ 1947) wat uitbreke van jeukmyt en skaapbrandsiekte voorkom.  
 
Groeistimulant: Ralgro Skaap (G1802  Wet 36/ 1947) is beskikbaar. Dit behoort tot 10%  verbeterde groei tot gevolg te hê.
 
Voetbad:           10% Sinksulfaat (ZnSO4) by ontvangs. Dit help met die voorkoming van voetabsesse en vrotpootjie.
 
Voeding en Voedingsbestuur
 
Foute in rantsoensamestelling en die meng van volvoere asook kripbestuur kan betekenisvolle verliese tot gevolg hê.  ’n Goeie totale gemengde rantsoen (volvoer) moet gevoer word en dit is noodsaaklik om ’n voedingskundige in hierdie verband te raadpleeg. Skape is baie selektiewe vreters en is geneig om die konsentraat uit te soek en te vreet, wat lei tot dermkanaalprobleme soos asidose. ’n Goue riglyn is om nie meer as 70% konsentraat by die rantsoen in te sluit nie.
 
Dit is baie belangrik dat skape deur ’n aanpassingsperiode gaan. Die effek van stres is baie meer duidelik in skape vergeleke met beeste, wat hulle dan meer vatbaar maak vir enige veranderinge in hulle omgewing.  Die geringste variasie in hulle omgewing kan ’n groot invloed op hulle voerinname en voeromsetvermoë (VOV) hê. Die lengte van die aanpassingsperiode word bepaal deur die tipe voere en rantsoene wat beskikbaar is. Raadpleeg ’n voedingskundige in hierdie verband. ’n Voorbeeld van ’n aanpassingsprosedure word in die volgende tabel gegee:
 
 
Dag
Daaglikse hoeveelhede van ’n volledige, konsentraatryke dieet met die nodige byvoegsels
Ruvoer
1
Geen
Ad. lib.
2
200g (100g soggens en 100g smiddags)
Ad. Lib
3
300g (150g soggens en 150g smiddags)
Ad. lib.
4
400g (200g soggens en 200g smiddags)
Ad. Lib
5
500g (250g soggens en 250g smiddags)
Ad. Lib
6
600g (300g soggens en 300g smiddags)
Ad. Lib
7
700g (350g soggens en 350g smiddags)
Ad. Lib
8 tot mark gereedheid
Vermeerder rantsoen inname met 100g daagliks totdat diere voerreste oorlaat. Hou vol met hierdie peil en vul slegs aan as alle kos opgevreet word
Staak ruvoer byvoeding vanaf dag 8
 
Daar is verskeie sisteme wat gebruik word vir die aanpassingsperiode en dit sal verskil van kraal tot kraal. Aanvanklik bestaan dit uit ’n hoë ruvoer en lae konsentraat dieet waarna konsentraat geleidelikverhoog word tot die gewenste konsentraat : ruvoer verhouding van ongeveer 70:30 bereik word – ’n vlak waar die hoogste GDT kan realiseer sonder dat oormatig vet aangesit word. Die vesel partikel lengte moet verkieslik nie 1cm oorskry nie om selektiewe inname van konsentrate te voorkom.
 
Rantsoenbyvoegsels wat noodsaaklik is vir voerkraallammers, is onder andere die volgende:
Ammoniumchloried:                   Verlaag die pH van urine, wat dan die kanse van blaasstene (“pisgoed”) vorming verlaag.
 
In-voer antibiotika (selektief):     Tetrasiklienes word meestal ingesluit in gevalle waar slegte weersomstandighede tydens ontvangs heers. Antibiotika verander rumenflora en sodoende verbeter dit die VOV. Help ook om die insidens van aansteeklike keratitis en longontsteking te verlaag. (Probeer om nie langer as 10 dae aaneen te voer nie). Raadpleeg ’n veearts.
 
Ionofore (lasalosied):                 Verbeter VOV en verhoog uitslagpersentasie met 3-5% en help met die beheer van koksidiose. Saam met rumenbuffers (koeksoda) help dit om asidose te voorkom.
 
Verbyvloeiproteïen:                    Indien kostes dit toelaat kan tot 30% van die totale dieet ruproteïen uit verbyvloeiproteïene bestaan.
 
Kalsium tot fosfor verhouding (Ca : P)      Behoort 1,2 : 1 te wees. Dit is belangrik dat die fosforkonsentratsie in die rantsoen nie 0.35% op ’n vog-vrye basis sal oorskry nie anders verhoog die risiko vir blaasstene
 
Vog:                                         Droë, fyn, stowwerige rantsoene behoort vermy te word omdat skape nie hulle neuse kan skoonlek soos beeste nie. Aanhoudende hoesbuie a.g.v. stof dra ook by tot rektale prolapse. ’n Klam rantsoen (30-50% vog) neig om smaakliker te wees en verhoog innames. 
 
Mees algemene siektetoestande wat by skaapvoerkrale kan voorkom:
 
Voorbeelde is bloednier, longontsteking (stof, stres), opblaas en suurpens, inflammasie van die grootpens, Vit B1 tekort (kroniese laegraadse suurpens), blaasstene, koksidiose (voorkom lekkende waterbakke), ooginfeksies (vliegbeheer is noodsaaklik) en rektale prolapse. Wanneer ’n mens by gesonde voeding-, behuisings-, gesondheid- en bestuursriglyne hou en kwaliteit lammers inkoop, behoort die risiko vir probleemtoestande tot die minimum beperk te word.  Raadpleeg ‘n veearts vir ’n gesondheidsplan en ook om ’n diagnose te maak sou probleemtoestande voorkom.
 
Maak seker dat u bewus is van al die koste- en prysstrukture alvorens u besluit om skape in ‘n voerkraal af te rond. Haastige, onoordeelkundige besluite is duur.
 
Verwysings:
 
Anon. 2010 Grootfontein Skaapafrondingssimposium. 14 April 2010.
Schultheiss W.A. 2000 VET 300 kleinvee notas, UP.
 
Geskryf deur: Dr. Pierre Jansen van Vuren, Intervet/Schering-Plough Dieregesondheid (pierre.jansen.van.vuren@sp.intervet.com)
 
20 Februarie 2011
 
Lees ook:
 
 
 

Kommentaar

Kommentaar (2) “Skaapvoerkrale : Basiese bestuursbeginsels

  1. Robert Skinner
    Robert Skinner

    Baie insig gewend. Waar kan ek meer inligting aangaande skape bekom.

    Groete

    Robert Skinner


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X