Vra vir Faffa

Skaapbrommers

Vraag

Ek soek inligting oor onsuiwer in skape.

Antwoord

Brommers word in 3 subfamilies, nl. die Calliphorinae, Chryomyinae en Sarcophaginae ingedeel en kan gerieflikheidshalwe in 2 groepe geskei word: die metaalkleurige vlieë wat groen, blou of pers van kleur is en die nie-metaalkleurige vlieë wat dofgrys, geelbruin of swart vertoon. Die wyfies van die meeste soorte lê eiers, maar Sarcophaga haemorrhoidalis is larfbarend. Sommiges teel onder natuurlike omstandighede in mis of ontbinde karkasse, maar mag ook hulle eiers op lewende diere lê. Die ontwikkelende larwes wat op die gasheer se weefsels of op sy voedsel teer, veroorsaak die siektetoestand bekend as miase.

Metaalkleurige Calliphoridae-vlieë en dan spesifiek die skaapbrommers.

Die metaalkleurige brommers wat aan die genera Lucilia en Chrysomyia behoort, is die belangrikste van die soorte wat miase by skape veroorsaak. Hulle kom orals in Suid-Afrika voor.

Gashere: Skape

Lewensiklus: Die volwasse vlieë voed op vervloeide proteïene en die nektar van sekere plante. Die proteïene word deur die wyfies vir die rypwording van hulle eierstokke benodig en die beskikbaarheid of nie-beskikbaarheid  daarvan het ‘n groot invloed op hulle vrugbaarheid. Die aantal larwes, asook hulle ontwikkeling, is afhanklik van die hoeveelheid proteïen teenwoordig. Onder natuurlike omstandighede word dit van ontbindende karkasse of van lewende diere verkry.

Brommersoorte:

 

Lucilia cuprina – die groenskaapbrommer

Die volwasse vlieg is middelmatig groot (gemiddeld 8-10 mm lank) en blinkgroen van kleur met ‘n koperskynsel. Die oë is rooibruin gekleurd en die pote swart behalwe die femurs van die eerste paar pote, wat ‘n kenmerkende blinkgroen kleur vertoon.

Hierdie is die belangrikste van die skaapbrommers en kom oral in Suid-Afrika voor. Onder sekere omstandighede sal dit lewende skape aanval.

 

L. sericata – die Europese groenskaapbrommer

Lyk baie soos L. cuprina, maar het eweredig swartgekleurde pote. In Suid-Afrika word dit algemeen in stedelike gebiede aangetref, maar is skaars in plattelandse diistrikte.

 

Chrysomyia chloropyga – die koperstertskaapbrommer

Hierdie vlieg is effens groter as die groenskaapbrommer en word maklik uitgeken aan die brons-groen kleur van die laaste 2 abdominale segmente, wat ‘n skerp kontras vorm met die blou van die toraks en die res van die abdomen. Dit het ook ‘n kenmerkende omegavormige merk op die eerste torakale segment net agter die kop. Dit sal ook lewende skape aanval.

 

Chrysomyia albiceps – die gestreepte groen brommer

Hierdie vlieg is groen van kleur met ‘n donker streep om elke abdominale segment. Die pote is rooibruin tot swart van kleur. Die gestreepte groenbrommers sal lewende diere nie eerste aanval nie, maar lê hulle eiers op skape wat reeds besmet is en die harige larwes vergroot die wonde wat reeds teenwoordig is.

 

C. marginalis – die bloubrommer of “bloubottel”

Hierdie brommer is groot, lomp en luidrugtig en blougroen tot donkerblou van kleur met swart rante aan die voorkante van die vlerke. Dit is baie groter as die ander brommers en het ‘n geel gesig en rooibruin oë. Bloubrommers val nie lewende diere aan nie, maar speel ‘n belangrike rol as mededingers vir enige beskikbare ontbindende karkasse.

 

 

Teelgewoontes van brommers in karkasse

Etlike honderde tot 1 000 of meer eiers word, afhangende van die brommersoort, in karkasmateriaal gelê. Hulle broei onder gunstige klimaatsomstandighede binne 8-12 uur uit, alhoewel die uitbroeiing in koue weer met 3 dae  vertraag kan word.  Die klein maaiertjies is aktief sodra hulle uitbroei en begin onmiddellik voed. Hulle vervel 2 keer en kan binne 3 dae die finale larfstadium bereik waarna hulle die teelmedium verlaat om in die grond papies te vorm. Die papiestadium kan in die somer binne 8 dae voltooi word, maar mag gedurende die winter etlike maande duur. Die volwasse vlieë leef vir ‘n maand en kan ook soos papies oorwinter.

Verskillende brommersoorte word in ‘n definitiewe volgorde gedurende die verskeie fases van ontbinding van die materiaal na ‘n karkas gelok en word daarvolgens ingedeel.

Primêre vlieë, wat gedurende die vroeë fase van outolitiese en bakteriese ontbinding na ‘n karkas gelok word, sluit L. cuprina, L. sericata, C. marginalis en C. chloropyga in. Die maaiers van hierdie brommers staan bekend as “gladde larwes” weens die feit dat hulle ‘n gladde liggaam het wat slegs op die laaste segment vlesige uitsteeksels het.

Sekondêre vlieë word gedurende die daaropvolgende vervloeiingsfase van die materiaal aangetrek. Die vervloeiingsfase word aangehelp deur die primêre larwes wat reeds teenwoordig is deurdat hulle proteolitiese ensiemes afskei wat die medium tot ‘n dik sopagtige massa omskep. Die maaiers van die sekondêre vlieë, waarvan C. albiceps die belangrikste is, staan as “harige larwes” bekend omdat hulle doringagtige vlesige uitsteeksels met klein steeksels op meeste van die liggaamsegmente dra.

Tersiêre vlieë volg wanneer die karkas begin uitdroog en is net as mededingers vir die beskikbare voedingstof belangrik.

Die teenwoordigheid van duisende maaiers van die verskillende brommersoorte lei tot kompetisie vir die beskikbare voedsel. Die kannabalistiese larwes van C. albiceps aas op die larwes van die ander soorte sodat, wanneer die sekondêre vlieë die kompetisie betree, daar relatief min eiers en larwes van L. cuprina en die ander soorte oorbly om tot volwassenheid te ontwikkel. Die groot larwes van die bloubottel, C. marginalis, ‘n primêre vlieg wat gedurende die warm somermaande aktief is en net in ontbindende karkasse teel, speel egter ook ‘n groot rol as mededingers aangesien hulle ‘n sterk afweringsaksie op die larwes van die ander primêre soorte uitoefen. Die teling van L. cuprina in karkasse mag gedurende die somer heeltemaal deur C. marginalis  verhoed word met die gevolg dat eersgenoemde gedurende hierdie tydperk slegs op lewende diere met sukses kan teel.

Gedurende die winter, wanneer C. marginalis onaktief is, kan L. cuprina weer in karkasse teel en groot bevolkings papies word in die grond opgebou vanwaar die volwassenes in die lente te voorskyn kom.

Aanvalle van brommers op lewende skape

L. cuprina is in Suid-Afrika die belangrikste primêre brommer wat aanvalle op lewende diere sal loods. Hierdie brommer mag vir 90% van die aanvalle verantwoordelik wees, terwyl C. chloropyga waarskynlik die oorblywende 10% veroorsaak. Die aanpassing van brommers om op lewende skape te teel, is ‘n probleem wat saam met die wolbedryf ontwikkel het en gelei het tot die ontstaan van stamme wat lewende skape eerder as ontbindende karkasse verkies. Aanvalle word nie bloot toevallig op skape geloods nie: die vatbaarheid van ‘n dier vir brommerlas hang grootliks van die tenwoordigheid van vog in die vag af wat bakteriese ontbinding van die wol en oppervlakkige vellae bekend as “vagvrot”, tot gevolg het. Die reuk vanaf sulke ontbindende areas is aantreklik vir die brommers en verskaf ook ‘n geskikte habitat vir die jong larwes. Die  proteolitiese ensieme wat die larwes afskei, verteer die weefsels en hulle voed dan op die vloeistof wat as gevolg daarvan ontstaan. Die larwes van die primêre brommers wat die aanval loods, veroorsaak toestande wat vir C. marginalis en die sekondêre brommers aantreklik is; hulle larwes vergroot die wond en mag diep tonnels in die weefsels onder die vel ingrawe. Die toenemende reuk afkomstig van die letsel, lok ander vlieë en nog meer soorte larwes kan in die wond gevestig raak. Skape word hoofsaaklik in die omgewing van die broek- en stertgebied aangeval waar die wol deur mis en ook urine, in die geval van ooie, besoedel word. Diep velvoue wat ‘n sweterige toestand veroorsaak en besmette liggaamswonde neig ook om brommers te lok.

Die hoeveelheid primêre brommers wat in ‘n gebied teenwoordig is, mag die ernstigheid en aantal brommeraanvalle wat aangetref word, bepaal, maar die toestand neig wel om seisoenaal voor te kom. Die eerste vlaag brommers word gewoonlik saam met die eerste lentereëns aangetref wanneer die volwassenes uit die duisende papiedoppe in die  grond te voorskyn kom. Die aantal vlieë toon gewoonlik gedurende die warm somermaande ‘n afname totdat dit herfs word, wanneer ‘n tweede vlaag brommers te voorskyn kom

Voorkoming deur goeie bestuurspraktyke

  • Selekteer vir minder geplooide skape; prul skape met bouvormfoute soos spits agterstewes, hoë los skouers of duiwelsgreep agter die blaaie.
  • Sny die sterte van ooitjies net lank genoeg om die vulva toe te maak (sowat 3 tot 4 litte lank). Op hierdie lengte kan sy haar stert swaai en ook oplig wanneer sy mis of urineer. So ‘n ooitjie se broek bly skoner en droër. Hierdie lengte sal ook nie ‘n probleem wees tydens dekking nie.
  • Pas skeer en mikskeer van skape, veral ooie, strategies toe om hulle met kort wol in die
    broekgedeelte te laat gedurende lente-, somer- of herfsseisoene, sowel as in lamtyd. Wanneer mikskeer toegepas word, kan areas rondom ramme se horings, asook ramme en hamels se peesters, ook geskeer word indien brommeraanvalle dikwels op hierdie gedeeltes voorkom.
  •  Die verwydering van velvoue deur die Mules-operasie word ten strengste afgekeur.
  •  Die vernietiging van karkasse mag gedurende die wintermaande van waarde wees, maar nie gedurende die somer nie.

 

Beheer:

Die beheer van skaapbrommers in Suid-Afrika is grootliks van voorkomende maatreëls afhanklik wat op die gebruik van plaagdoders berus. Die aanwending van hierdie middels vanaf September tot Maart beheer die aantal aanvalle in ‘n trop skape. Dit behoort egter net ‘n deel van die veldtog teen hierdie parasiete te vorm, aangesien nalatigheid of swak higiëne nie deur die gebruik van plaagdoders reggestel kan word nie.

Chemiese beheer:

  • Geïnfekteerde skape kan gedip word met ‘n geregistreerde dip volgens Wet 36 van 1947 wat ‘n eis teen brommers het.Hierdie dipstowwe sal ‘n direkte dodende uitwerking op die maaiers op die dier hê. Hierdie dipmiddels is ook geregistreer vir bosluisbeheer en sal dus ook die wonde wat afkomstig is van die bytplekke van sekere bosluise, effektief voorkom. Voorbeelde van aktiewes wat geregistreer is, is bv. chloorfenvinfos, diasinon, propetamfos, triasofos en spinosad. Daar is ook middels geregistreer wat lokaal op wonde aangewend kan word.

In sekere dele van die land is brommers weerstandbiedend teen van die aktiewes. Indien dit vermoed word, kontak jou veearts en beplan saam hoe die skape teen brommers beskerm gaan word.

 

  • Om die impak van die behandeling te verleng, kan die gebruik van ‘n insekgroeireguleerder (IGR) met aktiewes soos diflubensuron, siromasien en triflumuron saam met ‘n middel wat ‘n dodende werking op maaiers het,gebruik word. Die groeireguleerder verhoed die ontwikkeleing (vervelling) van die buitenste skelet van die tussenstadiums van die brommerlarwes en breek dus so die lewensiklus van hierdie parasiet. Baie belangrik is dat 100% benatting van elke dier verseker moet word en dat alle diere op die plaas gedip moet word. Dompeldipping bly steeds die beste praktyk, maar spuitdipmetodes kan ook effektief aangewend word.

 

  • Inwendige parasiete wat maagwerk mag veroorsaak, kan brommeraanvalle vererger en moet voorkomend behandel word.

 

Verwysings:

Howell, C.J, Walker, Jane, B en Nevill, E. Bosluise, myte en insekte van huisdiere in Suid-Afrika. Wet. Pamf. Dep. Landbou-teg. Dienste Repub. S. Afr.

 

Jacques van Rensburg, MSD. Produkbestuurder, persoonlike mededeling

Index of Veterinary Specialities, Volume 49 no.3

Saamgestel deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

20 Augustus 2012


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X