Vra vir Faffa

Skaapbrandsiekte – Voorkoming deur Biosekuriteit

Vraag

Hoe kan ek voorkom dat my skape met die brandsiektemyt besmet raak?

Antwoord

Skaapbrandsiekte veroorsaak elke jaar derduisende rande se verliese vir boere. Hierdie verliese kan toegeskryf word aan produksieverliese sowel as uitgawes weens verpligte behandeling. Daarby lei dit ook tot die ongerief van kwarantyn en die stigma wat daarmee gepaard gaan. Belangriker selfs is die feit dat dit Suid-Arika se woluitvoere in die wiele kan ry.

Behandeling van slegs induviduele diere is vrugteloos sowel as onwettig.  Alle diere op die plaas moet behandel word en daarom is dit ‘n baie duur oefening. Voorkoming bly die boer se beste uitweg.

Die myt wat brandsiek veroorsaak (Psoroptes communis ovis), kan direk sowel as indirek van skaap tot skaap oorgedra word. Direkte oordraging is by verre die algemeenste manier en hiervoor is naby kontak tussen skape nodig.  Dit is belangrik om te onthou dat dit NIE nodig is vir ‘n skaap om sigbare tekens van brandsiek te hê voordat  hy ‘n ander skaap kan aansteek nie. Die volgende stappe kan getref word om jou kudde teen besmetting te beskerm:

  • Voorkom dat vreemde skape onwetend tussen joune kom deur jou lyndrade in ‘n goeie toestand te hou. Die omheiningswet stipuleer dat dit elke grondeienaar se wetlike plig is om sy heinings in stand te hou.  Gereelde inspeksies sal ook tekens van brandsiek by jou buurman uitwys soos klossies wol op drade en bosse. Die voordele van ‘n goeie grensdraad strek veel verder as die voorkoming van siektes, dink maar aan die skade deur roofdiere wat ook deur ‘n goeie jakkalsproefheining verminder kan word.

 

  • Indien jy diere inkoop behandel hulle teen brandsiek ongeag of hulle simptome wys of nie.  Hou ook hierdie diere apart vir ten minste 30 dae en kyk gereeld vir tekens van brandsiek en ander siektes. Eers daarna kan jy hierdie diere by jou eie diere voeg. Hierdie beginsel van kwarantyn met aankoms is die hoeksteen van biosekuriteit, tog is daar min boere wat dit toepas. Hoeveel boere koop ramme op ‘n veiling en gaan laai hulle dadelik tussen die ooie af?

 

  • Indien jou diere in kontak was met ander diere bv. by ‘n skou, behandel hulle voorkomend teen brandsiek en hou hulle apart vir 30 dae met terugkoms op jou plaas.

 

  • Moet nooit ramme(of ooie) vir teeldoeleindes leen of uitleen sonder om hulle voorkomend teen brandsiek te behandel met aankoms op jou plaas nie.  Brandsiek kom baiekeer reeds voor waar jy dit die minste verwag.

 

  • Meld alle gevalle van skape wat jeuk en krap in jou omgewing dadelik aan by jou naaste staatsveeartskantoor. Daar kan slegs deur die myt onder ‘n mikroskoop te identifiseer, onderskei word tussen die algemene oorsake van jeuk by skape naamlik; Jeukmyt, Rooiluis en Brandsiekte. Moet dus nie Jan Alleman se diagnose aanvaar nie, meld alle gevalle van skape wat jeuk aan. Dit is boonop ‘n wetlike vereiste.

 

  • Behandel een maal per jaar jou hele kudde met ‘n middel wat brandsiekmyte doodmaak. Dit kan gedoen word deur te dip of te spuit. Die meeste inspuitbare middels wat geregisteer is vir Skaapbrandsiekte maak ook inwendige parasiete en neuswurm dood. Dus kan jy verskeie vlieë met een klap doodmaak.

 

  • Indirekte oordraging vind plaas wanneer eiers of volwasse myte deur ‘n ander vektor gedra word van een skaap na die volgende.  Dit sluit in mense, voertuie en die omgewing. Skaapbrandsiekmyte kan vir ‘n tydperk van ongeveer 3 weke oorleef nadat dit van ‘n skaap afgeval het.  Hierdie tydperk moet in gedagte gehou word waar skape rondgeskuif word.

 

  • Skaapskeerspanne wat van plaas tot plaas trek, is die hoofoorsaak van indirekte besmetting.  Deur skeerders van skoon oorpakke te voorsien, kan hierdie oordraging gestop word. ‘n Alternatief is om skeerders se oorpakke vir 5 minute in ‘n dipmiddel te week en dit daarna te was. Dit moet gedoen word voordat hulle in kontak kom met jou eie diere. Daarby moet alle gereedskap wat saam met die skeerspan kom (bv. skêre en  besems ) met ‘n dipmiddel gewas word. Enige dipmiddel wat geregistreer is vir die beheer van brandsiek in skape kan hiervoor gebruik word.

 

  • Krale wat deur verskeie eienaars gebruik word, is ook gevaarlik. Dink veral aan veilingskrale en skoufasiliteite.  Myte oorleef nadat ‘n besmette dier in ‘n kraal was en steek dan ‘n ander skaap aan. Vermy sulke areas.  Indien dit nie moonlik is nie, beskou diere wat uit so ‘n kraal kom as moontlik besmet en behandel eerder.

 

  • Skape wat te voet van plaas tot plaas getrek word, kan maklik brandsiek versprei. Indien iemand anders deur jou veld trek, is dit raadsaam om jou eie skape uit die kampe,  waardeur die diere gaan trek, te verwyder.. Hierdie kampe moet dan ook vir ‘n tydperk van 3 weke leeg staan voordat jy weer jou eie diere daarin sit. Indien jy jou vee deur iemand anders se veld moet trek, moet jy aanvaar dat daar ‘n groot risiko is dat jou diere kan aansteek indien daardie plaas besmet is met brandsiekte. As jy twyfel, behandel liewer voorkomend met aankoms by jou bestemming.

 

  • Skaaptrokke, bakkies en sleepwaens kan ook ‘n bron van besmetting wees. Brandsiekmyte kan maklik oorleef op stukkies wol (of selfs daarsonder ) wat op ‘n bakkie agterbly en die volgende trop skape wat gelaai word besmet. Om hierdie rede is dit raadsaam om altyd die voertuig en sleepwa skoon af te spuit met water met ‘n effektiewe brandsiek dip daarin voordat jy diere daarmee na jou plaas vervoer. Onthou egter om altyd laastens die voertuig met skoon water af te spuit. Dit verwyder die oortollige dipstof wat giftig is vir mense, honde en ander diere.

 

  • Gebeure soos veilings waar skape uit verskille areas in noue kontak gebring word, is ideaal vir die verspreiding van brandsiekte. By sulke geleenthede kan direkte sowel as indirekte verspreiding plaasvind.  Daarby leen praktyke soos spekulasie, voerkrale en skoue hulle ook tot verspreiding.  Boere wat hierdie praktyke beoefen of bure het wat dit doen moet ekstra versigtig wees en goeie biosekuriteit te alle tye toepas.

 

  • Dit gebeur soms dat ‘n plaas langs ‘n hoofpad besmet geraak het met brandsiek nadat lewendige brandsiekmyte van ‘n verbygaande voertuig afgewaai het saam met ‘n stukkie wol of mis en dan diere langs die pad aangesteek het. Boere wat teen hoofroetes grond het, moet bedag wees op die gevaar van hierdie metode van verspreiding. Sou jou plaas op hierdie manier besmet raak, bly jy egter nog steeds verantwoordelik vir die aanmelding en behangeling van die siekte.

 

Skaapbrandsiekte is ‘n siekte wat maklik voorkom kan word deur goeie biosekuriteit. Ek wil boere uitdaag om in die gewoonte te kom om altyd goeie biosekuriteitspraktyke te beoefen wanneer hulle vee aankoop of rondskuif. Daardeur kan baie ongerief en verliese voorkom word. Dit geld nie net vir Skaapbrandsiekte nie, maar vir alle aansteeklike veesiektes.

 

Geskryf deur:dr. EA Nel (BVSc), Staatsveearts: Upington

 

22 Augustus 2012


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X