Vra vir Faffa

Skaapboerdery in die Duineveld

Vraag

Ek stel belang om ‘n plaas te koop in die Blombosomgewing naby Stilbaai. Die omgewing is met natuurlike fynbos begroei en is natuurlik sand/duineveld waarop baie dekriet groei. Ek wil graag skaap aanhou en op die oomblik is daar 100 skaap (wat byvoeding van mielies en sjokolade kry) op die plaas, maar nie genoeg om dit lewensvatbaar te maak nie. Daar is ongeveer 360 hektaar wat bewei kan word en daar is gras tussen die riet en fynbos wat die skape op die oomblik nuttig. My vraag is of ek enige addisionele gras kan byplant tussen die ander plante alhoewel die sandgrond nie baie voedingswaarde het nie. Watter tipe gras sal daar aard? Die riet is ook ‘n bron van inkomste en ek wil dit nie graag plat sleep soos party boere doen nie. Het u enige raad oor wat ek daar kan plant om my inkomste (gewasse, bome, ens.) of weiding te verbeter?

Antwoord

Die Duineveld van die Suid-Kaap is ‘n unieke ekosisteem en omrede dit so naby die see is, is die klimaat oor die algemeen bietjie meer gematig wat temperature betref.

Oorspronklik was die Duineveld bekend as die tuiste van oorvloedige kleinwild. Ongelukkig het jagtogte saam met rooikatte die wild tot ‘n minimum uitgedun. In die meeste areas is die enigste noemenswaardige grasbedekking gewoonlik in die sogenaamde panne waar water makliker vergader het. Die fynbosstruike is die klimaks plantbedekking.

Om jaargrasse aan te moedig, word die struike in die somermaande afgebrand. Die eenjarige grasse groei gewoonlik net in die winter, aangesien die Duineveld seker 80% van sy reën in die winter ontvang. Meerjaargrasse soos Smutsvinger (Digitaria) of Rooigras (Themeda triandra) aard nie hier nie.

Die sanderige en kalkagtige gronde van die Duineveld veroorsaak dat baie voedingstowwe gebind word deur die hoë pH. Makro- en mikro-elementtekorte is volop. Die bekendste navorsing was destyds deur ene prof. Perold gedoen. Hy het op die kopertekort konsentreer en bewys dat die wolgehalte veral deur byvoeging van kopersulfaat verbeter kan word. Ons weet ook dat mangaan, kobalt en sink beskikbaarheid afneem in sulke gronde.

Aan die positiewe kant is dit so dat sekere areas veral in die Blombosomgewing beter gronde en ‘n baie vlak watertafel het. Dit lei daartoe dat selfs kikoejoe goed doen in sekere gebiede en baie van hierdie boere hou vleisbeeste aan om die kikoejoe te benut. ‘n Mens sal egter self die plaas moet deurkyk om die potensiaal werklik te kan bepaal My persoonlike mening is dat dit in die algemeen nie maklik gaan wees om deur die jaar noemenswaardige drakrag vir veral lammerooie op ‘n Duineveld plaas te handhaaf nie.

Die meeste van die boere met Duineplase het ook ander plase en gebruik die Duineplase dan net in sekere tye en benut dit veral met Merinohamels.

Geskryf deur: dr. Josef Uys, Veearts en boer (juys@easycoms.co.za)

19 Junie 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X