Vra vir Faffa

Siekteverloop van sponssiekte

Vraag

Het voeding ‘n invloed op die voorkoms van sponssiekte omdat die sponssiektekiem in die demkanaal kan voorkom? Kan voeding soos mielies of mieliereste die besmetting van diere versnel? Hoe lank neem dit vir die kiem om die dier dood te maak en is daar diere wat draers van die kiem is?

Antwoord

Die kieme wat sponssiekte veroorsaak, vorm spore. Spore kan met plantsaad vergelyk word en word beskou as die “saad” van kieme. Spore is baie bestand teen uitdroging, koue, hitte en ontsmettingsmiddels. Die spore kom in grond en water voor en kom in die dermkanaal deur die inname van stof en water. Sover bekend, speel die voeding van die diere geen rol nie. Meer gevalle van sponssiekte kom gedurende laat somer en herfs en op sekere grondtipes voor. Sponssiekte is veral algemeen na ‘n goeie reënjaar.

Die presiese verloop van die siekte is nog nie heeltemaal bekend nie, maar wat ons wel weet, is dat die spore ingeneem word, deur die dermwand dring en met die bloedsomloop vervoer word. Die spore setel in die groot spiermassas van diere en kan vir enkele dae tot baie maande onaktief bly.

Hierdie diere word dus as draers beskou, maar dit is nie moontlik om hulle te identfiseer nie, omdat die spore min en baie klein is. Omdat die spore onaktief is, prikkel hulle nie die immuunstelsel van die dier nie en daarom kan bloedtoetse nie gebruik word nie.

Die spore kan na dae tot maande ontkiem, in sponssiektekieme verander, vermenigvuldig en  sponssiekte veroorsaak d.m.v.‘n groot verskeidenheid gifstowwe wat hierdie groep kieme vervaardig. Ons verstaan nog nie duidelik wat die spore prikkel om te ontkiem nie.

Ons kan dus nie met sekerheid sê hoe lank dit sal duur voordat die spore ontkiem en siekte veroorsaak nie.

Dit is die rede hoekom veeartse alle boere aanraai om hulle diere gereeld teen sponssiekte te ent.

Geskryf deur: Dr. Marijke Henton, Bakterioloog, Vetdiagnostix, –Mikrobiologie laboratorium (henton@vetdx.co.za)

21 September 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X