Vra vir Faffa

Sere op hond se kop

Vraag

My hond kry iets op sy kop. Dit lyk soos vratjies en is swart. Dit het aanvanklik gelyk soos 'n bosluis, maar dit raak meer en groter. Wat kan dit wees?  Kan ek iets koop wat sal help? - Dawn Hattingh (dawnva@feltex.co.za)

Antwoord

Honde kry vratjies en dit word veroorsaak deur ‘n papiloomvirus.  Van hierdie vratjies sal mettertyd self verdwyn, maar in rare gevalle kan sulke vratjies wat deur ‘n papilloomvirus veroorsaak word, ontwikkel in skubselkarsinoom.

Skubselkarsinoom is kanker wat in die dun, plat selle van die vel ontstaan. Dit lyk onder ‘n mikroskoop soos visskubbe en vandaar die naam.  Skubselkarsinoom infiltreer eers lokaal, maar kan ook na verskeie limfkliere asook die longe versprei. 

Die letsels wat u beskryf mag ook enige ander kankergewas wees byvoorbeeld melanoom wat ‘n gepigmenteerde gewas is, wat mees algemeen op die kop voorkom.

Daar kan ook verskeie skynkankergewasse wees wat sulke letsels veroorsaak.

Die enigste manier om definitief te sê wat dit is, is deur u hond na u veearts te neem om ‘n klein stukkie daarvan af te sny (biopsie te neem), of om ‘n paar selle uit die letsel te suig met ‘n dun naald en dit dan onder die mikroskoop te bestudeer.  Mens kan  eers op behandeling besluit wanneer presies vasgestel is watter kondisie dit is.

Verwysings:
Ettinger S J & Feldman E C. 2000. Textbook of Veterinary Internal Medicine. W.B. Saunders Company, USA

Kahn C M. 2005. The Merck Veterinary Manual 9th Edition. Merck & Co., inc, USA.

http://www.medterms.com/script/main/art.asp?articlekey=5541

Geskryf deur:  Dr. Sunelle Strydom (BVSc).

23 Junie 2009


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X