Vra vir Faffa

Selfversorgende kosproduserende eenheid

Vraag

Ek is woonagtig in Henly on klip (Meyerton - net suid van Johannesburg). Ek het sowat 2000 (twee duisend) vierkante meter waarop ek graag genoeg kos wil produseer vir tenminste 12 mense. Ek verstaan dat ek sekerlik nie vir die hele jaar sal kan produseer nie, maar ek wil tog vir so lank as wat ek kan vir myself kan sorg. Ek sal graag hoenders wil aanhou (ek hoor dat ganse dalk beter sal wees want hulle word nie maklik siek nie). Ek sal ook graag ‘n paar verskillende vrugtebome wil plant (appelkoos, lemoen, perske...). Ek sal dan natuurlik ook groente en kruie wil plant... (Watter tipes groente en kruie...?). Ek sal tien teen een nie tonnels en skadunet kan gebruik nie (sal eers moet geld spaar) en dit word hier soms minus 7 grade Celsius in die vroe? oggend in die winter. Die grond kry vol son en dit is niks meer as ‘n stuk veld op die oomblik nie. Die plan is om so veel moontlik kos en voeding vir 12 mense te kan produseer sonder om dit ten duurste in die winkel te gaan koop. Ek weet daar is baie boeke wat ek kan koop, maar niks gee my eintlik ‘n idee van wat om te plant om ‘n gesonde bord kos voor te brei nie. My plan is om eiers (hoenders/ganse), groente (artappels as stysel) met kruie en vrugte te produseer. Sal u my kan raadgee, of dalk net van ‘n ordentlike skakel kan voorsien sodat ek dit self kan opswot op die internet? By voorbaat sê ek dankie vir u tyd. Beste groete, Stephan Bronkhorst

Antwoord

Om volhoubaar kos te produseer op klein skaal is nie maklik nie. Daar is heelwat slaggate waarvoor ‘n mens moet oppas. 2000m2 is nie baie groot nie en of dit 12 mense sal kan onderhou is ‘n ope vraag. Dan moet jy ook besef dat dit drie tot vier jaar kan neem om aan die gang te kom.

Jy sê ongelukkig nie hoeveel water beskikbaar is nie, maar ek sal van die veronderstelling uitgaan dat daar genoeg water beskikbaar is.

Die eerste stap – veral omdat die grond nog nooit voorheen bewerk is nie, is om dit te laat ontleed om sodoende ‘n idee te vorm van die bemestingsprogram wat nodig gaan wees. Hiervoor kan jy die Instituut vir Grond, Klimaat en Water by tel. 012 472 9700 of faks 012 342 3948 kontak. Lees ook antwoord: Grond-, water-, blaar- en kunsmisontledings.

Die nasionale Departement van Landbou het ‘n goeie reeks pamflette oor die verskillende groentesoorte en hoe om hulle te kweek, beskikbaar. Gaan na  NDA.agric.org en klik op “publications” en dan op “brochures”. Jy kan ook die Groente en Ornamentele Plante Instituut kontak by tel. 012 841 9611, faks 012 808 0844 of vopiinfo@arc.agric.za.

Om meer inligting oor die verbouing van vrugtebome te bekom, kan jy Infrutec/Nietvoorbij Instituut vir Sagte vrugte, Wingerd en Wyn nader. Kontak besonderhede is: tel. 021 809 3100, faks 021 809 3400 of infocape@arc.agric.za.

Op www.safruitfarms.com sal jy ook baie inligting kry oor vrugteverbouing, kultivars, geskiktheid vir jou omgewing, ens.

Daar is ‘n paar basiese beginsels wat jy in gedagte moet hou. Pas wisselbou toe, moenie dieselfde gewas vir meer as twee jaar na mekaar op dieselfde plek plant nie. Peulgewasse (bone, ertjies) maak die grond stikstofryk, so beplan vooruit wat in hulle plek geplant gaan word. Deur wisselbou word die grond ook nie so gou uitgeput nie, want  verskillende gewasse het verskillende nutri?ntbehoeftes en plae en siektes kan ook so tot ‘n mate beheer word. Dit is ook beter om kleiner hoeveelhede omtrent elke twee weke te plant en sodoende ‘n gereelde oes vars groente te kry eerder as om ‘n groot klomp op een slag te oes, tensy dit gevries of ingelê gaan word. Dan is daar ook die vraag van organies boer of nie. Dit is ‘n heel ander kwessie op sy eie.

Mev. Erna Kruger (082 873 3389) en haar gesin van vier is al jare besig om meeste van hulle kos op hierdie wyse te produseer. Sy sê dit het hulle vyf jaar geneem om op dreef te kom. Op 1000m2 produseer hulle ‘n groot verskeidenheid van groente en het ook 25 vrugtebome. Hulle hou ook hoenders, eende en konyne aan. Uit die aard van die saak moet die konyne in hokke aangehou word (ook nog ‘n bron van bemesting vir jou gewasse).  

Geskryf deur: dr. Victor Whitlock, Landboukonsultant (whitlockv@yahoo.com)

10 Junie 2011 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X