Vra vir Faffa

Seleksie vir ‘n siekteweerstandige skaapkudde

Vraag

Ek het ‘n probleem met vrotpootjie in my kudde. Is dit moontlik om te selekteer vir skape wat minder vatbaar is vir die kiem wat die probleem veroorsaak?

Antwoord

Die generasie-interval by skape is waarskynlik in die orde van 4 jaar of langer, in vergelyking met spesies soos hoenders is dit dus baie lank maar bietjie korter as vleisbeeste en daarom kan genetiese vooruitgang relatief gou gemaak word. Binne ‘n ras asook tussen rasse is daar  wye genetiese variasie wat ook weer help met genetiese seleksie. Seleksie vir siekteweerstand kan op baie vlakke gedoen word.  Die ontwikkeling van wurmmiddelweerstand het die fokus op die teling van siekteweerstandige kuddes laat ontstaan.

Skielik moes skaapboere (en veeartse) hulle siening van hoe hulle siektes  moes behandel en voorkom, wysig.

Ook in Suid-Afrika en veral in KwaZulu-Natal moes  bestuursprogramme van diere a.g.v. eksterne faktore soos veediefstal, roofdiere, asook verbruikervoorkeure aangepas word.

Dit gebeur ook in ander lande soos bv. in Australië waar die praktyk om velplooie te verwyder (Mulesing) vir brommervoorkoming gestaak moes word weens verbruikersdruk en alternatiewe metodes vir beheer gesoek moes word.

Baie lande is tans betrokke in die genomiese projek van skape wat in 2002 begin het. Die genoom van skape is gekarteer  en navorsers is besig om genetiese merkers vir siektes, produksieparameters en aspekte van teling te vind.

Hierdie genetiese merkers word enkel neukleotied polimorfisme (“single neocleotide polymorphism –SNP”) of SNP skyfies genoem. Hierdie skyfies kan terselfdertyd gebruik word om vir veelvoudige gene te selekteer. Hoë koste van die proses beperk tans die gebruik hiervan vir kommersiële doeleindes.

Die belangrikste gebruik  vir seleksie is tans  vir interne en eksterne parasiete, pootprobleme, mastitis, oogprobleme en ander siektes.

Soos met alle genetiese seleksiepraktyke is dit baie belangrik om beide die seleksievooruitgang asook ander eienskappe te monitor, maar ook te waak teen negatiewe eienskappe waarvoor daar onwetend geselekteer word.

Seleksie vir weerstand teen siektes is baie meer koste-effektief as om die siektes te behandel.  ‘n Voorbeeld is mastitis (blou-uier). Hoër melkproduserende diere is baie meer vatbaar vir mastitis, maar die behandeling van ‘n geval tesame met  produksieverlies is baie meer as net die moontlike verliese in produksie.

Interne parasiete

FAMACHA (oogslymvlieskleur), Vyfpuntplan ( ondersoek neus, oogslymvlieskleur, kwakkeel, kondisietelling en vuilbroeke) en  miseiertelling (MET) is almal maklike toetse wat op die plaas gedoen kan word. Diere kan vir beide aanpasbaarheid en weerstand geselekteer word. MET is veral nuttig in jong diere. Deur ongeveer drie individuele MET in ramme tussen 3 en 10 maande ouderdom te doen, sal beide weerstandige en aangepaste  ramme geïdentifiseer word. Die koste daaraan verbonde om MET te doen, beperk die gebruik hiervan in ooie. Die Vyfpuntplan wat FAMACHA insluit is maklik om te doen en swakdoeners kan maklik uitgeskot word. Dit is die beste om dit maandeliks te doen, maar dit is nie altyd  moontlik nie.

Die maklikste tyd om hierdie ondersoeke te doen, is tydens speen en ongeveer 6 weke later. Individuele MET is van groot nut as dit voor lamtyd gedoen word en wanneer lammers gespeen word. Gemiddelde tellings word gebruik om te bereken watter diere uitgeskot moet word. Soos wat seleksie verbeter, kan die tellings waarop diere uitgeskot word, aangepas word. Wees op jou hoede met die interpretering van MET want bv. haarwurmtellings kan baie hoog wees (wyfie lê baie eiers per dag) terwyl ‘n bruinmaagwurmwyfie baie minder eiers per dag lê).

Optimale implementering van hierdie program neem ongeveer 3 tot 5 jaar. Die vlak wat bereik word, hang van die boer self af. Die program kan geleidelik of vinnig gedoen word. Sommige van die kuddes waarmee ek werk, doseer nou een keer per jaar terwyl ander nog 2 of 3 doserings per jaar doen.

Ons het gevind dat daar wel ‘n produksiepenalisasie was gedurende die eerste 2 tot 3 jaar. Ons moes spook om meer as 110 tot 120% lammers te speen.

Dit het nie aangehou nie en nou speen die boere meer as 150%. Dit is baie belangrik om seker te maak dat die wurmmiddel(s) wat gebruik word, effektief is. Indien nie gaan daar verliese voorkom. Goeie rekordhouding is baie belangrik.

Dokumenteer  middelgebruik d.w.s. aktief en  groep (kodenommer(s) op die kan, watter diere  gedoseer is en die datum van behandeling. Goeie doseringspraktyk is belangrik. Apparate moet in goeie werkende toestand wees, gewig van diere moet bepaal word, dosisse korrek bereken word en toediening korrek geskied. Produksieverliese kan beperk of totaal uitgeskakel word as ekstra proteïen byvoeding gegee word.

Lintwurms

Lintwurms het gewoonlik nie ‘n negatiewe effek op skape nie. Daar is nie wetenskaplike artikels gepubliseer wat daarop dui dat lintwurms produksieverliese veroorsaak in normale gesonde lammers of ooie nie. Hierdie wurms is maklik om te sien en daarom wil boere lintwurmmiddels ingee, dit is nie koste-effektief nie. Lammers sal slegs probleme ondervind as hulle gestres is bv. dat hulle nie genoeg melk of kos kry nie of ‘n siekte onder lede het. Daar word aanbeveel dat sulke klein en sukkelende lammers behandel en uitgeskot word. Die moeder word ook gewoonlik uitgeskot omdat sy nie genoeg melk het nie. Dit is die mees algemene rede vir lammers wat uitsak.

Eksterne parasiete

Onsuiwer (fly strike) kan tot groot verliese lei. Faktore wat vatbaarheid beïnvloed, is liggaamsplooie in die broek (breech) area, vuil broeke, inflammasie in reaksie tot vlieglarwes, veleksudate en reuke en ander gelyktydige velsiektes veral dermatofilose (klontwol). Seleksie vir skape waar daar geen plooie in die broekarea is nie is baie effektief as dit gedoen word as hulle rondom een jaar oud is. Seleksie van ramme wat oorweeg word as kuddevaders moet ook aan die vereistes voldoen, aangesien verkeerde ramme alle seleksie van ooie ongedaan kan maak indien hulle nie aan dieselfde vereistes voldoen nie. Alle diere wat velkondisies ontwikkel en meer as een keer behandel is, moet uitgeskot word. Dit sal die voorkoms van onsuiwer in die kudde verminder. Alle skape wat onsuiwer het, moet waar moontlik uitgeskot word. As die voorkoms baie hoog is, moet ten minste alle erge gevalle uitgeskot word.

Luis-, skurftemyt-, brandsiekte myt- en luisvlieg- (keds) besmettings kan ook tot groot verliese, veral in wolskape,  lei. Om vir weerstandige skape te selekteer, is moeiliker omdat sulke besmettings nie altyd teenwoordig is nie. Dieselfde beginsels soos reeds bespreek, moet gevolg word. Alle diere wat erge siektetekens wys of wat meer as een keer behandel moet word, moet liefs uitgeskot word.

Mankhede

Meeste gevalle van mankheid in skape is te wyte aan vrotpootjie, voetabsesse of  interdigitale dermatitis. Seleksie is nie gemik op ‘n spesifieke oorsaak van mankheid nie, maar eerder op algemene mankheid. Enige dier wat meer as een keer in ‘n seisoen (of jaarliks) behandel is of wat tekens van ‘n kroniese letsel toon, moet uitgeskot word.

Dit beteken dat ‘n groot aantal diere soms uitgeskot moet word. Dit is die beste praktyk om geen hoewe te knip nie. ‘n Omvattende studie wat in die Verenigde Koninkryk gedoen is, het aangetoon dat om hoewe te knip aanleiding gegee het tot meer mankheidgevalle. Die studie het ook aangetoon dat om aangetaste gevalle te isoleer (vir meer as 3 weke) en slegs te teel met nie-geaffekteerde gevalle gelei het tot ‘n laer voorkoms van mankheid.

Mastitis (blou-uier)

Die meeste werk is gedoen in skape wat gemelk word, maar die beginsels bly dieselfde. Skape met die laagste somatiese seltellings word geselekteer, maar dit is in die algemeen nie van waarde vir vleis- en wolskape nie.

Uierkonformasie en speenplasing kan gebruik word, maar weereens is dit moeilik in vleis- en wolskape. In vleis- en wolskaaprasse is die beste praktyk om alle positiewe mastitisgevalle uit te skot.  Dit word gedoen deur alle gevalle wat behandeling nodig het, asook alle ooie met uierletsels 6 weke na speen, uit te klas. As dit gedoen word, sal gevalle van mastitis beduidend minder word.

Oogprobleme

Om te selekteer vir gepigmenteerde ooglede is ‘n maklike manier om oogprobleme te verminder. In ‘n kudde is daar gewoonlik heelwat ooie sonder pigment en is dit baie belangrik om ramme te gebruik waarvan die oë gepigmenteerd is. As nuwe ooie geselekteer word, word geen ooi met pigment uitgeskot nie.

Ander siektes

SNP skyfies word ontwikkel vir ander siektes. Scrapie is tans die enigste siekte waarvoor ‘n genomiese toets kommersieel beskikbaar is. Die gebruik hiervan het die voorkoms van die siekte drasties laat afneem gedurende die laaste 10 jaar.

Geskryf deur: dr. Ariena Shepherd, Veearts in Bergville (ajvrensburg@telkomsa.net) en Japie van der Westhuizen (japie@studbook.co.za)

5 April 2016


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X