Vra vir Faffa

Sarkosistose in skape

Vraag

Ek het ’n probleem met Sarcocystis in skape - karkasse wat afgekeur word. Watter karnivoor is mees waarskynlik die bron? Karoo area. Katte, honde, jakkalse, rooikat, groukat? Is dit moontlik om die spesifieke parasiete te identifiseer (deur toetse op siste in spiere?) om sodoende te weet watter dier verantwoordelik is? Dit kan miskien beheer makliker maak? In Australië/ Tasmanië blyk huiskatte die probleem in meeste gevalle te wees - is daar navorsing of data beskikbaar wat die situasie in RSA kan verlig?

Antwoord

Sarcocystis is ’n protosoïese parasiet wat wêreldwyd voorkom. In teenstelling met die naverwante Toxoplasma gondii, wat feitlik alle warmbloedige diere kan besmet (maar slegs die kat as finale gasheer het), neig Sarcocystis spesies om baie gasheerspesifiek te wees. Beeste is bv. nie vatbaar vir Sarcocystis spesies wat skape besmet nie. Hierdie parasiet veroorsaak gewoonlik ’n kroniese subkliniese infeksie van die hart- en/of skeletspiere van lewende hawe (en talle wildsoorte). In uitsonderlike gevalle, waar die dier groot getalle van die besmetlike stadium op een slag inneem, kan verspreide akute infeksie voorkom, bv. breinontsteking, aborsie, premature geboorte, en spierontsteking. Weens ekonomiese oorwegings is die meeste navorsing op vee gedoen, maar nuwe Sarcocystis spesies word voortdurend uit wilde diere beskryf. Hulle is egter waarskynlik van geen belang vir lewende hawe nie.

https://www.google.co.za/search?hl=en&site=imghp&tbm=isch&source=hp&biw=1360&bih=609&q=sarcocystosis+in+sheep&oq=Sarcocystosis&gs_l=img.1.3.0j0i24l6.3690.17013.0.27797.13.8.0.5.5.0.20.114.8.8.0….0…1ac.1.64.img..0.13.146.-c7j0Oldy7k

Die naam Sarcocystis is afgelei van die sist stadium van die parasiet wat in die tussengasheer se spiere (sarco = spiere in Grieks) voorkom.  Die volgende spesies is al by lewende hawe geïdentifiseer: S. arieticanis, S. gigantea en S. tenella van skape; S. bertrami van perde; S. capracanis van bokke; S. cruzi en S. hirsuta van beeste; S. miescheriana van varke. Sarcocystis hominis van beeste en S. suihominis van varke het albei die mens as finale gasheer waar oösiste dikwels in mensonlasting gevind word.

Lewensiklus

Sarcocystis spesies het ’n lewensiklus met twee verskillende gashere, nl. ʼn spesifieke plantvreter (tussengasheer) en ʼn spesifieke vleisvreter (finale gasheer).

Die aseksuele stadiums van die lewensiklus vind in die tussengasheer plaas. Na aanvanklike vinnige vermeerdering van die parasiete in die endoteelselle (wat die bloedvate uitvoer), vorm siste (wat deur ’n dik wand omsluit word) tipies in spierweefsel, maar soms ook in ander weefsel. ʼn Volwasse sarkosist, wat gewoonlik met die blote oog sigbaar is, kan derduisende besmetlike organismes (bradisoïete) bevat. Die siste bly dormant. Indien die regte finale gasheer die besmette weefsel vreet, word die siklus voortgesit.

Die seksuele stadium van die siklus vind in die finale gasheer plaas.

Die besmette weefsel word in die maag van die finale gasheer verteer en die bradisoïete (sistosoïete, sistosoïese merosoïete) word uit die sarkosiste vrygestel. Hulle dring deur die slymvlies van die dunderm en verander in onderliggende weefsels direk in manlike (mikro-) en vroulike (makro-) gametosiete. Bevrugting vind plaas, ’n wand ontwikkel om die sigoot en ʼn dunwandige oösist word gevorm. Binne die oösist ontwikkel twee sporosiste waarin elk weer 4 sporosoïete vorm. In die meeste gevalle neem dit ongeveer 7 tot 14 dae vandat sarkosiste ingeneem is totdat gesporuleerde oösiste in die mis van die gasheer uitgeskei word. Na ʼn eenmalige besmetting skei die finale gasheer klein getalle oösiste oor ʼn lang tydperk uit. Die wand van die oösist is baie dun en skeur maklik, sodat die sporosiste (met 4 sporosoïete) vry in die mis voorkom.

Die tussengasheer raak besmet deur sporosiste in te neem. Die ontwikkeling van die parasiet in die finale gasheer (prepatente periode) kan etlike maande duur wat genoeg geleentheid gee vir besmetting van die weiding met sporosiste wat weerstandig vir omgewingstoestande is. Finale gashere is ook vatbaar vir herhaalde infeksies. Aasdiere wat toegang het tot dooie diere wat besmet is, kan ook die infeksie opdoen en die siekte versprei, bv. jakkalse, rondloperkatte en -honde. Die belangrikste verspreider van die parasiet vir lewende hawe bly honde, katte en mense. Die rol wat vlieë bv. brommers, speel deur sporosiste meganies van een plek na ʼn ander te versprei moet ook nie uit die oog verloor word nie.

Kliniese siektetekens

Tekens sal afhang van hoeveel sporosiste op een slag ingeneem word. Gewoonlik is dit min en daarom is die toestand gewoonlik subklinies. As voer en water besmet word deur finale gashere kan kliniese tekens wel gesien word en is dit al gedokumenteer in beeste, skape en bokke. Diere ontwikkel koors, bloedarmoede, diarree, hou op vreet, swakheid, dehidrasie en gewigsverlies. In beeste veral kom spoegloop voor, spierbewerasie, en haarverlies veral aan die stertpunt. Diere kan aborteer of vroeg geboorte gee. Soos wat die siekte vorder kan diere nie opstaan nie, het senuweeaantasting en vrek. Siektetekens mag van ’n paar dae tot weke duur. Diere wat oorleef se groei word aangetas en wolgroei word nadelig beïnvloed.

Verliese by die abattoir

Sigbare siste kan in die spiere van kronies besmette diere gesien word.  Groot siste veroorsaak deur S. gigantea word somtyds in skape gesien en is veral opsigtelik in die slukderm, larinks en tongspiere.  Siste word ook in die hartspier, ander spiere en selfs in die brein gesien.  Karkasse met sulke besmettings word afgekeur omdat die vleis ongeskik is vir menslike gebruik (al is mense nie noodwendig vatbare finale gashere nie).

Differensiële diagnose

Die siekte kan met toksoplasmose of neosporose verwar word.

Beheer van sarkosistose

Deur vleis te kook word die parasiet gedood. Dit is nie goed genoeg om besmette vleis te vries nie want dit sal nie oordraging voorkom nie. Op besmette plase moet karkasse verbrand of begrawe word.  Onthou dat honde, katte en ander vleisvreters die siekte deur hulle mis kan oordra en dus water en voedselbronne kan besmet.

Daar is geen entstof teen die siekte beskikbaar nie.

Voorkomende behandeling kan gegee word met middels soos monensin, salinomisien en amprolium. Bespreek die behandeling met jou veearts.

Die middel halifuginoon wat ook giftig is, is al gebruik om akute siek skape en bokke te behandel.

Diagnose: ʼn Diagnose van sarkosistose, oor die algemeen, kan maklik bevestig word deur ʼn weefselsnit onder die mikroskoop te bestudeer. Om die betrokke spesie te identifiseer verg egter duur, gespesialiseerde ondersoeke, bv. met die elektronmikroskoop of deur DNS-ekstraksie. Kontak professor (emeritus) Banie Penzhorn by die fakulteit veeartsenykunde, Onderstepoort, om jou te help met ’n diagnose (banie.penzhorn@up.ac.za)

Bron: Coetzer, J.A.W. en Tustin, R.C. 2004. Infectious Diseases of Livestock. Oxford University Press. ISBN 0 19 578202 X

Saamgestel deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nahuaisp.co.za) en  prof. (emiritus) Banie Penzhorn, Fakulteit Veeartsenykunde, Onderstepoort (banie.penzhorn@up.ac.za)

25 Maart 2016


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X