Vra vir Faffa

Samestelling van lusernpille

Vraag

Watter samestelling sal 'n lusernpil hê en vir watter doel en teen watter volume sal 'n mens dit daagliks vir skape kan voer? [Die rede vir die vraag is - Ek het 'n volledige ge?ntegreerde voerprogram (Volvoer verpil) vir my skape na aanleiding van jou aanbevole mengsels, (sal op 'n stadium met jou deel). Ek beoog om my surpluspille in my nabye omgewing te bemark. My bemarkingsondervinding sê vir my die produk moet 'n doelgerigte produk wees en nie net 'n "Lusernpil" met 60% lusern 30% mielies en 10% SS200, wat ek vermoed net so goed soos 'n ram-, lam- en ooipil is wat vir onderhoud gebruik word nie. Kan u asb. assisteer in die geval? Tweedens: die ram-, lam- en ooipille - wat is die doel daarvan? Maar net onderhoud? Wat sal die samestelling van so 'n pil wees? Na aanleiding van 'n navraag insake een mengsel vir al die stadia van die versorging van ooie, het u 'n aanbeveling gemaak aan 'n boer. Maxiwol/procon/mielies/lusern - baie duur mengsel in vergelyking met 'n ram- lam- en ooipil. Laaste Vraag: - Hawer: Ek vind dit maak 'n uitstekende pil en die skape is mal daaroor. Ek kan geen leesstof kry wat vir my die prote?eninhoud daarvan gee nie. Ek sien ook in een van u aanbevelings het u dit nie aanbeveel nie. Enige spesifieke rede? Ek wag op u kommentaar, dankie Groete Andre Du Toit

Antwoord

‘n Suiwer lusernpil, wat net uit lusern bestaan, sal dieselfde samestelling as droë lusern hê. Aangesien die voedingstofinhoud van lusern baie kan varieer, is die akkuraatste aanduiding van sy samestelling om dit in ‘n laboratorium te ontleed. Die proteïeninhoud kan, byvoorbeeld van 15 tot 22 % varieer afhangend op watter stadium die lusern gesny is. 

Soms word 4 tot 8 % bindmiddel (bv. melassestroop, melassemeel of Kalori 3000) by die pille gevoeg wat dan byvoorbeeld die pille se proteïeninhoud verlaag. Die beste bly om die pille by ‘n geakkrediteerde laboratorium te ontleed.
 
Om optimale produksie en reproduksie te verseker, kan een skaappil nie vir alle klas diere gevoer word nie. Skaappille word op so ‘n wyse geformuleer dat daar ‘n spesifieke voerpil vir elke fisiologiese stadium (bv. groeiend; prikkelvoeding; dragtig; lakterend; kruipvoeding, ensovoorts) is wat aan die betrokke klas dier se behoeftes voldoen.
 
Die resep van die lusernpil wat in die vraag hierbo gegee word, is nie korrek nie.
 
Die gebruik van ‘n Ram-, Lam- en Ooipil is ‘n verouderde benadering en word glad nie meer in moderne skaapvoeding gebruik nie. ‘n Ram se behoeftes verskil totaal van ‘n ooi en net so verskil ‘n lam se behoeftes van ‘n ooi. Verder kry ‘n ram blaasstene en ‘n ooi nie, terwyl ‘n ooi melk produseer en ‘n ram semen. Net so word ‘n reproduserende en produserende ooi asook ‘n groeiende lam nooit vir onderhoud nie, maar wel vir produksie gevoer.
 
Hawer se energie-inhoud is te laag en ook baie variërend vir hoogs produserende diere. Mielies is die beste energiebron en kan onder sekere omstandighede met goeie gehalte gars en korog vervang word, maar uit ‘n voedingsoogpunt is dit beter om slegs ‘n gedeelte van die mielies te vervang. Hawer is boonop baie hoog in fosfor wat tot blaasstene by manlike diere aanleiding kan gee. Die belangrikste winsdrywer is voeromsetting en daarom sal ‘n goedkoop graanbron soos hawer nie die hoogste wins genereer nie weens sy lae energie-inhoud. Hoe hoër die energie-inhoud van die rantsoen, hoe beter die voeromsetting.
 
Aangeheg is basiese resepte van voerpille vir die spesifieke fisiologiese stadium van skape asook die voedingsinstruksies en -peile waarteen dit gevoer kan word. Volgens die Veevoerwet (Wet 36/1947) mag veevoerprodukte wat verkoop word, slegs deur ‘n geregistreerde voedingskundige geformuleer word. Enige veevoervervaardiger wat voere vervaardig en bemark, moet toesien dat hy oor voldoende versekering beskik indien kliënte eise, van watter aard ook al, teen hom instel.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
22 Junie 2010

Kommentaar

Een kommentaar op “Samestelling van lusernpille

  1. cindy du Preez
    cindy du Preez

    dit is baie interesant- ek wil net weet ons het eksotiese diere en wil ook ‘n ALL IN ONE lusern pil he om op die mark te kan verkoop en ook ons diere optimaal te kan voer. Wie kan my raad gee – ek soek net ‘n basiese lusern pil resep
    dupreezcindy007@gmail.com


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X