Vra vir Faffa

SA beesvleis vergelyk goed

Vraag

"Hoe goed is Suid-Afrikaanse beesvleis?", vra dr. E. C. Webb van die Universiteit van Pretoria.

Antwoord

Vraag:
Ons lees dikwels dat dit ongesond kan wees om beesvleis te eet omdat dit te veel vet bevat. Hoe goed is Suid-Afrikaanse beesvleis?

Antwoord:
Beesvleis bestaan uit eetbare spier- en bindweefsel en meegaande vet, en die kwaliteitseienskappe van hierdie komponente sluit gesamentlik die volgende in: sagtheid, smaak, sappigheid, varsheid, vetinhoud, voedingswaarde, veiligheid en geskiktheid.

Hierdie eienskappe word deur die genetiese samestelling of "bloudruk" van die dier (ingeslote die ras of tipe), ‘n verskeidenheid van omgewingsfaktore en hul interaksies beïnvloed. Beesvleis word dikwels gekritiseer oor die vet- en cholesterolinhoud en die vraag is nou: "Hoe goed of sleg is Suid-Afrikaanse beesvleis?"

Daar word geskat dat ongeveer 70% van alle beesvleis wat in Suid-Afrika verkoop word van voerkrale afkom wat gerieflik naby aan meeste van die groot stede geleë is. Die oorgrote meerderheid van hierdie karkasse word as klas A geklassifiseer, wat beteken dat hulle van relatief jong diere, tussen 10 en 15 maande ouderdom, is.

Hierdie karkasse weeg gewoonlik 220kg en bevat 18% karkasvet met ‘n onderhuidse vetlaag van ongeveer 7mm. Die vleis bevat ongeveer 3% vet, wat kenmerkend is van die meerderheid beesvleis wat by kleinhandelaars of slaghuise beskikbaar is.

Wat betref die vet- en cholesterolinhoud, vergelyk Suid-Afrikaanse beesvleis gunstig met beesvleis wat in die Verenigde State van Amerika (VSA) verkoop word. In die VSA word ‘n ander metode van beeskarkas-evaluering gebruik, wat ‘n telling vir marmering insluit.

Marmering verwys na die versameling vet in die vleis en dit is glad nie deel van die Suid-Afrikaanse sisteem nie. Gevolglik moet beeste in die VSA tot aansienlik hoër massas gevoer word om die gewenste marmeringtelling te bereik en sulke karkasse bevat dus meer as dubbel die hoeveelheid vet in die karkas en tussen 8% tot 12% vet in die vleis.

Ongelukkig is meeste van die voedingsadvies deur dieetkundiges afkomstig van bevindings in die VSA en die Suid-Afrikaanse publiek word dikwels in die plaaslike media gebombardeer met buitelandse data.

Dit is waarskynlik veilig om te beweer dat die grootte van ‘n porsie beesvleis wat deur dieetkundiges in die VSA aanbeveel word vir ‘n gesonde leefstyl, ooreenstem met dubbel die grootte van ‘n tipiese Suid-Afrikaanse porsie.

Wêreldwyd word die klem in beesvleisproduksie op die vermeerdering van die hoeveelheid eetbare maer vleis met ‘n minimum van oormaat vet geplaas, maar daar word gewaarsku dat indien die vet na te lae vlakke verminder word, dit die smaaksatisfaksie kan benadeel.

Volgens hierdie maatstaf word Suid-Afrikaanse beesvleis oor die algemeen as ‘n maer en gesonde produk beskou omdat die relatief lae spiervetinhoud korreleer met ‘n meer aanvaarbare vetsuur samestelling.

Sagtheid is die belangrikste kwaliteitskenmerk van beesvleis. Die grootste uitdaging in die produksie van beesvleis is egter moontlik die vermindering van die variasie in sagtheid en om ‘n meer bestendige produk te lewer. Die Suid-Afrikaanse voerkraalbedryf speel ‘n belangrike rol om ‘n meer bestendige eindproduk te verseker en lewer meeste van die kommersieel beskikbare beesvleis.

Alhoewel daar ‘n paar ander uitdagings is, vergelyk Suid-Afrikaanse beesvleis gunstig met die beste in die wêreld.

 

  • Geskryf deur: prof E.C. Webb, Hoof: Departement van Vee- & Wildkunde, Universiteit van Pretoria. Stuur ‘n e-pos aan Prof E.C. Webb by Edward.webb@up.ac.za vir meer inligting.

    Gepubliseer in Agriland, Mei /Junie 2006, Vol 50 No. 3

    10 Junie 2008


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X