Vra vir Faffa

Regte middels troef lewerslak

Vraag

Op watter manier kan lewerslak in vleisbeeskuddes die beste bestry word? Met opgietmiddels of dosering in die lente met middels wat triklabendasool bevat?

Antwoord

In die lente is die demografie van die beesbevolking wat gevaar loop om deur die teenwoordigheid van ’n bestaande lewerslakbesmetting benadeel te word, min of meer die volgende:
• Jaar oue vervangingsverse wat die eerste somer ná speen binnegaan en kompenserend moet groei ná die eerste winter nadat hulle in die herfs gespeen is.
• Twee jaar oue vervangingsverse wat binnekort gedek moet word
• Eerstekalf- en ouer koeie wat binnekort gaan kalf of pas gekalf het.


Boere kan nie bekostig dat bogenoemde klasse beeste wat, na gelang van die reënval, gedurende die lente op minder verteerbare winterweiding of vroeg uitgeloopte, vogryke weiding met betreklik lae konsentrasies van voedingstowwe, se produksievermoë deur sluimerende, subkliniese volwasse lewerslakbesmettings ondermyn word nie.
Volwasse lewerslakke lê tussen 5 000 en 20 000 eiers per dag wat, as die beeste toegang tot oop water en vleie het, waterslakke in daardie waterbronne sal besmet. Dit moet voorkom word deur strategiese behandeling teen lewerslak en deur beeste te weerhou van die ideale slakhabitat.

Triklabendasool is die aktiewe bestanddeel in verskeie produkte wat vatbare onvolwasse lewerslakke dood maak. Die voordeel bo middels wat slegs volwasse (ouer as 12 weke) lewerslak dood maak, is dat die minimum onvolwassenes die behandeling oorleef om volwassenheid te bereik. Triklabendasool maak nie rondewurms en lintwurms dood nie.

Die middel beïnvloed die energiemetabolisme van die lewerslak en maak dit minder beweeglik.
Die reproduksievermoë van die volwasse lewerslak word benadeel sodat minder
eiers gelê word – wat die besmetting van weigebiede sal verlaag. Die vernaamste rede waarom triklabendasool lewerslakke laat vrek, is omdat die middel proteïensintese onderdruk.

Drie belangrike kwessies rakende die doeltreffendheid van behandeling moet in gedagte gehou word:
• Geen lewerslakmiddel is 100% doeltreffend teen alle ouderdomme in die lewerslak se lewensiklus in die bees nie. Gestel ’n middel is meer as 90% doeltreffend – byvoorbeeld, 95% doeltreffend (dus 5% ondoeltreffend), en die aantal twee week oue onvolwassenes ten tye van behandeling beloop 500. Ná die behandeling oorleef 25 onvolwasse slakke en hulle word in die galbuise van die lewer waargeneem wanneer die dier geslag word.
Hierdie bevinding beteken geensins dat die middel nie gewerk het nie. Die aantal volwassenes wat in die galbuise gevind word, ten spyte van behandeling met ’n middel wat doeltreffend teen vatbare onvolwasse lewerslak is, word dus bepaal deur die aantal onvolwassenes wat teenwoordig was tydens die behandeling.

• Geen lewerslakmiddel het ’n nawerking nie. As die beeste ná behandeling in gunstige weersomstandighede in besmette kampe of vleie loop, sal herbesmetting ná behandeling steeds voorkom. Dan kan dit lyk asof die middel ondoeltreffend is wanneer volwasse slakke in die lewer van geslagte diere sigbaar is.

• As beeste wat kliniese tekens van ’n proteïentekort toon, behandel word, duur dit steeds geruime tyd totdat die tekort herstel – ten spyte van behandeling en veral as aanvullings op natuurlike laat winterveld of oesreste nie voldoende is nie. Al wat die middel doen, is om die meeste slakke dood te maak, terwyl die liggaam self moet herstel van die gevolge van lewerskade (proteïenverlies).

Aannames dat opgietmiddels die ontstaan van weerstand teen triklabendasool kan verhaas, is ongegrond.

Bloedtoetse (Elisa) is slegs ’n aanduiding dat die bees met lewerslak besmet is of voorheen daaraan blootgestel was. Die toetse bly geruime tyd positief – selfs nadat die bees doeltreffend teen lewerslak behandel is. Elisa-bloedtoetse moet dus versigtig geïnterpreteer word. Dit is nuttig as ’n kuddetoets, maar nie vir individuele beeste nie.
Die toets kan wel aandui dat beeste met lewerslak besmet is twee weke nadat besmetting plaasgevind het, dus voordat volwasse slakke in die galbuise van die lewer gevind word en voordat ’n diagnose van lewerslakbesmetting op grond van miseiertellings gedoen kan word.

Miseiertellings is ’n aanduiding van die teenwoordigheid van volwasse slakke – dus meer chroniese besmettings.

As die meeste slakke in die lewer onvolwasse stadia is (meer akute besmettings), kan die eiertelling negatief wees. Deur in so ’n geval nie diere te behandel nie, kan nadelige gevolge hê.

Die keuse van ’n middel hang hoofsaaklik af van die seisoen. Opgiet- en doseermiddels wat triklabendasool bevat, het albei ’n plek in die bestryding van lewerslak. As die regte produk aangewend word saam met ’n goeddeurdagte weidingstrategie, sal die verskuilde en regstreekse verliese as gevolg van lewerslak betekenisvol beperk word.

Verwysings
• Anon. 2011. Mims IDR 2011/12 Reference. MIMS/ Avusa media Ltd. Bll. 306, 392
• Boray J.C. 2011.Control of acute, sub-acute and chronic fasciolosis in sheep and cattle (an essay for general information). Paper on file.
• Coopers Sovereign Tegniese Bulletin 03/11/04
• Dorchies P.H. 2006. Flukes: Old Parasites but new Emergence. XXIV World Buiatrics Congress, Nice. Proceedings p 322- 336.
• Sargeant R. 2011. Persoonlike kommunikasie
• Snyman M.G. 2011. Persoonlike kommunikasie
• Soulsby E.J.L. 1968. Helminths, Arthropods and protozoa of Domesticated Animals. 6th edn. Bailliere,  Tindall & Cassel
• Reynecke R.K. 1983. Veterinary Helmintology. Butterworths.

Geskryf deur: Drs. Johan Cloete, Tom Strydom en Willem Schultheiss, hulle is veeartse in diens van Merck Dieregesondheid. (tom.strydom@merck.com)

 
Hierdie artikel het in die Landbouweekblad van 26 Augustus 2011 verskyn.
 
30 Augustus 2011
 
Lees ook:

Kommentaar

Kommentaar (2) “Regte middels troef lewerslak

  1. wimpie richter
    wimpie richter

    My sister het glo lewerslak opgedoen en word al vir npaar jaar behandel feer homopaat medikasie en word ook in gespiut in die lewer .dit gaan nie goed met hasr nie
    Wat moet ons doen asb.

    • Jan Bezuidenhout

      Wimpie, ons veearts kan nie help nie: Spreek ‘n mediese dokter.
      Sterkte


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X