Vra vir Faffa

Ram gee baie ramlammers

Vraag

Ek het Dorpers en in twee jaar het ek 85% ramlammers aangekry! Ek wil graag meer ooilammers hê. Wat kan dit dalk wees of wat kan ek verander? Kan dit dalk die ram of ooi wees? Of dalk voeding? Ek is al raadop! Help asseblief!

Antwoord

Ek heg ‘n vraag aan wat dr. Hannes Dreyer vroeër oor ‘n soortgelyke probleem in beeste beantwoord het.

 

Opskrif: Bul gee meer bulkalwers 

Vraag:

Ek boer met Simmentaler beeste in Oos-Gauteng. Ek is so halfpad deur my kalweroes en 77% van al die kalwers is bulle. Verlede jaar het ek dieselfde ervaar. Ek maak net gebruik van KI (Taurus-, Genootskap- en Privaatbulle). Een van my buurmanne het dieselfde ervaring. Wat kan dit veroorsaak? 

Antwoord:

Normaalweg sou ‘n mens verwag om aan die einde van ‘n kalfseisoen ewe veel bul- en verskalwers te hê. Waar die bulkalwers soveel meer is as die verskalwers wat aangekom het,  is die standaardverklaring gewoonlik dat enigiets in die natuur moontlik is en dat die getalle oor ‘n aantal dekseisoene homself sal uitsorteer sodat daar eweveel bul- en verskalwers is. Dr. John Chandler van die VSA het in 1996 ‘n studie gedoen wat getoon het dat die semen van sekere bulle meer Y-chromosome dra as ander bulle. In die studie met “DNA image analysis techniques” is gevind dat twee bulle uit ‘n groep van 10 onderskeidelik 82 en 84% Y-chromosome gedra het in vergelyking met die verwagte 50%. Dieselfde resultaat is verkry met ‘n opeenvolgende ejakulaat. Chandler kom dan ook tot die gevolgtrekking dat indien ‘n mens saad gebruik van ‘n bul met 80% Y-draende chromosome, jy ‘n klomp bulkalwers in die kalfseisoen moet verwag. 

Volgens Richard Pursley van Michigan(2004) is die normale verhouding van bulkalwers tot verskalwers 54:46. Daar is volgens hom metodes bv. deur die inseminasietyd te verander, waardeur daar tot 10% meer verskalwers aangekry kan word. 

Die gevolgtrekking waartoe meeste navorsers kom, is dat indien jy meer bulkalwers aankry dit blote toeval kan wees of dat jy saad gebruik van ‘n bul wat ‘n hoë proporsie manlike spermselle het. 

Geskryf deur: dr. Hannes Dreyer, Veekundige (hannesdreyer@vodamail.co.za

24 Oktober 2009 

‘n Ander moontlike verklaring vir die hoë voorkoms van ramlammers mag moontlik wees weens ‘n mangaantekort.  Enkele navorsingsproewe oorsee bevestig ’n hoë voorkoms (meer as 71 %) van bulkalwers waar ernstige mangaantekorte voorgekom het.  In ‘n plaaslike vleisbeeskudde het tot 75 % van die koeie, wat ‘n suboptimale mangaanstatus gehad het, bulkalwers geproduseer.  Toe die managaantekort reggestel is, het die verhouding van bul- tot verskalwers weer teruggekeer na ‘n 50:50 verhouding. ‘n Geval is ook gepubliseer waar ‘n hoë voorkoms van ramlammers gebore is van bokooie wat ‘n mangaantekort gehad het. 

Die aanbeveling sal wees om ‘n volledige lewerontleding van minstens drie skape te laat doen om hulle spoorelementstatus te bepaal. Indien spoorelementtekorte voorkom, moet dit betyds reggestel word, naamlik drie maande voor die paarseisoen vir teelramme en vier weke voor die paarseisoen vir teelooie.  Om te verhoed dat antagoniste die spoorelementopname onderdruk, moet organiese en/of cheleerde spoorelemente aangevul word.  Terselfdertyd moet Vitamien A en E ook aangevul word.  Die spoorlementstatus moet gereeld met lewerontledings gemonitor word om te verseker dat voldoende spoorelemente aangevul en dat dit geabsorbeer is om optimale spoorelementstatus te verseker. 

Groete. 

Jasper 

Dr. Jasper Coetzee

Jasper Coetzee Consulting

Pr.Sci.Nat. (Anim.Sci.) Ph.D. (Agric.) Stell.

Professionele Veekundige (400328/83)

Skaapvoeding- en Bestuurspesialis Konsultant

Adres: Posbus 12022, Die Boord, 7613

E-pos: jasperco@iafrica.com

Sel: 076 846 8800

 

28 Oktober 2013


Kommentaar

Een kommentaar op “Ram gee baie ramlammers

  1. Martin
    Martin

    Hi

    Ek het dieselfde ondervind (3 jaar se oes was slegs 5 ooie gebore van meer as 100 lammers). Ek het later my ram verander en vandat die nuwe ram daar is, het die prentjie omgeswaai. My ooi kudde groei nou dat die biesies bewe (3 lammings 41 ramme van 110 lammers). My persoonlike gevoel is dat party ramme maar net neig om meer van die een as die ander te gee.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X