Vra vir Faffa

Ram by lakterende ooie

Vraag

Kan ek ‘n ram by die ooie laat loop na hulle lammers gehad het want ek het ‘n baie klein plasie. Die lammers is nou 3 weke oud. Die ram is huidiglik in ‘n klein kampie. Die ander ooie is almal dragtig en lam nou tot einde Oktober. Kan hy vir so lank toe bly? Sal hy nie stres nie? Hoe groot kamp moet hy hê? Sal hy nie spring om by die ooie uit te kom nie? Die ooie is Ile de France en die ram ‘n Vleismerino. Die ander jong ooie wat op voerkraal is, sal eers Februarie gedek kan word.

Antwoord

Ons beveel nie aan dat ramme by lakterende ooie loop nie, want dit kan tot gevolg hê dat tot 20 % van die ooie in teelrus (anestrus) gaan en nie die daaropvolgende paarseisoen op hitte kom nie, wat die lampersentasie drasties kan verlaag.

Hierdie verskynsel dat van die ooie in seisoenale teelrus gaan, gebeur ook waar ‘n praktyk gevolg word waar ramme dwarsdeur die jaar by die ooie bly (Schinckel, 1954).  Van die lakterende ooie kan egter so vroeg as 24 tot 42 dae na lam weer op hitte kom en dan deur die ram bevrug word wat tot buite seisoen lammers aanleiding gee indien die ram saam met hulle loop.

Hou liewers die ram in ‘n aparte kraaltjie met ‘n 1.2 m hoë heining.  Die kraaltjie moet minimum 5 x 10 m wees sodat die ram darem ‘n bietjie beweging toegelaat word en daarom moet die voerbak op die verste punt vanaf die waterbak geplaas word.  Voorsien koelte asook skoon en koel drinkwater en voer ‘n onderhoudsrantsoen om te verhoed dat die ram oorvet word.

Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee

Jasper Coetzee Consulting

Pr.Sci.Nat. (Anim.Sci.) Ph.D. (Agric.) Stellenbosch

Skaapvoeding- en Bestuurspesialis Konsultant

Professionele Veekundige (400328/83)

Adres: Posbus 12022, Die Boord, 7613

E-pos: jasperco@iafrica.com

Sel: 076 846 8800

26 September 2017

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X