Vra vir Faffa

Raaigras as weiding vir skape

Vraag

'n Skaapboer in die omgewing (Potchefstroom/Fochville) het raaigras (of is dit ryegras) aangeplant op 1 ha onder besproeiing (4 kampe) en wei 90 ooie permanent (winter en somer) volgens hom op hierdie weiding. Ek het al by hom slaglammers gekoop op 52kg lewende gewig direk van die land af en moet sê ek was verheug om die vetgehalte op te merk by sy Dormerlammers (seker so graad 2-3). Ek het huidiglik so klompie Vleismerino/Dormer kruisings asook 'n paar stoet IDF skape. Ek beoog om weiding aan te plant en het sedertdien water tot my beskikking vir die doel van besproeiing. Ek oorweeg onder andere die raaigras sterk, maar sien dat u in 'n vorige antwoord gesê het dat daar ten minste ook 33% somergewasse moet wees. Wat is die werklike nut hiervan en hoe sal dit my skape affekteer indien ek slegs raaigras plant? Ek het ook heelwat natuurlike weiding beskikbaar, maar glo die skape sal dalk net op die raaigras oorleef. Indien ek wel tot raaigras sou oorgaan, wat is die verskil/voordele/nadele van eenjarige en meerjarige raaigras? Ek probeer die ding so moeitevry moontlik te maak. Is daar moontlik 'n saadmengsel van meer as een tipe gewas wat u dalk kan voorstel wat ek deur die jaar kan gebruik vir weiding?

Antwoord

U is reg dit is raaigras in Afrikaans en rye grass in Engels. Ons maak gebruik van 3 soorte raaigras: (i) Eenjarige Westerwold raaigras, (ii) Eenjarige Italiaanse raaigras en (iii) Meerjarige raaigras. Die meerjarige raaigras groei net in dele met koel somers en hoë lugvog. Die enigste gebied waar dit regtig goed doen is in die KZN misgordel. Dit is ook nie sterk meerjarig nie – hou uiters 3 – 4 jaar.

 

Eenjarige raaigras produseer nie in die somer nie. Die tabel hieronder dui die groeitye van die 2 eenjarige raaigrasse aan. Eenjarige raaigras is uitstekende weiding in die winter en ek verstaan hoekom u so beïndruk met die kwaliteit van die slaglammers was.

 

As u voel u het genoeg veld vir die somer beskikbaar, is dit in orde. Ek aanvaar dat u ook in Noordwes boer en in daardie geval kan u ‘n Smutsvinger/Rhodesgras mengsel (droëland) vir addisionele somerweiding plant. U gaan egter daarby baat om ook Langswenkgras vir die koeler maande  onder besproeiing te plant, wat u tot 9 maande weiding kan bied. Sien bespreking oor die gras hieronder.

 

RAAIGRAS

Eenjarige   Raaigras

Italiaanse   Raaigras

Westerwolds   Raaigras

Herfs   aanplanting

Feb.   – Apl.

Lente   aanplanting

Aug.   – Sept.

Plant   slegs in Herfs

Feb.   – Apl.

Produseer    herfs en vroeë winter, maar neem af in koue maande en produseer dan   saad. Kort groeisiklus

Blom &   saadvorming eers na 15 – 18 mnde. Produksie hoog in lente, en in die   volgende jaar herfs en lente. Groei stop in 2de jaar se Nov/Des

Lang daglengtes   stimuleer blom & saadvorming, dus in Nov/Des. Dan begin groei afneem en   die weiding minder smaaklik raak. Bied weiding van Apr/Mei tot Nov/Des. Beste   in mid-winter

Diploïde kultivars:

NCD   Enhancer, Exalta, Moata

Diploïde kultivar:

Agri-Hilton

Tetraploïde Kultivar:

Jeanne

Tetraploïde kultivars:

Jivet,   Energa, Captain.

 

LANGSWENKGRAS: (Festuca arundinaceae)

Kultivars:

     Amelie (hele SA) en Emmeraude (Oos Kaap)

  Kompeterende kultivars:

          Ferugo, Dovey, AU Triumph ens.

 

Reënvalbehoefte: 850 mm + (Verkieslik besproeiing)

 

  • Baie goeie weiding, maak ‘n uitstekende staande hooi en hooi. Dit kan ook ingekuil word. Op sy smaaklikste voor saadstadium.
  • Plant April/Mei (Maart in koue areas), asook in Sept/Okt. indien geen onkruide teenwoordig is. Die gras is baie gevoelig vir onkruidkompetisie.
  • Vermy te kort beweiding gedurende die warmste maande, vir die res van die jaar puik weiding. Kan droëland in vleie en hoë reënval (800mm) areas geplant word, maar doen baie goed onder besproeiing.
  • Doen goed in leem tot swaar kleigrond en kan versuip toestande vir redelike tye oorleef.

 

Plantdigtheid: 20kg/ha

Hooi: 8 – 16 t/ha

Weikapasiteit:3.5 GVE/ha

 

Geskryf deur: prof. Chris Dannhauser, Weidingskundige (chriswei@vodamail.co.za)

 

3 November 2013


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X