Vra vir Faffa

Q-Koors die oorsaak van aborsies

Vraag

Die afgelope paar maande het aborsies in skape en beeste voorgekom in die Villiers–distrik en is Q-koors as die oorsaak deur Pathcare bevestig. Nog ‘n veearts het kommentaar gelewer dat hierdie siekte, wat aborsies veroorsaak en ‘n “verdwyningsfaktor van lammers” in die baarmoeder is, meer algemeen voorkom en dat die diagnose dikwels gemis word. Ek soek meer inligting oor die siekte.

Antwoord

Die  afgelope paar maande  het aborsies in skape en beeste voorgekom  in die Villiers–distrik en is Q-koors as die oorsaak deur Pathcare bevestig. Nog ‘n veearts het kommentaar gelewer dat hierdie siekte, wat aborsies veroorsaak en ‘n “verdwyningsfaktor van lammers” in die baarmoeder is, meer algemeen voorkom en dat die diagnose dikwels gemis word.

Hieronder word meer inligting oor hierdie siekte gegee.

Q-koors is ‘n soönose (siekte wat van diere na mense oorgedra kan word) wat deur ‘n bakterie, Coxiella burnetii  veroorsaak word. Die bakterie word wêreldwyd in gedomestikeerde herkouers,  wat die bron van besmetting vir mense is, gevind. Die naam Q- koors kom van “Q fever –query fever” en is in 1937 voorgestel deur Edward Holbrook Derrick om ‘n koorssiekte wat in abattoirwerkers in Australiё voorgekom het,  te beskryf.

Epidemiologie

C. burnetii word orals in die wêreld gevind, maar nie in Nieu-Seeland nie. Die kiem kom voor in ‘n groot verskeidenheid bosluise, knaagdiere, voёls, wilde en mak soogdiere. Teenliggaampies teen die kiem is ook gevind in slange en skilpaaie in Indiё. Alhoewel varke, perde, kamele, Asiatiese buffels, honde, katte, hoenders, eende, ganse en kalkoene besmet mag wees, is makgemaakte herkouers die hoofbron van besmetting vir mense.

Opnames in Suider Afrika het aangetoon dat C. burnetii  endemies in beeste is. Teenliggame teen die siekte is in 8% van beeste in Suid-Afrika gevind.

Alhoewel beeste, skape en bokke vir jare chronies besmet kan bly, is die meeste besmettings subklinies (wys nie siektetekens nie). Hierdie diere kan egter groot hoeveelhede kieme in amniotiese vloeistowwe, nageboorte, mis en urine uitskei. Persone wat die hoogste risiko het om besmet te raak, is: boere, abattoirwerkers, huid- en wolverwerkers, veeartse en dieregesondheidswerkers.

Besmettings in mense en diere gebeur hoofsaaklik deur die inaseming van besmette aёrosols afkomstig van vloeistowwe rondom die geboorteproses. ‘n Enkele kiem kan tot ‘n infeksie aanleiding gee.

Die kiem, wat buite selle voorkom, is baie weerstandig teen uitdroging, lae of hoё pH, ontsmettingsmiddels en ultraviolet  bestraling. In aёrosols kan die kiem tot 2 weke en in die grond tot solank as 5 maande bly lewe. Amoebas (protosoïese organismes) kan selfs met C. burnetii besmet raak en hulle oorlewing in die omgewing aanhelp. Uitbreke het al voorgekom waar kontak met mis gemaak is. In uitbreke wat voorgekom het, was daar geen kontak met besmette plase, diere of hulle produkte nie. In hierdie gevalle is die besmetting toegeskryf aan windoordraging van ‘n besmetting in die area.

Meer as 40 bosluisspesies, asook luise en myte   is al gevind wat natuurlik met C. burnetii besmet is en oordraging van die kiem tydens voeding kan laat plaasvind. Bosluisbyte mag ‘n rol speel in die oordraging van die kiem in knaagdiere en voёls, maar daar is nie bewyse dat hulle belangrik is in die handhawing van infeksies in plaasdiere nie. Die kiem vermeerder in die dermselle van bosluise en groot getalle kom in die mis van bosluise voor. Besmette huide en wol mag ‘n bron van besmetting vir mense wees deur direkte kontak of wanneer die mis uitgedroog het en ingeasem word as stofdeeltjies.

Groot hoeveelhede organismes word in die melk van melkkoeie, veral in die begin van laktasie, uitgeskei. Tot 23% van suiwel koeie mag organismes in hulle melk uitskei en 21% van massa melktenks in Engeland en Wallis het gerapporteer dat daar infeksie teenwoordig is.

Die kiem  kan by kamertemperatuur in gedistilleerde water of steriele melk  by kamertemperatuur vir maande en selfs jare leef.  Alhoewel mense Q-koors mag opdoen deur besmette rou melk te drink of deur besmette melkprodukte te eet,  mag tot 60% mense serologies positief toets sonder om simptome te wys.  Huidiglik is die aanbevole temperatuur vir die  pasteurisasie van melk aangepas om C. burnetii te inaktiveer (62,8°C vir 30 minute of 71,7°C vir 15 sekondes).

In Noord-Amerika het uitbreke van Q-koors  voorgekom a.g.v. direkte of indirekte kontak met katte wat geboorte gegee het. Twee persent  seropositiewe  katte is in Suid-Afrika gevind tydens ‘n opname, maar katte is tot dusver nie geїmpliseer in menslike besmetting in Suid-Afrika nie.

Uitbreke is ook gerapporteer in mense wat blootgestel is aan besmette duiwemis.

Mens tot mens oordraging van C. burnetii is raar, maar geskied deur die plasenta, gedurende bloedoortappings en nadoodse ondersoeke. Seksuele oordraging is ook al gevind.

Verloop van die siekte

C. burnetii  val sekere witbloedselle aan. Meeste infeksies geskied deur die asemhalingstelsel en  witbloedselle in die longsakkies is betrokke. As die infeksie deur die spysverteringstelsel plaasvind, is selle in die lewer betrokke. Daarna versprei die kieme deur die liggaam en dit gaan met ‘n koorsreaksie gepaard.

In areas waar die siekte voorkom (endemies) raak kalwers besmet gedurende die eerste jare van hulle lewe en herstel volkome daarna of behou die infeksie sonder om siektetekens te wys.

Daar word vermoed dat hormonale veranderinge in die finale stadium van dragtigheid in gedomestikeerde herkouers massiewe vermeerdering van C. burnetii in die baarmoeder , foetale weefsel en uier teweegbring. Ongeveer  50% van verse wat seropositief is, skei kieme in die plasenta, geboortevloeistowwe  en melk tydens kalwing uit. Die persentasie neem af soos diere ouer word.

Kliniese tekens

Infeksie van diere lei selde tot kliniese tekens.

Beeste: Nadat beeste eksperimenteel  met die kiem besmet is, is laegraadse temperature aangeteken en is aangedui dat longontsteking kan ontwikkel. Alhoewel  daar baie kieme in die melk  van besmette koeie voorgekom het, het die melkproduksie nie afgeneem nie. Voortplantingsprobleme mag  voorkom in besmette kuddes. Die kieme het ‘n  voorliefde om te vestig in die embrio of foetus maar tog is die voorkoms van aborsies ongewoon.

Skape en bokke: Alhoewel raar, kom aborsies meer voor in skape en bokke. Tot 50% van dragtige ooie in ‘n kudde mag aborteer. Pasgebore lammers mag swak wees in kuddes waar aborsies voorkom.

Gedurende die jare 1981 tot 1987 het die Reproduksie seksie van die Onderstepoort Veterinêre Instituut  gevind dat 1% van aborsies in beeste, 3% in skape en 2% in bokke toe te skryf was aan Q-koorsbesmetting

Mense: Akute besmetting in mense is dikwels sonder simptome, maar kan dikwels met milde griepsimptome soos koors, kopseer en spierpyne presenter, wat spontaan binne ‘n week opklaar. In sommige gevalle mag longontsteking ontstaan, wat dodelik mag wees, leweraantasting en selfs breinvlies-, hartspier en  -vliesontsteking. In meeste gevalle word die infeksie deur die immuunstelsel van die mens beheer, maar die C. burnetii kiem word nie geїllimineer nie en kroniese infeksie mag dan voorkom. Laasgenoemde kom veral voor in mense met hartklepsiektes, immuunonderdrukkende siektes en swanger vroue.  Die mees algemene tekens by mense wat kroniese besmetting opgedoen het en wat selfs maande en jare na besmetting mag voorkom, is: hartspier-, bloedvat-, kroniese lewer- en beeninfeksies.

Diagnose en differensiёle diagnose

Monsters wat geneem word wat C. burnetii bevat, moet uiters versigtig behandel word want hulle is hoogs besmetlik vir mense wat hulle hanteer. Slegs laboratoriums wat ingerig is om hoogs besmetlike materiaal te hanteer, moet genader word om ondersoeke op monsters te doen.

Impressiesmere van die vrugknoppe en vrugvliese van diere wat geaborteer het, word gekleur met Giménez of die gemodifiseerde Ziehl-Neelsenmetode. Ander metodes soos ELISA, PKR en serologie word gebruik om die siekte te diagnoseer.

Beheer

Effektiewe kommunikasiekanale moet ontwikkel word om mense in te lig oor die vroeё diagnose en beheer van Q-koors uitbreke.

Die beheer van die infeksie is baie moeilik omdat die kiem baie weerstandig is teen omgewingsfaktore en chemiese ontsmetting.

Behoorlike  parasietbeheer en goeie higiёniese praktyke kan omgewingsbesmetting verminder. Besmette foetale vloeistowwe en nageboortes, aborsies en besmette beddegoed moet verbrand of begrawe word. Besmette diere moet, indien moontlik, uit die kudde verwyder word en in ‘n afsonderingskamp  geboorte gee.

Geїnaktiveerde entstowwe is al ontwikkel (nie beskikbaar in die RSA nie) wat onvrugbaarheid, aborsies en lae geboortemassa  verminder. Hierdie entstowwe verminder egter nie die uitskeiding van die kiem nie en mense is ten spyte van inenting deur diere aangesteek.

In ‘n uitbreek kan diere wel met ‘n tetrasiklien behandel word. In beeste wat chronies besmet is, het tetrasiklien behandeling nie die uitskeiding van kieme verhoed nie. Bespreek behandeling met jou veearts.

Besmetting in mense kan tot die minimum beperk word deur werkers in die diere-industrie in te lig oor die risikofaktore van hoe Q-koors opgedoen word. Laboratoriums moet voorbehoedende veiligheidmaatreёls tref sodat werkers nie besmet word nie.

Inenting in hoё risikowerk moet oorweeg word bv. abattoirwerkers.

Promoveer die gebruik van gepasteuriseerde melk en melkprodukte.

Bronne:

Coetzer, J.A.W. and Tustin, R.C. 2004. Infectious Diseases of Livestock. Oxford University Press ISBN 0 19 578202X

Inligting bekom van drs. Dave Midgley en D’Wall Hauptfleisch

Geskryf deur: drs. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)  en  Marijke Henton, Idexx SA (maryke@idexxsa.co.za)

12 Februarie 2015

Opskrif: Krale wat besmet is met Q-koors

Vraag: Ek het ’n paar ooie wat geaborteer het en het toetse laat doen op al die skape, nageboortes en selfs die lammers wat dood gebore is. Die uitslag het aangetoon dat die kudde positief is vir  Q-koors (Coxiella burnetti). Hierdie bakterie is baie skaars. Wat is die beste manier om die krale skoon te kry?

Antwoord: Die antwoord hierbo oor Q-koors is deeglik en duidelik.
Ek kan nie enigiets toevoeg nie. Pasteurisasie maak die Coxiella bakterie wel dood, maar dis nie ‘n opsie vir ‘n kraal nie.

Misverwydering sal baie stof veroorsaak, wat gevaarlik vir die werkers sal wees.

Die enigste uitvoerbare opsie sou wees om die kraal met ‘n dik laag sand te bedek.

Geskryf deur: Dr. Marijke Henton, Baktrioloog (henton@vetdx.co.za)

20 Oktober 2016


Kommentaar

Een kommentaar op “Q-Koors die oorsaak van aborsies

  1. Celandene Moore
    Celandene Moore

    My man het Q-koors opgetel iewers en het die nag sweet,koors,kopseer,spierpyne symptome al vir 2 jaar onophoudelik.As daar asseblief meer inligting is hoe om mense te diagnoseer sal ons dit hartlik wardeer.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X