Vra vir Faffa

Probleme wat met Angorabokkies ondervind word

Vraag

Watter probleme is gedurende die lente/somerseisoen met Angorabokkies van 1999/2000 ondervind?

Antwoord

Gedurende die afgelope lente/somerseisoen het baie Angoraboere probleme met die grootmaak van hul bokkies ondervind. Alhoewel goeie reëns in die die meeste distrikte aangeteken is, het baie boere ondervind dat boklammers swak doen en in sommige gevalle is swaar verliese onder bokkies gerapporteer. Uit die oogpunt van ’n veeartspraktisyn kon ’n patroon in die die meeste gevalle gevind word. Hierdie artikel wil aan die hand doen waarom hierdie probleme voorgekom het en voorstelle (moontlik betwisbaar) oor toekomstige stappe om hierdie verliese te voorkom, opper.

Eerstens moet die klimaattoestande van die betrokke periode in ag geneem word. Die voorafgaande winter was matig (El Niño?), wat die opbou van patogene (siekteverwekkende organisms) op alle terreine tot gevolg gehad het. Die natuurlike seisoenale/ sikliese blootstelling van insekte, uitwendige en inwendige parasiete, bakterieë en virusse aan die elemente was nie so doeltreffend soos ander jare nie. Dit mag hipoteties klink, maar as ons die hoë telling van haarwurm (gewoonlik ’n somerparasiet) in skape in die middel van die winter in ag neem, mag dit dui op soortgelyke neigings by ander organismes. Sekere bosluisspesies wat gedurende die winter normaalweg op ’n laagtepunt is, het ook meer algemeen voorgekom.
Sagte deurdringende reën met gereelde tussenposes en met konstante hoë humiditeit het klein stagnante poele water oral in die veld laar vorm en ons kon nie vir beter gevra het nie. Omgewingstemperature was nie baie hoog nie en ons het ’n matige somer beleef. Ongelukkig kon die “goggas” waarheen ons vroe?r verwys het, ook nie vra vir beter toestande nie en die geweldige impak van hul vermenigvuldiging is nie voorsien nie.
Aanvanklik was bosluisverwante probleme en veral voetabsesse die grootste probleem. Baie ooie het lam geword en kon nie wei soos hulle moet nie. Toe is plantvergiftigings soos verwag, gediagnoseer. Veral jong tweetand bokkies is dood vanweë ganskweek (Lassiospermum bipinatum). ’n Verslag van blougroen algvergiftiging in die Drie Sustersarea is ook ontvang. Baie jong bokkies, wat wissel van jong bokkies tot tweetand, is met ernstige geelsug na veeartse gebring. Diagnoses wat wissel van plantvergiftiging tot hemolitiese vorms van pasteurellose is gemaak. (Blougroen-algvergiftiging veroorsaak ook in sommige gevalle geelsug)
 
’n Geval van Wesselsbronsiekte is toe in die Murraysburgdistrik bevestig. In hierdie geval het die bokkie ernstige geelsug gehad wat die staatsveeartse genoop het om op groot skaal oor ’n wye area diere te bloei (Murraysburg, Graaff-Reinet, Aberdeen en Beaufort-Wes onder andere). Daar is bevind die Wesselsbronsiekte wat in die Murraysburgdistrik gediagnoseer is, het oor ’n groot area versprei. Daar is sterk aanbeveel dat skape en bokke volgens aanbevelings ingeënt word. Slenkdalkoors, ’n siekte wat met Wesselsbronsiekte ooreenstem, veroorsaak baie meer vrektes en behoort ooreenstemmend hanteer te word.
Verskeie gevalle van interne parasiete in jong bokkies wat reeds herkou, is gediagnoseer. Veral haarwurm (Haemonchus contortus), bruin maagwurm (Teladorsagia circumcincta) en koksidiose (Eimeria spp.) is gereeld as die skuldiges geïdentifiseer. Die meeste van hierdie gevalle het op aangeplante weiding voorgekom, maar baie gevalle het ook op veldweiding voorgekom. Ek skryf hierdie verskynsel toe aan die uitsonderlike klimaattoestande. Jong bokkies het gewei (gras gevreet en nie bossies en struike  nie) en dus baie meer parasietlarwes ingeneem.
Baie gevalle van swelsiekte is waargeneem. Hierdie siekte kom volgens my meer dikwels voor slegs weens een rede. Ons teel geneties diere om meer, fyner sybokhaar te produseer ten koste van ’n gesonde konstitusie. Die gevolg is dat diere lewensbelangrike voedingstowwe (veral proteïene en energie) in veselproduksie kanaliseer ten koste van basiese onderhoud. Swelsiekte is in wese die resultaat van ‘n val in plasmaproteïene wat gemanifesteer word deur vloeistof wat uit die selle en weefsel beweeg en afsak om watersugtige massas aan die onderkant van die lyf en die bene te vorm.                                            
 Dit mag deur ’n aantal faktore, waarvan stres en interne parasiete die belangrikste is, veroorsaak word. Stres wat veroorsaak kan word deur ongure weer (veral kort na skeer!) verandering in voeding (selfs van sleg na goed) en uitermate hantering (bv. dip, dosering, inenting en in krale jaag) plaas onnodige druk op die immuunsisteem van die dier. Hierdie immuunonderdrukking veroorsaak proteïenuitputting. Interne parasiete wat belangrik is by swelsiekte, is koksidiose en rondewurms. Onthou, enige verandering in die voeding van herkouers bring aanpassings in die mikroflora in die rumen van die dier. Gedurende hierdie periode, wat so lank as 6-8 weke kan duur, word die dier se metaboliese sisteem onder druk geplaas en indien dit reeds tot die limiet gestrek is, ontstaan probleme.
Heelwat gevalle van pasteurellose is voor- en nadoods gediagnoseer. Weereens, soos met swelsiekte, is ek oortuig daarvan dat ons na die genetiese samestelling van ons Angoras moet kyk. Immuunonderdrukking speel ’n belangrike rol in ’n essensieel bestuursverwante probleem. Die stresverwante probleme hierbo genoem, moet tot die minimum beperk  word, maar om dit te bereik sal ons na meer weerbare diere moet kyk. Om diere in ’n skuur te beskerm teen weersomstandighede (selfs in die somer tydens ’n bietjie reën) moet sekerlik aan ons ’n boodskap oordra. In die geval van pasteurellose (’n opportunistiese organisme feitlik universeel teenwoordig)
strek die konsentrasie van diere in skure nie net tot die voordeel van die diere nie, maar ook die organismse verantwoordelik vir siektes. Die plaas van diere in skure het verreikende gevolge (i.e. stres, voeding, vermenigvuldiging van patogene, ens.) en behoort deeglik oorweeg te word. Ons vind al hoe meer boere los die diere buite en maak hul verliese so klein moontlik. Inenting teen Pasteurella alleen het min voordele.
Bo en behalwe die verliese wat gely is, bly die diere wat herstel het, se groei belemmer. Lammers wat swak doen, is dikwels die gevolg van die probleme wat bespreek is. Proteïenmetabolisme benodig tyd en boere word ontmoedig indien behandeling nie onmiddellike herstel teweegbring nie. Om parasietladings en stresvlakke te verminder en aanvullings van vitamiene en minerale en hoë graad voeding te verskaf, het onbevredigende resultate gelewer. Dit is gewoonlik toe te skryf aan onherstelbare skade aan die lewer, beenmurg en sisteme verantwoordelik vir proteïenmetabolisme.  
 
Ten slotte:
  1. Bestuurstegnieke toegepas veroorsaak dikwels baie van die verliese aan bokkies wat ervaar word.  Oorweeg die gevolge van diere in skure plaas gedurende ongure weer deeglik.
2. Ek besef die genetiese aspek is ’n aanvegbare saak, maar ek twyfel nie dat dit in die toekoms ernstige  oorweging sal moet kry nie.
Geskryf deur: Dr. R.T. Larson (larsonroland@telkomsa.net)
(Hierdie artikel het in die  “Angora Joernaal”  van 2000 verkyn)

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X