Vra vir Faffa

Probleme met uitpeuloog?

Vraag

In die verlede (6 tot 7 jaar) het die probleem van uitpeuloog hier voorgekom met groot verliese onder kleinvee.

Antwoord

Vraag:
Ek werk op Neudamm Landboukollege, 40 km oos van Windhoek, waar met kleinvee en grootvee geboer word. Al die omringende plase is of beesboere of gasteplase. Hier kom algemeen baie wild soos koedoes, rooi hartbees en gemsbokke voor.

In die verlede (6 tot 7 jaar) het die probleem van uitpeuloog hier voorgekom met groot verliese onder kleinvee. Dit was gewoonlik ná die winter wanneer vrektes voorkom en as ‘n voorkomingsmaatreël word alle kleinvee begin September gespuit met ‘n ivermektien en dan weer elke 3 tot 4 weke later gedoseer met ‘n breë spektrum middel. Die vrektes was ook beperk tot kampe wat grens aan grootveekampe waar die Hartbeeste voorkom.

Die getal vrektes het oor die laaste 2 tot 3 jaar baie verminder en ons het nie meer die nodige voorsorgmaatreëls toegepas nie. Hierdie jaar (sowat 3 weke gelede), het ons kleinvee (Karakoel, Dorper en Damaraskaap) in die veld gevind, of reeds dood of besig om te vrek. Vier diere is na twee verskillende veeartse in Windhoek gestuur, maar hulle kon nie sê wat die oorsaak van die vrektes is nie.

Daar is bespiegel dat gifplante moontlik die oorsaak kon wees. Dié tyd van die jaar is alles droog (blomme). Die diere toon die volgende simptome: Lê op hulle sye en roei/skop baie met hulle kloue, kop trek agteroor, effe skuim by bek met normale asemhaling en vrek as hulle op die voertuig gelaai en vervoer word. Diere vrek ook nie waar normale vrektes in die verlede voorgekom het nie.

Ek het elke dag hypo in die water gegooi vir plantvergiftging asook kampe gewissel. Diere vrek ook in 2 groepe, nl. dragtige ooie (vier maande) en dan ook slagdiere. Alle troppe is 400 tot 500 per groep en skape en bokke loop saam. Die bokke word nie siek nie. Ons weet dat die Hartbeeste die natuurlike gasheer is van die vlieg wat uitpeuloog dra en versprei. My vraag is net of dit moontlik is dat die siekte nou al kan voorkom? Is daar ‘n ander tipe voorkomingsmaatreël wat gevolg kan word? Wat sal dr. Faffa aanbeveel moet ons doen? – Johan Oberholster (joberholster@unam.na)

Antwoord:
Ek het gaan kers opsteek by Dr. Piet Basson wat ‘n kenner van uitpeuloogsiekte is in u area. Hy was jare lank verbonde aan die Veterinêre Laboratorium in Namibië. Die vlieg, waarskynlik Gedoelstia spp., wat die Blou wildebees, Hartbees en Swartwildebees as natuurlike gasheer benut, het waarskynlik die kliniese tekens wat in die kleinvee voorkom, veroorsaak.

Skape en uitsonderlik bokke word aangetas as die Gedoelstia spp. vlieë larfies in die oë van hierdie diere deponeer. Aangesien hulle abnormale gashere is, veroorsaak die migrasie van hierdie larwes letsels in die oog, brein en hart wat aanleiding tot uitpeuloog senuweesimptome en hartversaking gee. Gewoonlik is die vlieë nie teenwoordig in die wintermaande nie, maar ek verstaan dat u laat reën gehad het wat tot gevolg kon hê dat die omstandighede ideaal was vir ‘n hoë voorkoms van hierdie vlieë in die herfs en vroeë winter.

Vir ‘n meer volledige beskrywing van die lewensiklus van Gedoelstia spp. van hierdie probleem, lees ook oor oogsiektes, wat op 24/01/2005 in hierdie afdeling (Vra vir Faffa) bespreek is.

Behandeling:
Ek sou voorstel dat indien daar weer ‘n geval voorkom u so ‘n dier na die patoloog by die Staatsveeartslaboratorium in Windhoek moet neem vir ‘n volledige nadoodse ondersoek.

Hoewel dr. Piet Basson feitlik seker is dat besmetting met die Gedoelstia spp. larwes die tekens veroorsaak het, moet ons ook aan vergifting met plante dink.

Plante wat hartglikosiede bevat, is Slangkop en Gifblaar. As diere stres ervaar deurdat hulle bv. op ‘n bakkie gelaai word, kan hulle vrek en a.g.v. die longswelsel sal skuim by die neus uitkom. Grootpensinhoud, lewer en niere wat gevries word, kan na ‘n laboratorium (Onderstepoort) gestuur word waar vir die gifstof getoets kan word. Geaktiveerde koolstof teen ‘n dosis van 2 gram per kilogram kan in water opgelos word in ‘n bottel en stadig deur die bek vir die aangetasde diere gegee word.

Senuweesimptome kan veroorsaak word deur die Malkopui en Sewejaartjies. Daar is geen behandeling vir hierdie plantvergiftiging nie. Die brein en oog in formalien kan aan die laboratoruim gestuur word om die diagnose te bevestig.

Indien skape gereeld met ‘n vliegbeheermiddel soos Deltab (Intervet, Reg No. G2514, Namibiese Reg No. N-SR 0915), Delete X5 (Intervet, Reg No. G3279, Namibiese Reg No. N-SR1118), of opgietmiddels soos Delete (Intervet, Reg No. G2815, Namibiese Reg No. N-SR 0913), Delete All (Intervet, Reg No. G2837, Namibiese Reg No. N-SR 091) almal deltametrien bevattende middels behandel word, sal die vlieggetalle afneem.

Behandel skape met ‘n makrosikliese laktoon bv. Ivotan (Intervet, Reg No. G2514, Namibiese Reg No. N-SR 0915), om Gedoelstia spp. larfies te dood wat alreeds in die diere voorkom.

 

  • Geskryf deur: Dr. Faffa Malan met die hulp van prof. Neil Fourie en dr. Piet Basson.

    7 Julie 2005


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X