Vra vir Faffa

Probleme met peervormige slakwurm

Vraag

Beeste het geweldige diarree. Hulle loop in vleie en daar is alreeds vrektes. Wat kan dit wees?

Antwoord

Die lewensiklus van die peervormige maagslakwurm (Calicophoron (Paramphistomum) microbothrium) is baie soos die van lewerslakwurms, behalwe dat die onvolwasse stadium in die dunderm die kliniese tekens en die skade veroorsaak voordat hulle terugkruip tot in die grootpens (rumen) en ruitjiespens (retikulum) waar die volwasse peervormige maagslakwurms vassuig en eiers lê wat in die mis uitgeskei word. Hulle lê eiers, wat uitgemis word en wanneer dit in die water val, uitbroei en die waterslakke (tussengashere) besmet. Die volwassenes wat klein ± 1cm lange, peervormige rooibruin slakwurms is en in die grootpens voorkom, rig min of geen skade aan nie. Die onvolwasse peervormige slakwurms in die melkpens en eerste deel van die dunderm (duodenum) heg aan die dermwand vas en die vertering en absorpsieselle word vernietig, wat dan ongemak en aptytsverlies by die dier veroorsaak. Die dermwand word geweldig beskadig deur die vashegting en vertering van kos word sleg benadeel. Prote?ene lek ook in die derm in deur die wonde. Verlaagde kosinname en verhoogde waterinname veroorsaak stinkende, projektiele diarree met gevolglike gewigsverlies. Afhangend van die aantal onvolwassenes, kan die dier binne 5-9 dae nadat die diarree begin het, vrek.   

Wanneer is peervormige maagslakwurm ‘n probleem? Uitbreke word veral in die herfs en wintermaande (in somerreënval areas) gesien. In ‘n goeie reënseisoen is die natuurlike watervlakke in die vleie en poele hoog. Dan is die besmette varswaterslakke, Bulinus tropicus (wat die rol as tussengasheer speel) in ‘n groter volume water versprei en is die aantal wurmpies (metaserkarieë) wat deur die dier ingeneem word baie min. Maar in die droë seisoen (herfs en winter) krimp die watervlakke. Die besmetlike varswaterslakke konsentreer dan in die vleie en die wurmpies (serkarieë) wat die slakke verlaat, swem tot teen ’n vaste voorwerp soos ’n grassie. ’n Beskermende doppie word dan om hulle gevorm en die besmetlike stadium word ’n metaserkarieë genoem en hulle is dan gekonsentreerd op die grassies en waterplante om waterbronne. Die metaserkarieë kan vir lang tye besmetlik bly solank hulle vogtig bly. Koue is ook ’n stimulus vir die besmetlike slakke om serkarieë vry te stel.
 
Dit kan moelik wees om ‘n diagnose te bevestig, veral in die akute stadium van die siekte of uitbreek omdat dit die onvolwassenes is wat die skade aanrig en nie die volwassenes nie en dit die volwassenes is wat die eiers lê. Om die rede is ‘n miseiertelling nie van waarde op hierdie stadium nie. ‘n Diagnose word gewoonlik op kliniese tekens, tesame met ‘n positiewe reaksie op behandeling gemaak. Die onvolwassenes kan ook soms gesien word in die diarree met die hulp van die regte toerusting (klein, fyn filter) en ‘n mikroskoop. Tydens ‘n vars nadoodse ondersoek kan die onvolwasse peervormige  slakwurms in die eerste deel van die dunderm (duodenum) gesien word. Dit lyk soos pienk tefsaadjies wat aan die dermwand vassit.
 
Hoe beheer ons die siekte? Diere met tipiese tekens van onvolwasse besmetting (sien bo), met ‘n geskiedenis van wei op besmette vleie, moet onmiddellik vir peervormige maagslakwurm behandel en na veilige weidings verskuif word. Veral hoogs vatbare diere soos verse, speenkalwers en skape moet nie toegelaat word om weiding te benut wat moontlik besmet kan wees nie. Vleie kan afgekamp word waar prakties moontlik, of vleikampe kan bewei word wanneer daar minder besmette slakke teenwoordig is. Volwasse beeste (na eerste laktasie) is minder vatbaar en hulle ontwikkel ‘n redelike goeie immuniteit. In die stadium is middels wat die aktiewe bestanddeel oksiklosanied bevat die behandeling van keuse vir koeie in melk omdat daar geen melkonttrekkingsperiode is nie. Die behandeling moet na 72 ure herhaal word om peervormige maagslakwurm effektief te beheer. Net een behandeling is nodig vir die beheer van volwasse lewerslakwurm. Slegs een behandeling met ’n middel wat die aktief resorantel bevat, beheer volwasse en onvolwasse peervormige slakke. Daar is ’n melkonttrekking van 2 dae wat gevolg moet word. Die aktief niklosamied is ook geregistreer vir die beheer van die onvolwasse stadium van peervormige slakwurm in skape en bokke. Bespreek met u plaaslike veearts wanneer en hoe gereeld diere behandel moet word.
 
Geskryf deur  drs. Faffa Malan en Barry Coates
 
Die artikel het ook in die Dairymail van Mei 2006 verskyn.
 
12 September 2009

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X