Vra vir Faffa

Probleme met horings wat afgesny is

Vraag

Ek wil graag uitvind hoekom ons Simmentalers weke nadat ons hul horings afgesny het, skielik hul koppe na die eenkant toe begin draai en duidelike pyn toon. Kry hul wurms in die plek of wat kan dit wees? Ons ontsmet dit na ons afgesny het, maar dit bly gebeur en kom uitstluitlik in ons Simmentalers voor. Ons sny ook die horings in koeler weer reeds om vlie? op die plekke te voorkom.

Antwoord

Ja, dit is heel waarskynlik die geval dat die diere deur brommers aangeval word, wat dan hul eiers lê in die oop wonde. Maaiers broei dan uit en val die weefsel aan en algemene inflammasie in die area ontwikkel. Die diere toon dan tekens van pyn en irritasie in die aangetaste areas.

Ek wil dit graag streng benadruk dat die onthoringing van volwasse beeste waar die frontale sinusholte (die holte wat binne-in die voorste kopbeen sit) aaneenlopend is met die horing slegs deur ‘n gekwalifiseerde veearts gedoen behoort te word. Komplikasies kan algemeen voorkom, maar die belangriker rede is dat hierdie ‘n uiterse pynlike prosedure vir die bees kan wees indien dit sonder die korrekte senuweeblokke en pynbehandeling toegepas word. Bo en behalwe die wetlike aspekte rondom die welsynkwessie kan die ekonomiese verlies weens stres veroorsaak deur die pyn (wat gewoonlik oor die hoof gesien word) heel moontlik meer wees as die koste om die prosedure professioneel te laat doen.

Daar bestaan die moontlikheid dat sinusitis (ontsteking van die sinusholtes) in hierdie beeste ontstaan het a.g.v. die prosedure. Ongelukkig word daar nie genoegsame inligting verskaf oor die probleem nie en dit word aanbeveel dat die veearts gekontak word en die probleem aan hom/haar verduidelik word.
Die rede waarom slegs die Simmentalers aangetas word, is ‘n interessante observasie en nie iets wat in ons hospitaal gerapporteer is nie. ‘n Mens kan maar net spekuleer dat die vorm van die horingbasis en die aansluiting van die horing by die frontale sinus moontlik van so ‘n aard is dat dit meer geneig is om tot probleme te lei. In ‘n kudde waar ons onlangs spesifiek volwasse beeste onthoring het wat Simmentalers asook ander rasse (Brahman, Bonsmara) insluit, was daar min komplikasies en geen verskil tussen rasse nie.
 
Geskryf deur: dr. Dietmar Holm, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria
 
29 Julie 2010
Lees ook:
 
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X