Vra vir Faffa

Probiotika

Vraag

Ek het ’n mak dwergbok met absorpsie en verteringsprobleme soos deur die veearts gediagnoseer. Weens antibiotika en diarree behandeling toe sy klein was, sal probiotika haar moontlik nou tot voordeel wees. Ek weet nie watter probiotika produk om vir haar te gee nie? As u vir my moontlik name van produkte kan gee sal ek dit waardeer..

Antwoord

Hoewel daar ‘n redelike goeie geskiedenis of agtergrond gegee word, is daar tog nog vrae wat ek het:

·         Hoe oud is die dwergbok nou? Is hy al ‘n volwaardige herkouer of nie? Dit bepaal vir my watter tipe probiotika ons moet/kan gee.
·          ‘n Lam behoort dan iets soos Protexin of Biorem (G958) te kry wat onder andere “Lactobacillus” organismes in het om te help met die vertering van die melk. Antibiotika, hoewel dit baie goed is, kan nie tussen “goeie en slegte” bakterieë en ander organismes onderskei nie. Hierdie “goggatjies” is nodig vir normale spysvertering in mens en dier. Goter/volwasse herkouers het weer spesifieke organismes wat hulle in staat stel om gras en laer kwaliteit ruvoer te verteer en dan te kan benut. Die grootpens is dan of dien dan as ‘n “fermentasietenk” waarin hierdie vertering plaasvind en is soos ‘n septiese tenk op ‘n plaas afhanklik van organismes om goed te kan funksioneer. Koors “brand’ hierdie organismes dood. Net so kan suurpens as gevolg van ‘n oormaat kragvoer hierdie “goggatjies” laat vrek of daartoe lei dat die samestelling daarvan verander. Daarom dat ons altyd probeer om nie skielik van een soort voer waaraan die dier en dan sy organismes gewoond is, skielik te verander na ‘n totaal ander soort voer toe nie! Ons skakel geleidelik oor of pas die pens stelselmatig/geleidelik aan by die nuwe rantsoen – ‘n proses wat ‘n paar dae kan duur.
·         Hierdie afsterwe van organismes is dikwels ‘n akute of skielike proses wat gelukkig darem na ‘n paar dae “herstel” – die hele “ekosisteem” is ‘n dinamiese een wat gedurig aanpas by omstandighede. Ons gee dan probiotika “voorkomend” vir siek diere en diere wat van omgewing verander of selfs moet aanpas by ‘n nuwe rantsoen. Selfs na ‘n dier ‘n gifplant geeët het, gaan dit help.
·         Sien hierdie toevoeging dus as ‘n “normalisering” van die grootpens of fermentasietenk. Indien die dier diarree het, wil ons die pens weer normaliseer. Net so indien dit na ‘n siekte of voeraanpassing “gaan staan”
·         Vir volwasse diere gebruik boere dikwels ‘n “bierresep” – halfbottel asyn, koppie suiker en bietjie brouersgis (in die ou dae het ons ‘n “koekie” gebruik. Deesdae sommer net ‘n teelepelvol wat ons met bietjie warm water “aktiveer” en by die mengsel sit. Die resep word dan aangevul met water om ‘n “wynbottel” vol te maak en dan sommer daarmee ingegee. Die mengsel is genoeg vir een volwasse bees en/of 4 volwasse skape of 8 lammers
·         Die dermkanaal se binnekant of absorbeerarea is oortrek met slymvlies – iets met ‘n ongelooflike herstelvermoë! Interne parasiete soos byvoorbeeld haarwurm en knoppieswurm beskadig dit, maar ten spyte daarvan is daar nog genoeg “gesonde” weefsel oor om die diere “goed” te laat funksioneer, ten spyte van matige besmettings. En dan is dit eintlik ongelooflik om ‘n paar weke later sulke diere se derms te ondersoek en te sien hoedat hulle herstel het.
·         Dit is dus my mening dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die bokkie se derm sodanig beskadig is op ‘n vroeë stadium van sy lewe, dat dit nou nog tot die probleem lei (maar hou asseblief in gedagte dat ek nie die geleentheid het om die dier ordentlik te ondersoek nie, en ook nie weet wat presies met hom/haar as jong dier gebeur het nie!)
My aanbeveling is dan dat ons moet kyk na sy/haar voeding, die waterkwaliteit en ook na ander bestuursmaatreëls soos parasietbeheer wat moontlik ‘n rol kan speel.
Hoewel probiotika dan in my oë ‘n baie goeie “hulpmiddel” is, dink ek nie dat dit ander onderliggende “probleme” net so sal/kan regstel nie.
Indien ons die probleem kan uitsorteer, verdwyn die simptome en behoort allerhande byvoegings nie nodig te wees nie…
Geskryf deur: dr. Dave Midgley. Veeartskonsultant (dave.midgley@vodamail.co.za)
13 Desember 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X