Vra vir Faffa

Praktiese bulbestuur

Vraag

Ek beplan om bulle aan te koop. Het u vir my raad wat om te doen as ek hulle op die plaas aflaai en hoe moet ek hulle verder bestuur? Mnr. Arthur de Villiers, bekende Bonsmara-teler, gee raad.

Antwoord

Praktiese Bulbestuur

Inleiding

‘n Bul is die belangrikste dier in u beesboerdery. Hy maak slegs 3-4% van u kudde uit, maar dra geneties 50% by tot elke kalf wat hy produseer.  ‘n Enkele bul kan 40 en meer kalwers per jaar vir u lewer.

Die nuwe bul op u plaas

  • Indien die “nuwe” bul saam met “vreemde” ander bulle vervoer word, is die ideaal om die bulle nie saam in dieselfde kompartement op ‘n trok te laai nie – veral nie as hulle “los” staan nie – hulle kan baklei op die trok en die ondergeskikte bul kan ook nie wegkom van die bakleier af nie –  laai vreemde bulle verkieslik in aparte kompartemente (selfs ook, waar moontlik, bulle wat mekaar ken). Kontroleer tydens die aflaai van die bul of hy enige beserings tydens die vervoer na die plaas opgedoen het. Indien wel, behandel onmiddellik.
  • Dit is belangrik dat nuwe, vreemde diere eers vir ongeveer ‘n maand apart van  ander beeste loop – dus word hulle in kwarantyn gehou. Hierdie nuwe diere moet met ‘n bosluismiddel wat amitras bevat (verlam die monddele van vatbare bosluise en maak hulle ook dood) asook met ‘n inspuitbare makrosikliese laktoon (beheer bloubosluise en rondewurms) behandel word. Vatbare parasiete wat hulle kon saambring, sal dan beheer word. As dit nie gedoen word nie kan parasiete van ander plase en omgewings op die plaas gevestig word.
  • Sorg dat die bul (veral as dit net een bul is) afgelaai word in ‘n veilige kamp (met goeie drade) saam met ‘n ander bees of twee om hom geselskap te hou. Hierdie kan ‘n speenkalf of bv. ‘n  jong bul wees – wat ook met bg. middels behandel is. Skoon water en goeie weiding sal hom dadelik meer rustig maak. Maak seker hy kry die water. Laat die bul met rus vir ten minste twee dae.
  • Die bul kan beperk of omvattend verseker word en/of u kan semen tap van die bul indien dit spesiale genetika is. Indien bulle inbring word vanaf ‘n siektevrye area na ‘n area waar siektes soos hartwater, rooiwater, galsiekte ens. endemies is, verseker eerder die bul omvattend vir ‘n jaar.         
  • Skakel die bul dadelik in u normale dip-, doseer- en inentingsprogram in – onafhanklik van wat die vorige eienaar gedoen het.
  • Indien die bul baie vet is – kry hom stelselmatig van die kragvoer af: Eerste week 8 kg/dag, tweede week 4kg/dag, derde week 1kg/dag saam met sy toekomstige lek ad lib., vierde week net sy normale lek.
  • As dit moontlik is, hou die nuwe bul weg van ander bulle totdat hy by sy koeie kom d.w.s. die bul behoort eers vir ‘n seisoen te werk voordat hy in die groter bultrop geplaas word.
  • Onthou dat ‘n bul tande wissel tussen 2 en 2,5 jaar. Hy kan dus gewig verloor as hy moet aanpas in sy nuwe omgewing, in gemiddelde weiding loop en nog moet dek ook.
  • Die ideaal is om die bul twee maande of langer voor die dekseisoen begin op die plaas te kry sodat hy in sy nuwe omgewing en voedingstoestande kan aanpas.

Voor die dekseisoen.

  • Baie belangrik – Toets bulle drie tot ses weke voor die dekseisoen vir vrugbaarheid en doen skedewasse vir trigomonose en vibriose. Uit ‘n proef waar 10,940 bulle getoets is vir geslagsgeskiktheid in Amerika, was ongeveer 20% nie geskik vir gebruik nie. Normaalweg gaan u voor elke dekseisoen ten minste 10% bulle “verloor”. Identifiseer hulle voor die dekseisoen – die koste om dit te doen is baie minder as die kalwers wat “verloor” gaan word omdat dit nie gedoen is nie. Toets selfs die “nuwe” bul ook – al is hy verkoop met ‘n vrugbaarheidsertifikaat – die effek van die stres van die veiling en die vervoer kan sy vrugbaarheid op die kort termyn beïnvloed.
  • Selfs in stelsels waar meerbulparings gebruik word, is dit noodsaaklik om semenevaluasie van die bulle te doen want dominante bulle met swak semen kan jonger bulle met goeie semen weg hou van die koeie.
  • Gaan bulle deur voor die dekseisoen vir algemene gesondheid en kyk dat hulle struktureel normaal is en dat hulle gang (loopvermoë) op geen manier ongemaklik of abnormaal is nie.
  • Spuit die bulle twee maande voor die dekseisoen Vitamien A en Minerale (Multimin + Se + Cu).  Bovimin of Embamin en Embavit (word deur die bek gedoseer) is ook  handelsname wat gebruik kan word. Hierdie behandeling kan herhaal word na ongeveer twee maande.
  • Bulle se kondisie behoort altyd tussen 2,5 en 3,5 uit 5 te wees. Oorvoeding lei tot swaar, onfiks en lomp bulle wie se semen ook gewoonlik onder standaard is. Vet aanpakking in die nek van die skrotum is gevaarlik en lei tot swak termoregulering met die gevolg dat semen swak is.
  • Ondervoeding kan ook ‘n probleem wees, maar gewoonlik neem libido eers af voordat semengehalte beïnvloed word. Indien bulle effens skraal is, begin twee maande voor die dekseisoen om hulle byvoeding te gee. Dit kan wissel van ‘n produksielek tot 5 -10kg konsentraat per bul per dag.
  • Immuniseer bulle teen drie dae stywesiekte en vibriose – twee maande voor die dekseisoen.

Gedurende die dekseisoen.

  • Observasie van u bulle, veral jong bulle, is belangrik. Kyk of sulke bulle dekbehendig is en ook of hulle libido (dekdrang) het. Jong bulle is aanvanklik onervare, maar binne ‘n paar dae behoort hulle dekbehendig te wees. Daar is gewoonlik 10% bulle met geen of swak libido – identifiseer hierdie bulle en vervang hulle.
  • In meerbulparings troppe – sit ouer en jonger bulle saam – nie bulle wat ewe sterk is nie en ook nie minder as 3-4 bulle per 100 koeie nie. Vir ons werk dit om een volwasse bul en twee jong bulle per 75 koeie te gebruik. In enkelbul dektroppe behoort 30 tot 40 koeie per volwasse bul vir drie maande per bul toegedeel te word. Jong bulle met baie potensiaal moet liewer alleen in ‘n groep gebruik word – anders gaan u dalk te min kalwers van hulle aankry.
  • Indien ‘n bul ‘n koorsreaksie gehad het a.g.v. rooiwater, anaplasmose, knopvelsiekte, drie-dae-stywesiekte ens. sal sy semen heelwaarskynlik dood wees en dit kan twee maande (selfs langer) neem om reg te kom. Goeie observasie behoort gedoen te word gedurende die dekseisoen om dadelik te weet as bulle siek of beseer is. Vervang dan so ‘n bul. Vrotpootjie gedurende die dekseisoen moet dadelik behandel word want dit is ‘n baie pynlike toestand en die bul sal nie dek voordat die vrotpootjie gesond en nie meer pynlik is nie – behandel die bul met ‘n langwerkende antibiotika soos deur jou veearts voorgeskryf. Kyk dat bulle gesond bly gedurende die dekseisoen. Beserings a.g.v. bakleiery of ander redes kan ‘n bul uitskakel in die dekseisoen – veral heup-, been- en kloubeserings.
  • Hou rekord van die koeie wat gedek word. Ongeveer 60% koeie raak beset in hulle eerste siklus. Indien meer koeie “terugkom” is daar ‘n probleem en dit moet so gou as moontlik geïdentifiseer en reg gestel word. U het nog tyd om die probleem reg te maak – maar u sal  gou moet speel. Indien die probleem in ‘n spesifieke enkelbul-parings trop voorkom, vervang onmiddellik die bul. Indien die probleem in ‘n spesifieke meerbulparingstrop voorkom, mag dit moontlik wees dat die dominante bul onvrugbaar of laag vrugbaar is. Probeer om daardie bul te identifiseer en vervang hom onmiddellik.
  • Dektroppe behoort nie langs mekaar te loop nie. Bulle baklei deur die draad en ‘n bul met goeie libido sal deur ‘n gewone draad breek na ‘n koei op hitte. Met twee jaar oud en jonger bulle kan nog ‘n kans gevat word as die heining baie goed is.

Na die dekseisoen.

  • Honger die bulle uit in aparte sterk krale vir drie tot vier dae (sonder kos of water). Neem die bulle dan een-een na die “bulkamp” waar goeie weiding en skoon water vrylik beskikbaar is. Bulle behoort in hierdie omstandighede te vergeet van die koeie en ook meer lus te wees vir vreet as om te baklei. Die bulkamp moet ook veilig wees sonder te veel klippe, slote en gate, daar moet ook genoeg spasie wees vir bulle om vir mekaar pad te gee.
  • Die ideaal is om bulle twee-twee (een ouer en een jonger) te laat loop en nie almal saam in een kamp nie. Veral waardevolle bulle behoort apart gehou te word. In die praktyk gebeur dit egter dat bulle tussen dekseisoene saam gegooi word en die eienaar kan dan nie veel meer doen as oë toeknyp en hoop vir so min as moontlik beserings nie. 
  • Die bulkamp kan veilig gemaak word deur dubbelheinings (3 meter uit mekaar) te span teen die kante waar daar ander beeste langsaan loop. Elektriese heinings kan ook help – alhoewel meer nasorg nodig is.
  • Omdat bulle meer baklei
    en ‘n groter “persoonlike” ruimte nodig het – maak voorsiening vir genoeg vreetspasie by die lekbakke of wanneer beperkte aanvulling gedoen word. Tussen 0.5m en 1m per bul behoort voldoende te wees. Omgedopte vragmotor of trekkerbande is goeie lekbakke – dit is onvernietigbaar en kan ook nie die bulle beseer as hulle baklei nie.
  • As daar met die bultrop gewerk word – kyk dat al die bulle nie in ‘n bondel gejaag (vasgedruk) word nie – hulle baklei gewoonlik onder sulke omstandighede. Bulle wat mekaar vir maande aanvaar het kan skielik begin baklei as hulle rondgeskuif word – die mooi woord is “verplasingsgedrag”.
  • Tussen dekseisoene – moenie bulle almal saam met die melkkoeie of ‘n ander koei laat loop nie. Die bulle kan, deur almal dieselfde koei te dek, mekaar besmet met geslagsiektes.

Algemene opmerkings.

  • Vir elke tien bulle wat u gebruik, is dit raadsaam om een reserwe bul te hê vir bulle wat siek of beseer mag word gedurende die dekseisoen.
  • Meeste mediumraambulle kan alreeds op 14 maande gebruik word indien hulle ten minste 420kg weeg, testis ten minste 340mm omtrek het en hulle semen positief getoets is. Hierdie jong bulle behoort 10 – 20 koeie in drie maande te kan dek.
  • Normaalweg kan mediumraam Sanga of Bos Indicus tipe bulle gebruik word tot op tien jaar – ouer bulle kan ook gebruik word, maar dan moet spesiale observasie gedoen word om te kyk of die bulle nog goed werk.
  • Mediumraam Sanga of Indicus tipe bulle wat volwasse is, weeg tussen 800 en 1000kg d.w.s. ten minste 1,5 tot 2 GVE – onthou dit t.o.v. die grootte en drakrag van die bulkamp.
  • Geniet u bul – in 90% van die gevalle behoort u geen probleem te hê nie.

Geskryf deur: Arthur M. de Villiers, Arcadia Bonsmaras, Vrede (amdev@zippnorth.co.za)

18 Oktober 2013                                                                                                                       


Kommentaar

Een kommentaar op “Praktiese bulbestuur

  1. Danie
    Danie

    Dalk vind jy dit interessant. Pa


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X