Vra vir Faffa

Pootprobleme in voerkraal

Vraag

Vrotpootjie by kalwers wat nou 64 dae in kraal is, gee my las. Prossessering is deeglik gedoen, krale is skoon en is vry van uitwendige parasiete. Kom hoofsaaklik voor by kalwers wat goeie GDT het.

Antwoord

Kalwers wat ‘n goeie daaglikse gewigstoename toon (GDT), het gewoonlik ook goeie voerinnames.  As die kripbestuur nie baie goed is nie, kan dit gebeur dat sulke kalwers by tye te honger word en dan aggressief gaan vreet wanneer die voerkar verbykom.  Al is sulke kalwers reeds geruime tyd in die voerkraal kan sulke sessies van aggressie by die voerbak lei tot asidose met gepaardgaande laminitis.  Laminitis is ‘n inflammatoriese reaksie wat plaasvind in die sensitiewe gedeelte van die klou en daar vind swelling binne die klou plaas (die Hollanders het ‘n goeie benaming hiervoor nl: kloubevangenheid).  Dit is dan vir sulke kalwers baie pynlik en hulle loop asof op eiers en dit is gewoonlik al vier pote wat aangetas is.  Mettertyd begin sulke kloue dan ook uitgroei, wat dan die helling van die poot verander en dit nog moeiliker maak vir die dier om te loop. Die groei van die klou word ook benadeel en later kan duidelike horisontale groewe in die hoef gesien word.  Sulke groewe kan ontaard in krake in die klou en selfs ook veroorsaak dat die punt van die klou afbreek en die sensitiewe areas blootstel.

Vrotpootjie is weer ‘n heel ander toestand wat ook erge mankheid kan veroorsaak.  Meestal is dit net een poot wat aangetas word.  Hierdie toestand word veroorsaak wanneer die vel beskadig word  – gewoonlik tussen die kloue. Bakterieë, wat in die grond voorkom, dring dan deur die beskadigde vel en veroorsaak ‘n infeksie in die weefsel in die omgewing van die kloue.  Daar vind dan ook swelsel plaas in daardie area en die toestand is baie pynlik.  Dit gebeur ook maklik dat die infeksie versprei na die gewrigte in die klou en net bokant die kloue. Dit is baie moeilik om sulke toestande effektief te behandel as mens nie so gou moontlik behandeling toepas nie, veral as die infeksie reeds versprei het na een of meer gewrigte.  Die pese (senings) wat inplant op die bene in die poot word ook soms aangetas en in erge gevalle kan die pees  skeur (ruptuur) wat dan tot gevolg het dat die bees heeltemal deurtrap op die agterkant van die klou met die toonpunte wat dan heeltemal draai na bo. Die toestand is onherstelbaar.

Beserings is ook dikwels die oorsaak van mankheid in voerkrale.  Dit vind meestal plaas tydens vervoer en die laaiproses van beeste.  Kalm hantering van beeste tydens die laaiproses en by veilings asook tydens prosessering by die voerkraal moet sovêr moontlik toegepas word.  Enige wonde aan die pote of bene kan lei tot sekondêre infeksies en die uiteindelike noodslagting van ‘n dier wat nie kan  herstel nie.  As diere met wonde aankom, moet laaigeriewe, vragmotors en krale ondersoek word vir enige konstruksie of voorwerpe wat wonde en beserings kan veroorsaak.  Die aanstel van ervare vragmotor-bestuurders speel ook ‘n belangrike rol om beserings tydens vervoer te voorkom.

Geskryf deur: dr. Eben du Preez, Voerkraalkonsultant (edupreez1@telkomsa.net)

17 Maart 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X