Vra vir Faffa

Plaaskoop in ’n BK

Vraag

Wat is die redes waarom ’n plaas in ’n BK gekoop word?

Antwoord

Boere koop dikwels ’n plaas en gebruik dan ’n beslote korporasie daarvoor. Gewoonlik word die koop gefinansier met ’n leningsrekening in die BK ten gunste van die boer. Is dit vir hom voordelig? 

Die rede waarom ’n mens ’n beslote korporasie (BK) gebruik om ’n onderneming te bedryf – en ’n boerdery is tog ’n onderneming – is om die sakerisiko te skei van jou as persoon. ’n Maatskappy of BK bied so ’n geleentheid omdat dit ’n afsonderlike regsentiteit is wat afsonderlik van jou as persoon funksioneer en kan optree.
 
 BK’s is baie gewild danksy die eenvoud en buigsaamheid daarvan teenoor dié van ’n maatskappy. Maar dié eenvoud is soms ’n bietjie oordrewe, veral as ’n mens kyk na hoe dele van die Maatskappywet (Wet 71 van 2008) nou op BK’s toegepas word. Verder is die beskerming wat aan ’n BK gebied word in die Wet op Beslote Korporasies (Wet 69 van 1984) maar ’n beperkte beskerming. Moet jou dus nie daardeur laat flous nie.
 
Ek meen egter ons moet liewer fokus op die boer self. Wat beteken sy BK vir hom? Wat word beskerm en waar skep dit vir hom risiko’s waarvan hy dalk nie bewus was nie? Ek kyk in besonder na die doodgewone boer met ’n plaas of drie wat vir homself boer en eendag die plase en die boerdery aan ’n kind wil bemaak. Ons kyk na enkele kwessies wat ek weet vir boere probleme veroorsaak.
 
Ek dink daar loop stories rond dat die plaas by dood buite jou boedel is as dit in ’n BK is. Dit is tegnies korrek, maar die BK self is nou ’n bate in jou boedel. En die waarde van die BK sluit die waarde van die plaas in. So, wat ook al die waarde van die BK by jou dood is, sal jou belang in daardie BK-waarde ’n bate in jou boedel wees en vatbaar wees vir boedelbelasting.
 
Die bepaling van die waarde van die BK sal die hoeveelheid agterstallige skuld in ag neem. Maar as die skuld ten gunste van jou is, is dit op sigself ’n bate in jou boedel en dus ook vatbaar vir boedelbelasting. Effektief is die hele BK, plaas en al, dan ’n bate in jou boedel.
 
Tensy jy die BK met skuld en al in jou testament aan, byvoorbeeld, jou vrou bemaak, is die skuld terugbetaalbaar by jou dood. As die BK nie die geld het om die skuld terug te betaal nie, kan dit dalk nodig wees om die plaas te verkoop om geld te kry om die lening te betaal. Alles gaan dus afhang van jou beplanning en watter voorsiening vir jou naasbestaandes gemaak is.
 
As die bedoeling is dat die leningsrekening in jou leeftyd mettertyd aan jou terugbetaalbaar is, moet jy besef dat jy, deur die plaas in die BK te koop, effektief vir Jan Taks 28% op daardie lening pasella gee. Omdat dit skuld is wat terugbetaal word, moet dit uit die wins van die BK betaal word, en dit is ná betaling van inkomstebelasting teen 28%.
 
Bemaak jy, soos wat ek in testamente sien, die leningskuld aan die BK, is die waarde van die uitstaande lening steeds ’n bate in jou boedel vir boedelbelastingdoeleindes soos ek hierbo genoem het. Daarbenewens sal die BK self ook kapitaalwinsbelasting (KWB) moet betaal op die volle bedrag van die leningsrekening en wel teen 14%. Praat van geld verniet vir Jan Taks weggee!
 
Wat gebeur by verkoop? Verkoop jy die plaas uit die BK – dit is eintlik die BK wat die plaas verkoop, want dit is ’n aparte regsentiteit – dan is die KWB betaalbaar deur die BK. Die BK het eerstens nie die R20 000 per jaar aftrekking (R200 000 by dood) wat individue het nie en hy betaal dié belasting teen effektief 14%, teenoor ’n individu se maksimum van 10%.
 
Boonop het jy ook nie die R1,5 miljoen se primêre woning-vrystelling van kapitaalwinsbelasting wat jy sou kry as die plaas eerder in jou naam was as in die BK nie.
 
Jou ander probleem is dat die BK, as hy die leningskuld aan jou wil terugbetaal ná die verkoop, eers ’n dividend sal moet verklaar en daarop vir Jan Taks eers nóg 10% moet gee. Eers dan kan jy die geld wat jy so goedgunstiglik aan die BK geleen het om ’n plaas mee te koop, weer in jou eie sak terugplaas.
 
In die tipiese scenario soos waarna ek hierbo kyk, sou ’n trust ’n baie sinvoller uitweg gewees het. Ek hou ook van die gedagte dat jy die boerdery dalk in ’n BK bedryf – om dit teen sakerisiko’s te beskerm – en dat die plaas afsonderlik in ’n trust gehou word om die groot groeibate se waarde in jou boedel te beperk.
 
Maar daar is nie ’n enkele struktuur wat vir almal geld nie. Daarom is dit belangrik dat jy ál die feite het vóór jy enige besluite neem.
 
Nico van Gijsen is lid van Fisa en besturende direkteur van Finlac, ’n onafhanklike finansiëlerisiko-bestuursmaatskappy wat by die Finansiële Diensteraad gelisensieer is. Finlac is aan geen finansiële produkverskaffer verbonde nie. Die raad wat hier gegee word, is van ’n algemene aard en moenie as toepaslik vir ’n spesifieke geval beskou word nie.
 
Navrae: Mnr. Nico van Gijsen, tel. 021 461 2067 of faks 086 677 6314. E-pos: nico@finlac.com.
 
Geskryf deur Nico Van Gijsen
 
Hierdie artikel het in die Landbouweekblad van 20 Januarie 2012

Kommentaar

Kommentaar (3) “Plaaskoop in ’n BK

  1. Madeleine Britz
    Madeleine Britz

    Plaaskoop in BK

  2. Elize Grobler
    Elize Grobler

    Goeie naand. Soek raad.ons plaas is kla betaal maar is in n BK. My ma is die eienaar. As sy iets sou oorkom in die verre toekoms, hoe gaan dit die boedel raak as daar geen skuld is op die plaas nie?

    • Jan Bezuidenhout

      Dr. Philip Theunissen antwoord:
      Jy het nie rede tot kommer nie. Die BK vereenvoudig die boedelproses aansienlik. Net die BK se belang is deel van jou ma se boedel en ook net die netto waarde daarvan. Dit word bepaal deur Bates – Laste. In dié geval is daar nie laste nie. So die netto waarde gaan dan basies uit die plaas se waarde bestaan. Hierdie netto waarde word dan in die boedel gebring en daarop sal daar dan kapitaalwinsbelasting en boedelbelasting bereken word. Die BK gaan normaal voort met sy bankrekening, met sy SARS-nommers en jou ma se testament sal net bepaal wie haar belang daarin gaan erf. Die belang kan volgens die testament dan in enige verhouding aan die erfgename toegeken word: gelykop of 50/25/25 of 100% aan een persoon, wat ook al haar wens is. Die erfgename is dan die nuwe eienaars van die BK se ledebelang terwyl die BK as entiteit normaal sake doen. As daar ‘n huurkontrak vir die grond is, gaan die huurkontrak dus voort asof niks gebeur het nie, totdat die termyn verstryk en ‘n nuwe kontrak aangegaan kan word.
      * Geskryf deur dr. Philip Theunissen


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X