Vra vir Faffa

Perde wil nie hooi vreet nie en kry koliek

Vraag

Ons het laas jaar oulandsgras en tef geplant op ons plaas naby Pelgrimsrus. Laas jaar se tef het baie goed verkoop en ons het hooi aan 3 perdestalle in die Laeveld voorsien. Die jaar het dit baie gereën en kon ons eers laat in die land inkom om te sny. Die gevolg was dat ons net een laat snysel kon afkry as gevolg van die nat lande. Dit was dan ook die eerste oulandsgrassnysel gewees! Ons het nou begin klagtes kry van al 3 stalle af dat hulle perde koliek kry en nie die gras wil eet nie. Die bale word in ‘n droë plek gestoor en die gras was goed bemes. Ek is nou raad-op en weet nie wat fout is nie? Hoop julle kan asb. help met raad

Antwoord

Uit die inligting van die boer en uit die laboratoriumresultate kan wel die volgende afleiding gemaak word.

Om goeie hooi te maak, moet die gras in die vroeë blomstadium gesny word. Die hooi word in die sekum (sakderm) van die perd verteer. Goeie hooi is hoog in sellulose en hemisellulose wat deur die bakterieë in die sekum in vlugtige vetsure omvorm word.

Swak hooi is gras wat gesny is as dit reeds ryp is. Die ryp gras is baie hoog in lignien (houtagtige materiaal) wat onverteerbaar is. Die swak hooi het bykans geen voedingswaarde vir die perd nie en dit kan tot impaksie van die kolon (dikderm) en sekum lei, wat dan verder tot koliek kan lei.

Die inligting wat die boer verskaf, bevestig dat die gras van ‘n lae gehalte is, want die gras was laat gesny en was reeds fisiologies volwasse.

Die laboratorium uitslae wys ook dat die gras ryp was.

Tef en oulandsgras is tipiese Suid-Afrikaanse hooigewasse. Die werk wat deur J.W. Groenewald en

P.A. Boyazoglu gedoen is, gee die samestelling van goeie tef aan as:

 

Proteïen 8,1%
Kalsium 0,30%
Fosfaat 0,20%
Kalium 1,24%

 

Uit die laboratorium ontleding van die hooimonster is die volgende gevind:

 

Proteïen 6,125% laag
Kalsium 0,20% laag
Fosfaat 0,07% baie laag
Kalium 0,76% laag

 

Die laboratoriumuitslae wys dat die hooi se voedingswaarde sub-standaard is. Die lae kalium wys ook dat die hooi nie blaarryk was nie. Die spoorelemente veral koper en sink is baie laag.

Hooi wat laat gesny word as die gras eers ryp is, is nie geskik vir perdevoeding nie.

Probeer die hooi sny in die vroeë blaarstadium. Verder moet gras op lande geplant word waarvan daar ‘n volledige grondanalise gedoen is. Die faktore wat hier van kardinale belang is, is:

  1. pH-regstelling deur dolomietiese of kalsietiese kalk
  2. NPK ( stikstof, fosfaat en kalium)
  3. Spoorelemente en spesifiek koper en sink

Ek hoop dit help.

Vriendelike groete

Dr. Hercu van Niekerk (hercu@lantic.net)

9 Junie 2017

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X