Vra vir Faffa

Perd is baie styf na oefening

Vraag

"My saalperd het vir 'n paar dae op stal gestaan en het ek hom gister geoefen. Vanoggend is hy baie styf en kan skaars loop. Wat het gebeur?"

Antwoord

Vraag:
My saalperd het vir ‘n paar dae op stal gestaan en het ek hom gister geoefen. Vanoggend is hy baie styf en kan skaars loop. Sy uriene is koffiekleurig. Wat het gebeur? – Jaco Fourie (ljfourie@vodamail.co.za)

Antwoord:
Die toestand wat jy beskryf is tipies die van Asoturie, mioglobinurie of "Monday Morning Disease." Hierdie is ‘n toestand waar die spierweefsel van perde beskadig word en gaan gewoonlik gepaard met die oorvreting van koolhidrate (stysel).

Die toestand is gekompliseerd: Oefening, gepaardgaande met "iets" anders word gewoonlik as oorsaak gevind:
Faktore wat ‘n rol kan speel:
 

  • Oorvreting van koolhidrate (grane, pille)
     
  • Swak kondisie of onfiksheid, met vinnige toename in werklading.
     
  • Werklading wat toeneem na ‘n rusperiode. Gedurende die rusperiode is die graandieet nie verminder nie.
     
  • Elektroliet- en mineraalwanbalans.
     
  • ‘n Tekort aan Selenium en/of Vitamien E.
     
  • Hormoonwanbalanse in perde.
     
  • Oorerflik.
     
  • Nat, koue, winderige toestande.

    Hoe meer van bg. faktore teenwoordig is, hoe groter is die kans dat spieraantasting kan plaasvind.
    Die grootste enkele oorsaak is ‘n wanbalans tussen die dier se dieet en sy werkslas, veral as die dieet uit baie graan bestaan.
    Die sindroom ontstaan wanneer daar nie gedurende oefening genoegsame bloed na die spiere van die perd vloei nie. Spierselle wat ‘n gebrek aan suurstof ondervind, produseer afvalprodukte, suur en hitte. Die selmembrane mag beskadig raak as die perd geforseer word om aan te hou werk en spierensiemes en mioglobien (spierkleurstof) lek in die bloedstroom in. Die liggaam stoor glikogeen en verwerkte koolhidrate in spierselle. Glikogeen is brandstof vir spiere wat vir energie gebruik word. Glikogeen word opgebruik wanneer die perd werk verrig en opgebou wanneer die perd rus. Suurstofryke bloed verwerk die glikogeen, maar as die bloed nie vinnig genoeg kan vloei nie, kan gestoorde glikogeen nie verwerk word nie. ‘n Ander proses tree dan in werking wat afvalstowwe, hitte en asoturie tot gevolg het. ‘n Perd op ‘n hoë graan dieet, wat min werk doen, stoor meer glikogeen in sy spiere as wat hy effektief kan verwerk wanneer oefening begin, met gevolglike probleme.

    Behoorlike voorbereiding van ‘n perd lei tot beter bloedvoorsiening in die spiere, maar dit kan weke neem. Asoturie kom dus meer voor in perde wat sporadies of lig gewerk word of perde wat net begin om geoefen te word.

    Daar is ‘n wanopvatting dat die opbou van melksuur die oorsaak van asoturie is. Melksuur bou egter op natuurlike wyse op tydens oefening en beskadig nie die spierselle nie. Pyn word veroorsaak deur onvoldoende bloedtoevoer na die spierweefsel, inflammasie agv selbeskadiging en vrystelling van selinhoud. Spierspasmas, wat veroorsaak word deur swak bloedtoevoer na die spiere, is ook pynlik.

    Kliniese tekens: Die eerste tekens kom na vore net na oefening. In ligte aantasting mag tekens eers wys nadat die perd afgekoel het. Die perd wil nie beweeg nie; is styf of het ‘n kort gang; kry spierspasmas en krampe; spiere is hard en pynlik, veral die agterkwart se spiere.
    Erge tekens: Sweet, verhoogde hart- en asemhalingstempo agv pyn; angstigheid; gewig word verplaas van kant tot kant; kromgetrek; rooi uriene; ontwatering; skok en wil nie opstaan nie.

    Behandeling:
    MOET NIE DIE PERD BEWEEG NIE!!

    By ligte aantasting: Verkry pynstillers van u veearts. Laat die perd rus en moenie graan voer nie. Gee hitte terapie en masseer die spiere. Lei die perd stadig as die dier wil loop.

    By erge aantasting:
    Veeartsbehandeling is nodig.
    Binne-aarse vloeistowwe en pynstillers word toegedien, asook Vitamien E en middels wat bloedvloei stimuleer. Dit mag dae neem vir die perd om te herstel.
    Verminder koolhidraat inname en gee meer hooi. Grane kan vervang word met ‘n groente-olie.

    Voorkoming: Perde moet goed voorberei word voordat swaar oefening of werk aangepak word. Begin eers met ligte oefening en opwarming (10 minute) en lei koud na werk (10 minute). Oefen perde elke dag en moenie die program onderbreek nie.
    Voeg kalium en sout by die dieet. Selenium en Vitamin E kan gegee word, bv See-Vit E (Stride). Dit word sterk aanbeveel dat u hierdie toestand met u veearts bespreek.

     

  • Geskryf deur: Dr. Faffa Malan, Intervet 22 Mei 2007

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X