Vra vir Faffa

Peervormige maagslak

Vraag

Een van sy melkkoeie is gediagnoseer met peervormige maagslak en hy soek raad, skryf 'n leser.

Antwoord

Vraag:
Een van my melkkoeie is gediagnoseer met peervormige maagslak. Sy het ‘n sak onder die keel, maagwerkings, maar vreet baie goed. Die veearts het twee dosisse 100 ml Tramizan en maagsement gegee. Nadat ek dit ingegee het, was daar die volgende dag reeds ‘n verbetering, veral die maagwerkings het opgehou. Maar toe begin die maagwerkings weer. Ek het ná twee weke die ander Tramizan ingegee en weer die maag sement. Weer was daar onmiddelik ‘n verbetering, maar na 2 dae begin die maag weer. Is daar iets wat anders wat ek kan doen. Wat presies veroorsaak die sak onder die keel? – Hentie Ferreira (hentief@webmail.co.za)

Antwoord:
Die kliniese tekens van ‘n peervormige slak-besmetting by beeste is dat diere se eetlus verminder, hulle ‘n stinkende projektiele diaree ontwikkel, gewig verloor en selfs vrek.

Die diere tel die besmetlike stadia (metaserkarieë) op deur die kleiner as ‘n speldekopgrootte stadia, wat op grasse en blare by wateroppervlaktes teenwoordig is, in te neem. Die serkarieë wat in waterslakke (Bulinus tropicus) ontwikkel, word vrygestel en swem tot teenaan ‘n gras, plant of voorwerp in ‘n waterbron en heg daaraan vas, verloor sy stertjie en vorm ‘n beskermende doppie om hom waar hy vir maande kan leef as daar vogtigheid in die onmiddellike nabyheid is. Êrens op die plaas moes besmette diere dus gewei het waar daar vleie, moerasse, fonteine of gronddamme is en waar die waterslakke teenwoordig is.

Wanneer plante of grasse met honderde tot duisende metaserkarieë gevreet word, word die onvolwasse peervormige slakkies in die dunderm vrygestel deurdat die doppie van die metaserkarieë verteer word. Die klein slakkies heg met hulle suiers aan die dermwand vas en beskadig die dermslymvlies, asook die melkpens. Plasma-proteïne ontsnap uit die seertjies in die dermwand, die dier eet minder en opname van voedsel kan nie goed plaasvind nie. Die verlaging in plasma-proteïne veroorsaak ‘n swelsel onder die keel wat ons ‘n kwakkeel noem. Die proteïne is nodig om die vloeistofgedeelte van bloed in die are te hou. As proteïne verlaag, beweeg vloeistof uit die are na die liggaamsholtes asook onder die keel.

Die grootste skade word aangerig deur die klein onvolwasse slakkies. Vanaf die 15de tot die 57ste dag beweeg hulle terug na die grootpens waar hulle volwassenes word. Hulle is nou rooi maagslakke, maklik sigbaar, lê eiers en rig geen skade aan nie.

Dit is vir my eienaardig dat net een koei ‘n kwakkeel met maagwerk getoon het. Gewoonlik is dit ‘n kuddeprobleem en diere hou gewoonlik ook op met vreet, wat in hierdie geval nie gebeur het nie.

‘n Middel wat oksiklosanied bevat, moet 2 keer, 72 uur uitmekaar, gegee word of resorantel (Terenol S – Reg. No. G1208 Wet 36/1947) kan gegee word.

Dit mag wees dat die dier ‘n ander onderliggende probleem het soos bv. Johne se siekte, wat deur ‘n bakterie veroorsaak word en ‘n kroniese maagwerk, asook ‘n kwakkeel veroorsaak.

‘n Draad in die ruitjiespens wat in die hartsak steek, mag ook soortgelyke tekens tot gevolg hê. Ek sou voorstel dat u die probleem weer met u veearts bespreek.

1 September 2006


Kommentaar

Een kommentaar op “Peervormige maagslak

  1. Marilize van dyk
    Marilize van dyk

    Kom maagslak by perde voor en indien wel n foto van die parasiet.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X