Vra vir Faffa

Parasiete in dorre gebiede

Vraag

Kom parasiete in dorre gebiede voor?

Antwoord

Parasiete kom wel in dorre gebiede voor; dit is net ‘n saak van vog en die aanwesigheid van die nodige gashere. 

In die geval van wurms word die wurmeiers sowel as die larwes wat daaruit ontwikkel, in die mis vasgevang en eers na voldoende reën kan hul ontsnap. In die afwesigheid van reën vrek by verre die meerderheid van die wurms in die mis wat in die son lê, maar daar is ook baie mis onder bome en selfs naby graspolle (aangenome dat die bestuur reg is en daar wel baie graspolle is), waar dit tot groot mate teen direkte sonlig en oormatige hitte beskerm word.
 
Indien dit kort nadat die mis uitgeskei word, reën, oorleef ‘n relatiewe groot gedeelte van die wurmlarwes in die mis. In Australië is op ‘n keer ‘n proef gedoen met kalwers wat met bruin maagwurm (Ostertagia ostertagi) besmet is deur hul in ‘n kamp te plaas totdat die kamp goed met beesmis besaai is. Daarna is alle diere van die weiding onttrek om te sien hoe lank die wurms op die weiding sou oorleef. Wel, ‘n droogte van 18 maande het gevolg waartydens (aanvaar mens) die mis nooit nat genoeg geword het om die dop sag genoeg te maak vir die wurms om te kan ontsnap nie. En toe die reën uiteindelik na die 18 maande kom, het merkerdiere wat op die weiding geplaas is, redelike groot getalle wurms vanaf die weiding opgetel.
 
Wurmlarwes is baie gehard.  In die geval van bruin maagwurm van beeste het larwes vir iets soos 4 dae in 2% formalien in die yskas oorleef, en selfs in 4% was dit ‘n dag of twee (kan nie die presiese syfers onthou nie). Haarwurm (Haemonchus contortus), wat die hoofprobleem in woestyngebiede is, is nie so gehard nie, maar in die vroeë sewentigs het dit oor ‘n jaar of twee so goed in die Kalahari gereën, dat, soos van die boere aan my genoem het, daar so dikwels as elke 3 weke gedoseer moes word om vrektes weens haarwurm te voorkom. Met andere woorde, selfs meer vatbare wurmsoorte soos haarwurm slaag daarin om selfs in droogtes in relatiewe klein getalle hetsy in die diere en/of op weiding te bly voortleef. Daar is egter ook ‘n ander kalant wat uiters weerstandig is, die langnekbankrotwurm (Nematodirus) wat daarop ingestel is om minstens ‘n jaar op die weiding te oorleef voordat die siklus voortgaan, maar dit is hoofsaaklik in die droë suidwestelike gedeeltes van Suid-Afrika belangrik en nie in die sand, soos in die Kalahari nie. Onthou dat ‘n haarwurmwyfie, wat slegs ongeveer 2 cm lank, en so dik soos ‘n baie dik garingdraad is, tot 10,000 eiers per dag lê en dat ‘n gemiddelde volwasse skaap tot 1000 wyfies kan huisves sonder dat die gevolge baie ernstig is. Maak dan maar die sommetjies oor die getal wurmeiers wat per dag deur slegs 100 skape in die mis uitgeskei word en die klein persentasies wat hoef te oorleef om die voortbestaan van die parasiete te verseker !
 
Die enigste groot rondewurmuitbrekings waarvan ek by beeste in Suid-Afrika bewus is, was in die vyftigs (Reinecke, 1960) toe aansienlike getalle beeste na ‘n lang droogte in die Vryburgomgewing gevrek het. Ten spyte van die droogte het ‘n verskeidenheid wurmsoorte tot die mate in die mis oorleef, dat die verswakte beeste dit nie kon behartig nie en gevolglik gevrek het. Ek beklemtoon beeste hier omdat hul baie beter as skape in staat is om wurms sonder ontwurming te oorleef en nog te produseer. Met ander woorde, by skape verwag mens oor die algemeen nog erger gevolge onder soortgelyke omstandighede ten spyte van die feit dat die miskorrels minder beskerming aan die wurm vrylewende stadia bied.
 
‘n Laaste puntjie:  ek noem slegs wurms, maar in die sand van die Kalahari is die sand tampan en, minstens in streke, die bontpootbosluis dikwels ‘n pes. Daar is so ‘n groot verskeidenheid van parasiete dat, soos ek dikwels die stelling oor wurms aan boere maak, ek ‘n wurm vir elke geleentheid het……
 
Geskryf deur: dr. Jan van Wyk, helmintoloog (jan.vanwyk@up.ac.za)
 
1 November 2010
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X