Vra vir Faffa

Paar varke bly maer in voerkraal

Vraag

Ek voer varke (Landras x Groot Wit) vir slagdoeleindes en het nou al meer as eenkeer die volgende onderneem. Ek gebruik Zeramec (ivermektien plus seranol) wat vir beeste geregistreer is, vir ontwurming. Ek het 5 varke hier wat al 2 maande in die voerkraal staan, hulle eet dieselfde as die ander maar bly brand maer. Wat kan dalk die rede wees?

Antwoord

Aangesien Zeramec® nie vir varke geregistreer is nie, is u optrede ietwat kontroversieel en sekerlik nie baie koste-effektief nie. Die gebruik van Virbamec®LA, wat deur dieselfde maatskappy bemark word, behoort vir u varke ‘n beter en langer beskerming te verleen teen ekto-en-endoparasiete. Dit sal ook meer koste-effektief wees.

Daar kan honderde redes wees waarom van die diere nie gewig optel nie. Dit kan wissel van siektes, beide enteries en respiratories wat die diere aangetas het voor hulle aangekoop is. Daar kan ook meer dominante varke wees wat meer nederige diere van die voerbakke af kan weghou. Verder is dit ook moontlik dat daar genetiese faktore kan wees of dat van die diere net swak presteerders is. Elke bevolking het maar ‘n normale verspreiding van goeie, gemiddelde en slegte presteerders.

Sonder om meer intiem betrokke te wees met die boerdery-situasie en derhalwe meer inligting te versamel, is die soort vraag altyd moeilik om te beantwoord.

Na my mening moet u so gou as moontlik van die varke wat nie presteer nie ontslae raak. Hulle pas nie in die stelsel in nie en kos u onnodig geld, veral as dit so is dat hulle “dieselfde” eet as die ander diere.

Geskryf deur: dr Pieter Grimbeek, Varkkonsultant
pigvet@mweb.co.za

19 Junie 2016


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X