Vra vir Faffa

Otters wat lammers vang

Vraag

'n Leser wil weet of otters sy lammers sal vang en een van ons kundiges help.

Antwoord

Vraag:
Ek boer langs die Breederivier met Dormers en wil net weet of dit moontlik is dat otters lammers sal vang. – Koos du Toit (www.koosdutoit@barvallei.co.za)

Antwoord:
In antwoord op jou vraag of otters lammers vang, dink ek dat ons moet begin by die otter.

In Suid-Afrika kry ons twee spesies naamlik die Kleinotter (Lutra maculicollis) wat baie watergebonde is, ongeveer 9kg weeg, meestal in die Oos-kaap, Natal en Swaziland voorkom, en van krappe, visse, paddas, en akwatiese insekte leef. Dan het ons die Groototter, ook bekend as die Kaapse Kloulose Otter (Aonyx capensis). Hulle voorpote is sonder kloue en hul agterpote is gedeeltelik geweb. Dié kalant is ongeveer 1,2 meter lank, het ‘n skouerhoogte van 35cm en weeg tot 18kg.

Dit is ‘n robuuste dier met goed ontwikkelde slagtande. Hulle is gewoonlik alleenlopend, maar word soms in pare of familiegroepe aangetref en kom wydverspreid in Suid-Afrika voor. Hoewel hulle dag- en naglewend is, is hulle meestal aktief met skemer en met sonsopkoms. Hulle is minder gebonde aan water en dit is bekend dat hulle soms ver daarvandaan beweeg op soek na kos. In die boeke staan dat hul dieet bestaan uit krappe, slakke, visse, watervoëls, knaagdiere en paddas, maar my eie Koek-koekhoenders het erg onder hulle deurgeloop!)

Die voordeel van otters in ‘n gebied word as esteties aangegee en dui op ‘n gesonde ekosisteem. In my 20 jaar in die praktyk het ek met twee gevalle te doen gekry waar ons vermoed het dat ‘n otter betrokke was by predasie, maar boere vertel ‘n gans ander storie! In die eerste geval, waar ongeveer 90 lammers oor ‘n tydperk van 6 tot 8 weke doodgebyt en/of verskeur was, het ons uiteindelik die skuldige op heterdaad betrap en toe ‘n week later in ‘n hok gevang – ‘n ratel!

Ons het spottergewys gesê dat hy linkshandig was omdat omtrent al sy prooi aan die linkerkant van die gesig gebyt was – tandmerke was op die onderkaak, gesig en keel. Baie van die lammers was net doodgebyt en nie aan gevreet nie. In die tweede geval, ‘n jaar of wat later, was jong, gespeende ooilammers aan die ontvangkant. Hulle was meestal lewendig gekry met die neusgedeelte heeltemal weggeskeur en het skeurwonde op die bors gehad wat gelyk het asof dit met kloue oopgeskeur was. Dit het voorgekom ongeveer 500m van die Slangrivier af, in die Heidelberg (Wes-Kaap) distrik – in die tweede kamp van die rivier af.

In uitsonderlike gevalle
‘n Kaapse Otter is een aand net na sonsondergang met ‘n soeklig tussen die skape gesien en die enigste spore wat ons kon vind by die deurkruip-plek onder die draad, was die van die otter. Op grond van sy teenwoordigheid, en die eienaardigheid van sy "byt", asook na ‘n studie van sy bouvorm en gewoontes, het ons besluit dat hy die skuldige is – en die feit dat hy slagtande het en wel vleisvretend is.

So, my antwoord op die vraag is dat ek glo dat ‘n otter in uitsonderlike gevalle wel lammers sal vang, maar dat dit nie sy "normale gedrag" sal wees nie – waarskynlik in tye van kos-skaarste, of dat ‘n individu ‘n voorkeur vir lammers ontwikkel omdat hulle as "maklike prooi" beskikbaar is. Otters is nie bekend as aasdiere nie en is einlik lief vir vars vis wat hulle dan ook gereeld "afspoel" in die water as hulle vreet.

Ander roofdiere word dikwels tydens lamtyd na die lamkampe gelok deur dooie lammers en deur die nageboortes wat rondlê. Daarvandaan gaan dit oor na die vang en vreet van swak en selfs jonger lammers.

‘n Ander interessante geval wat ek gehad het was dat seemeeue tot sover as 40km van die see af ("soos die seemeeu vlieg!") verantwoordelik was vir die verminking van lammers. Hulle was veral om die naelstring verskeur en gevreet. Kraaie het dikwels die lammers se oë uitgevreet en op ‘n ander geleentheid het ‘n boer ‘n Witkruisarend-broeipaar op twee agtereenvolgende dae in ‘n slagyster met ‘n dooie lam as aas, gevang. Die paar is toe in ‘n ander gebied gerehabiliteer.

Ken die vyand
Ons navorsing het daarop gedui dat hulle as aasdiere die dooie lammers kom optel het omdat dit makliker was as om te jag. Die gewoonte van bokke om soms hul lammers agter te laat as die bokooi gaan wei, lei daartoe dat veral boklammers dan soms deur arende as prooi geneem word.

‘n Deeglike ondersoek kan ‘n boer help om vas te stel of hy met primêre- of sekondêre predasie te doen het – met ander woorde of die lam dan deur die roofdier gevang en doodgebyt is (spartelmerke, skeurwonde, bloedbevlekking want ‘n lewendige lam bloei) en/of die lam van ‘n ander oorsaak dood is en dan aan gevreet is (geen spartelmerke, en geen bloeding nie). Spore rondom die prooi, tandmerke, plek van byt, en vreetgewoontes van die roofdier verklap ook meestal watter dier betrokke, of vermoedelik betrokke is.

Ken dus die vyand se gewoontes en maniere, en weet hoe hy te werk gaan. Dan is dit ook makliker om beheermaatreëls toe te pas.

 

  • Geskryf deur: Dr. Dave Midgley, Pfizer Dieregesondheid (dave.midgley@pfizer.com)

    1 Junie 2009

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X