Vra vir Faffa

Ooie se bies is dik en taai

Vraag

Ons is tans in 'n lamseisoen en van ons ooie se bies is baie dik en taai. Is dit ‘n voedingsprobleem of het dit ‘n ander oorsaak? Is daar iets wat ons daaraan kan doen? Dankie. Colin en Annelise Williamson

Antwoord

Laatdragtige ooie wat geen of te min deurvloeiproteïen inneem, toon nie net swak uierontwikkeling nie, maar produseer ook abnormale taai en dik bies wat hoë lamvrektes tot gevolg het. Die volgende toestande kan aanleiding gee tot die produksie van abnormale dik en taai bies: tekort aan deurvloeiproteïen in weiding en lekke; droë weiding; baie sappige groenweiding; voer van sjokoladegraan; voer van slegs grane; gebruik van hoogs degradeerbare proteïenbronne (bv. sonneblomoliekoekmeel, lupiene; kanola-oliekoekmeel, ensovoorts) in lekke en rantsoene.

Abnormale taai en dik bies hou verband met lae biesproduksie (Banchero, 2004); is moeilik om uit te suig (Holst, 1997); vertraag aanvang van laktasie (Holst et al., 1996) en die lammers drink nie binne drie uur na geboorte nie (McCance & Alexander, 1959). Hoe taaier en dikker die bies, hoe groter die kans dat een van ‘n tweeling kan vrek (Holst et al., 1996). Ooie wat vloeibare en voldoende bies reeds met die geboorte van haar lam(mers) het, se lammers suip gouer na geboorte, wat die vorming van ‘n sterk ooi-lamband verseker.
As gevolg van intensiewe navorsing oor jare is daar met die ontwikkeling van Voermol Maxiwolkonsentraat geslaag om die vier beste deurvloeiproteïenbronne (d.i. vismeel, katoen-oliekoekmeel, brouersgraan en gluten 60) in ‘n unieke kombinasie met ‘n uitstekende aminosuurprofiel saam te voeg sodat Maxiwol al die korrekte aminosure in die regte hoeveelheid en verhouding aan ooie voorsien om uierontwikkeling te stimuleer en die produksie van vloeibare bies te maksimeer. Een van die volgende lekke kan aan laatdragtige en lakterende ooie gevoer word: ‘n Maxiwollekmengsel (250 kg Voermol Maxiwol + 200 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 50 kg sout); Voermol Maxiwol Produksiekorrels; Voermol Maxiwol Readymix of Voermol Maxiblok. Vir laatdragtige ooie met tweelingfetusse word een van hierdie lekke vanaf ses weke (± 400 g/ooi/dag) en dié met enkelingfetusse vanaf vier weke voor lam (± 300 g/ooi/dag) gevoer. Na lam word die onderskeie voedingspeile met 100 g/ooi/dag verhoog. Onder geen omstandighede moet skoon grane; sjokoladegrane, droogtekorrels; afrondkorrels of ooi- en lamkorrels vir hierdie klas diere gevoer word nie omdat hulle deurvloeiproteïeninhoud te laag is en/of hulle aminosuurprofiel nie korrek is nie. Dit gee aanleiding tot swak uierontwikkeling; lae bies- en melkproduksie; abnormale dik en taai bies; swak lewensvatbaarheid van pasgebore lammers; swak moedereienskappe (ooie wat lammers weggooi); geboorteprobleme; soms ook domsiekte en melkkoors en wat uiteindelik hoë lamvrektes en swak lamgroei tot gevolg het.
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee,  (jasperco@iafrica.com)
9 Junie 2010

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X