Vra vir Faffa

Onverklaarbare vrektes

Vraag

'n Leser vra raad oor onverklaarbare vrektes onder sy beeste en mnr. Floris Coetzee van die departement van veeartsenykunde by die Universiteit van Pretoria help.

Antwoord

Vraag:
Ek het my een trop beeste (200 Brahman-kruisings) deur die winter tot einde Augustus op ‘n mielieland laat wei. Begin September het ek hulle na ‘n rooigraskamp gestuur. Ek het deurentyd proteïenblokke uitgesit. Toe die eerste reën val, het daar 10 beeste gaan lê. Ons het gras, lek en water uitgesit wat hulle bly vreet het. Hulle het egter by die dag swakker geword en gevrek. Die veearts het die diere gespuit vir longontsteking en vitamine en sê hulle het weens spanning gevrek. Ek moet sê dat die hele trop oor die algemeen baie gewig verloor het en swak vertoon. My ander trop beeste (ook 200 Brahman-kruisings) daarteenoor het ook op lande gewei tot einde Augustus en is met Premix 450 gevoer. Hulle het deur die reën nog gekalf, is lekker vet, lyk goed en daar was geen geen vrektes nie. My bure het ook gerapporteer dat daar ander boere in die omgewing was wat diere op ‘n soortgelyke manier verloor het. Het u enige advies?

Antwoord:
Dit klink vir my of beide troppe beeste aan dieselfede omstandighede, bestuur en basiese voeding blootgestel was en dat die enigste verskil tussen die twee troppe die aanvullings was wat u hulle gegee het. U noem nie watter proteïenblok aan die eerste trop gegee is nie en dit bemoeilik die saak.

Vleisbeeste wat droë weiding (bv. natuurlike wintergrasveld en oesreste in die somerreënvalgebied asook droë graanstoppellande in die somer in die winterreënvalgebied) bewei, is meestal nie in staat om hulle kondisie en massa op hierdie lae gehalte weiding te handhaaf nie. Wanneer droë weiding ‘n proteïeninhoud van minder as 6% en ‘n verteerbaarheid van minder as 45% tot 50% het, is dit nie meer in staat om in diere se onderhoudsbehoefte te voorsien nie en begin hulle kondisie en massa verloor. Droë wintergras en graanstoppels se proteïeninhoud kan so laag as 3.5% met ‘n verteerbaarheid van so laag as 35% tot 45% wees. ‘n Bydraende probleem tot die swak diereprestasie op droë weiding is dat die potensiële energie daarin nie ontsluit kan word nie, weens die gedeeltelike lignifikasie (verhouting) daarvan en tweedens deur ‘n onaktiewe mikro-organisme populasie in die grootpens as gevolg van ‘n tekort aan hoofsaaklik proteïen, minerale en maklik beskikbare energie.

Diere met ‘n hoë voedingsbehoefte (bv. dragtige, lakterende en jong groeiende diere) word in hierdie geval die ergste benadeel. Droë weiding se verteerbaarheid kan slegs verhoog word indien rumenmikroörganismes (RMO) gestimuleer word om dit maksimaal te verteer. Om dit reg te kry, moet ‘n gunstige rumenomgewing vir die RMO geskep word, m.a.w. alle voedingstoftekorte (bv. proteïen, minerale, spoorelemente en Vitamien A) moet aangevul word. Proteïen vir die RMO word in die vorm van ureum aangevul, maar dit kan nie doeltreffend benut word sonder ‘n bron van vinnig beskikbare energie nie.

Premix 450 is ‘n Voermol-produk (die 450 dui op 45% proteïen oftewel 45g proteïen in elke 100g lek) en Voermol se proteïenlekke bevat melassestroop as ‘n vinnig beskikbare energiebron, asook voldoende swawel en ander noodsaaklike minerale terwyl dit ook ‘n baie hoë vlak van spoorelemente in die regte verhouding, asook Vitamien A voorsien.

Net na die eerste reën kom nuwe groen grassies uit en die gras het ook bitter min energie. Ek vermoed dat die energietekort in die trop net vererger is deur die koue wat gepaard gaan met die reën en ook die lae energie in die groen gras en dat die energievlakke laer as die drumpel energievlak van die beeste gegaan het en hulle toe gaan lê het. Die longontsteking waarvoor hulle behandel is, is heel moontlik ‘n sekondêre probleem vanweë die beeste wat ‘n lae immuniteit het weens die voedingwanbalanse wat hulle opgebou het.

My advies sal wees om ‘n voedingkundige te kry om op ‘n boeredag ?n lesing te kom gee oor hoe om soorgelyke probleme volgende jaar en in die toekoms te kan systap. Maak ook seker dat toestande soos lamsiekte en swamvergiftigings wat lamheid veroorsaak, uitgeskakel word.

 

  • Geskryf deur: Mnr. Floris Coetzee, Veeartsenykundestudent, Universiteit van Pretoria.

    Bronne:
    Infectious disease of Livestock, Coetzer J.A.W en Tustin R.C., 2004, Oxford University Press ISBN 019578202
    BvSc III notas ver BHP 400
    Persoonlike mededelings met Dr. FP Coetzee, Dr. P Nel, Mnr. R Saaiyman en Mnr. WJ Steyn.

    Lees ook:
    2338067 Maak die korrekte diagnose

    16 Maart 2009


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X