Vra vir Faffa

Onthoring van beeste

Vraag

Maniere om 'n kalf te onthoring.

Antwoord

Vraag:
Wat is die beste manier om ‘n kalf te onthoring? Ek het ‘n onthoring-bout maar wil graag weet of ek eers die knoppie moet sny en dan brand. Hoe maak ek met ‘n groot koei se horings? Ek het gelees dat as jy ‘n binneband sny en styf om die horing draai, dan val die horing ná ‘n tyd af. – Hentie Ferreira (hentie@webmail.co.za)

Antwoord:
Kalwers moet normaalweg tussen 2 weke en 2 maande ouderdom onthoring word met ‘n standaard rooiwarm onthoringbout. Op hierdie ouderdom is die sny van die horingknoppie vóór brand gewoonlik nie nodig nie. Maak absoluut seker dat die bout warm genoeg is. Voel vooraf deeglik waar die horingknoppie is voordat die horingbout met ‘n roteeraksie op die horingbasis aangewend word.

Die bout moet lank genoeg aangewend word totdat ‘n duidelik ligte goue bruin ring waarneembaar is, wat as ‘n algemene riglyn kan dien of die bout warm genoeg was en dat dit lank genoeg aangewend was. Die doel van die brand is om die horing-produserende selle aan die horingbasis dood te brand en sodoende horinggroei te voorkom. Soms mag dit tog nodig wees om éérs ‘n goed ontwikkelde horingknoppie met ‘n skerp mes of ‘n klein onthoringtang af te sny waarna dit gebrand word. ‘n Hoefsnyer en selfs ‘n snoeiskêr kan ook gebruik word om die horingknoppie te sny.

Ek wil net meld dat die chemiese brand (seepsoda pasta) van horingknoppies ten sterkste afgekeur word. Dit is ‘n bron van groot irritasie vir die kalf a.g.v. die aanhoudende brandgevoel. Verder is daar ook ‘n risiko dat die chemikalie teen die vel kan afloop wat chemiese brand van die vel ten gevolg het.

Kalwers ouer as 3 maande – waar die horingknoppie reeds heelwat uitgegroei het – moet deur ‘n veearts onthoring word aangesien lokale verdowing nodig is voordat die horingknoppie gesny en gebrand word.

Daar moet deeglik besin word alvorens ouer en volwasse diere totaal onthoring word weens komplikasies wat kan intree. Die belangrikste komplikasie is ontsteking van die sinusse weens die oop sinusholtes wanneer die horing totaal verwyder word. Dit moet liefs tydens die winter gedoen word (minder vlieë en maaiers). ‘n Veearts moe dit doen aangesien lokale verdowing en kontrole oor bloeding essensieël is. Goeie hanteerfasiliteite en ‘n kopklem is uit die aard van die saak noodsaaklik vir dié prosedure.

Die beste metode is om die horing met ‘n embriotoomdraad af te saag. Die sinusholtes moet daarna geseël word om komplikasies sover as moontlik te voorkom.

Die skrywer se "binneband-metode"; kan help om die bloedvloei na die horing vir ‘n paar dae af te sny voordat genoemde prosedure gedoen word. Dit kan help om die bloeding te beperk tydens dié prosedure.

‘n Alternatief is om slegs die skerp punt van die horing af te sny sonder om in die sinusholte te penetreer. Die kop van die bees moet in ‘n nekklamp wees en die punt kan doodeenvoudig met ‘n onthoringtang afgeknip word. (Dit is die prosedure wat gevolg word tydens die prosessering van voerkraalbeeste. Die doel is om slegs die skerp punt te verwyder om beserings te voorkom).

 

  • Geskryf deur: Prof. D.C. Lourens, fakulteit veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria. (dirk.lourens@up.ac.za)

    14 Augustus 2006


Kommentaar

Een kommentaar op “Onthoring van beeste

  1. Gert
    Gert

    Baie leersaam dankie. Ongeveer hoe ver van die horningpunt af bigin die sinusholte?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X