Vra vir Faffa

Olieboom-sade: Baie gevaarlik

Vraag

Sade van die bekende olieboom (ook bekend as die malboontjie) is giftig en kan geestesstoornisse by mens én dier veroorsaak. Mense kan selfs van hul klere ontslae raak!

Antwoord

Vraag:
Hierby aangeheg is ‘n foto van die droë plant en vrug wat hier by ons (in Namibië) bekend staan as Angola-aartappel. Sy vleis bevat ‘n dwelmstof. Wat is sy naam daar by julle? – Georg (georgf@iway.na)

Antwoord:
Die foto is van die plant Datura ferox, olieboom, stinkblaar, "thorn apple" of "moon flower". Let op na die lang stekels wat D. Ferox onderskei van D. Stramonium, wat korter stekels het. Die plant bevat alkaloïde (atropien, hyoscine en hyoscyamine). Die sade is veral giftig vir mense en enkelmaag diere soos perde en kan selfs die dood veroorsaak. Baie mense is reeds deur die saad wat in meel, ertjies en boontjies teenwoordig was, vergiftig. Etlike kinders het reeds gesterf as hulle van die boontjies (sade) ingekry het. Deur spinasie van die blare te maak, is mense ook vergiftig. Dit is waarom mielies afgekeur word as dit te veel van die sade bevat.

Daar is wel vergiftiging in beeste gevind waar slegs droë olieboomplante gevreet is.

Kliniese tekens by mense:

  • Duiseligheid, "dronkheid", gaap, droogheid van die mond, tong en keel, pogings om te sluk veroorsaak krampe in die keel (kan met hondsdolheid verwar word), bitter smaak en brandende gevoel in die mond, belemmering van die sig, pasiënt waggel asof hy dronk is, rusteloosheid wat tot delirium kan styg, oogappel wyd oop, en moeilike onsamehangende spraak. Sommige slagoffers braak en ly aan maagwerking. Verder is daar eienaardige geestesstoornisse (vandaar die naam malboontjie), bv. die pasiënte probeer teen mure of bome opklim, trek aan denkbeeldige toue, vang of soek na denkbeeldige voorwerpe, probeer geluide van diere na-aap, hardloop op hande en voete rond, probeer denkbeeldige garing deur denkbeeldige naalde te steek, hulle lag baie, daar is ‘n neiging om al die klere uit te trek, en ‘n jeukende gevoel.

    In sommige gevalle bewe verskillende spiergroepe en stuiptrekkings kan uiteindelik verskyn en die dood kan deur asemhalingsverlamming intree. Oor die algemeen sien ons egter dat die stadium van opgewondenheid oorgaan in ‘n toestand van neerslagtigheid en slaap en uiteindelik bewusteloosheid. Die pols en asemhaling is stadig, swak en onreëlmatig en die dood tree in deur asemhalingsverlamming. As atropien langdurig in klein dosisse ingeneem word, kan galbulte, blasies, bloedings en ‘n skarlakenkoorsagtige uitslag op die vel voorkom.

    Pasiënte wat nie dodelik vergiftig is nie, kan tot ‘n paar weke of maande nie heeltemal herstel nie en aan algemene swakheid, verwyding van die oogappels (belemmerde sig), dors, belemmering van die geheue en versteuring van die ewewig (moeilik loop) ly.

    Kliniese tekens by diere:
    Diere is in vergelyking met die mens, minder vatbaar vir vergiftiging.
    Konyne het ensieme wat in die lewer vervaardig word wat die gifstowwe van stinkblaar vernietig.
    Siektetekens is baie dieselfde soos in mense gesien en hierbo genoem word, behalwe vir die geestesstoornisse. Volstruiskuikens was alreeds baie die slagoffers van stinkblaarsaadvergiftiging. Hulle waggel en vertoon veral krampe van die nek.

    Behandeling:
    ‘n Geneesheer moet so gou moontlik behandeling toepas waar menslike vergiftiging voorkom.
    Asetielkolien inhibeermiddels moet so gou doenlik aan diere gegee word. Bespreek dit met jou veearts.

    Voorbehoeding:

  • Stinkblaar moet uitgeroei word op lande en veral op lande waarop koring, hawer, boontjies en ertjies verbou word.
  • Graan wat meer as 0,5% stinkblaar bevat, is gevaarlik vir vee.
  • Kinders moet geleer (verbied) word om nie stinkblaarsaad (malboontjies) te eet nie.

     

  • Geskryf deur prof. Neil Fourie en dr. Faffa Malan, Intervet/Schering Plough.

    Bronne:
    Kellerman, T S, Coetzer, J A W, Naude, T W en Botha, C.J. 2005. Plant poisonings and mycotoxicosis of livestock in Southern Africa. Oxford University Press, Southern Africa. ISBN 978 0 19 57613 4
    Steyn, D G 1949 Vergiftiging van mens en dier. J L van Schaik Bpk, Pretoria.

    3 Junie 2008


Kommentaar

Kommentaar (6) “Olieboom-sade: Baie gevaarlik

  1. colin.botha
    colin.botha

    Hoe kan oliebome wat reeds hoog staan nou vernieti
    G word. Bespuiting of skoffel

    Groete

  2. Bennie
    Bennie

    Ek begin nou op klein skaal met F1 Landras varke te boer in die Upington omgrwing.
    Ek kry nou gebreekte mielies wat gesif is, maar daar is beslis meer as 0,5% olieboomsade in.
    Kan ek dit so vir die varke gee, of kan ek dit dalk met iets meng om dan te gee, of is dit eenvoudig met te giftig?
    Of is daar dalke manier wat mens dit van die gebreekte mielies kan skei sonder om dit een vir een uit te soek!
    Aangesien ek groot hoeveelhede van die voer kan bekom, sal enige hulp regtig wardeer word, want dit kan ‘n hengse verskil in my voerkostes maak!
    Baie dankie.

  3. Gerald
    Gerald

    Ek het n vreeslike pyn in my regterknie, nadat n olieboom my gesteek het, kan die pyn van dit wees?

  4. willie van rooyen
    willie van rooyen

    Is oliebome onwettig

  5. Alet
    Alet

    1) Kan dit aanbeveel word as mens die olieboom gebruik as kompos, of moet hy heeltemal verwyder word. 2) wanneer skiet die saad en kan die saad nog skiet na hy uit die grond verwyder is ( is dit liewer beter om die boom te vernietig.)

    • Jan Bezuidenhout

      Alet,
      Die artikel dui aan dat die olieboom baie gevaarlik is.
      Groete


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X