Vra vir Faffa

Neosporose – nóg ‘n oorsaak van aborsie

Vraag

Bees-neosporose is 'n relatief nuwe probleem in Suid-Afrika; dit is ook 'n nuwe navorsingsonderwerp wêreldwyd, wat dit 'n groot uitdaging maak om 'n definitiewe diagnose te maak.

Antwoord

Vraag:
‘n Beesboer wil meer weet van neosporose as ‘n oorsaak van aborsies by beeste.

Antwoord:
Die lys van moontlike oorsake van aborsie by beeste en melkkoeie blyk langer en langer te word. ‘n Protosoa parasiet, Neospora caninum, is van die laaste toevoegings tot hierdie lys. Daar is maar onlangs ontdek dat Neospora ‘n baie belangrike oorsaak van aborsie is en dat dit nou op die meeste kontinente voorkom.

Daar is so kort gelede as 1988 ontdek dat Neospora caninum,’n protosoa soortgelyk aan Toxoplasma gondii, wat aborsies by skape en bokke veroorsaak) die oorsaak is van aborsies by honde in Noorweë en kort daarna is die organisme beskryf as ‘n oorsaak van aborsies by beeste.

Binne slegs 18 jaar het dit die hoofoorsaak van aborsies by beeste in Nieu-Seeland, westelike VSA, Nederland en die Verenigde Koninkryk geword! En dit is ‘n beduidende oorsaak van aborsies in baie ander lande – Suid-Afrika ingesluit.

Aborsies by beeste weens neosporose is ‘n bekende probleem in Kwa-Zulu Natal en daar is tot onlangs gedink dat die probleem tot hierdie area beperk is. Maar gevalle waar neosporose vermoed word, kom tans in baie gebiede buite die Natalse Middelande voor.

Die probleem is dat boere en veeartse neosporose nie in gedagte hou wanneer die oorsaak van aborsies en aborsiestorms ondersoek word nie. Dit is belangrik dat plattelandse veeartse en veeboere – veral stoetboere en melkboere – bewus moet wees van en voorbereid moet wees op die probleem.

Een wanpersepsie onder sommige boere en veeartse is dat die parasiet slegs by melkkuddes ‘n probleem is. Neospora caninum het presies dieselfde uitwerking op vleisbeeste as op melkbeeste!

Dit is ‘n feit dat ‘n aborsie die melkboer meer uit die sak jaag as vir die beesboer – hoofsaaklik omdat die koei wat aborteer waarskynlik die opvolgende laktasie sal verloor en dit kan ‘n duur verlies wees. Die skade wat ‘n beesboer ly, hang veral saam met die koei se onproduktiewe periode wat volg op die aborsie.

In die geval van ‘n stoetboer is baie finansiële en genetiese moeite en beplanning aan die teel van die kalf – wat nou nie meer daar is nie – gewy. Daarom, of u nou ‘n melkboer of enige ander beesboer is, moet u self somme maak om vas te stel hoeveel aborsies u boerdery kos. Maak ‘n berekening voordat u ‘n besluit neem! Indien die oorhoofse aborsiepersentasie in u kudde meer is as 4-5% (1 uit elke 20-25) dan is dit beslis die moeite werd om van hierdie siekte kennis te neem en dit uit te skakel!

Die mees algemene gevolg van neosporose besmetting is aborsie, wat meesal op vyf tot ses maande dragtigheid voorkom, maar wat enige tyd vanaf drie maande dragtigheid tot net voor kalwing kan voorkom.

Dit affekteer melk- en vleisbeeskoeie en verse en wanneer die dier aborteer, vertoon sy geen ander siektetekens nie, behalwe miskien ‘n effense val in melkproduksie. Dit het vele boere en veeartse wêreldwyd dronkgeslaan. Fetusse is gewoonlik besonder klein en wanneer sy aborteer, is daar dikwels geen teken dat sy gaan kalf nie. Gewoonlik aborteer sy buite in die veld en dit maak dit moeilik om te bepaal dat ‘n koei geaborteer het.

Dit bemoeilik verder die neem van ‘n monster van die fetus, wat nodig is om neosporose te diagnoseer, omdat roofdiere dikwels voor die boer by die fetus kom.

Die ander gevolg van neosporose is dat party kalwers "normaal" gebore word, kronies besmet bly en ‘n bron van transplasentale (die fetus word in die baarmoeder besmet) besmetting bly. Van die kalwers wat gebore word, is nie almal normaal nie. Daar is van die kalwers (jonger as twee maande) wat die volgende tekens vertoon:
 

  • oormatige uitgestrekte of gebuigde bene;
  • waggelend; oogabnormaliteite; klein, swak en ondergewig;
  • lyk onseker van hul omgewing en val om, of stamp teen voorwerpe, terwyl hulle relatief lewendig lyk en hul eetlus behou.

    ‘n Koei kan op twee maniere besmet word:
     

  • Vertikaal deur transplasentale besmetting waar die kalf in die baarmoeder besmet word en as draer van die parasiet gebore word.
     
  • Die ander manier is horisontaal en dan tel die koei of vers die besmetting uit die omgewing op deurdat hulle die eiers van die parasiet inneem wanneer hulle mis van besmette honde vreet.

    Honde is die finale gasheer van die parasiet en in Suid-Afrika word vermoed dat jakkalse ook gashere is.

    Hoe kan ons neosporose beheer?
    Uit die staanspoor is dit belangrik dat ons besef dat neosporose hier is om te bly en dat ons dit nie sal kan uitroei nie. Daarom fokus ons hoofsaaklik daarop om besmetting te beperk en om die aantal aborsies te verminder aangesien dit die oorsprong van die negatiewe ekonomiese impak is.

    Maar voordat ons praat van die beheer van neosporose moet ons eers vasstel of dit die oorsaak van die aborsies is en/of neosporose ‘n potensiële risiko vir u kudde is, of daar aborsies in die kudde voorgekom het of nie.

    Om dit te doen is dit nodig om ‘n diagnose te maak en daarvoor moet u veearts geskikte monsters na ‘n laboratorium stuur. Soos reeds genoem, is die beste monster die geaborteerde fetus (spesifiek die brein, hart en maagsappe) waaruit die laboratorium die spesifieke parasiet kan identifiseer en nie net teenliggame uit die koei se bloed nie, wat bloot kan beteken dat die koei aan die siekte blootgestel was of teen die siekte ingeënt is.

    Ander waardevolle monsters sluit in: bloedmonsters van die koei of vers wat geaborteer het (so gou moontlik na die aborsie) en terselfdertyd bloedmonsters van dieselfde getal koeie en verse uit dieselfde groep (dieselfde dieet en stadium van reproduksiesiklus) wat nie geaborteer het nie en waarvan die dragtigheid normaal of lewensvatbaar is.

    Hierdie toetse kos geld, maar dit is baie belangrik om die oorsaak bo alle twyfel vas te stel. Mens moet weet waarmee jy te doen het voordat jy dit effektief en ekonomies kan aanspreek. Om ‘n akkutare diagnose te maak, is belangrik vir baie aspekte van u boerdery, nie net van aborsies nie! Moenie agterstevoor suinig wees nie, dink ver vooruit en dink wyd!

    Maar voordat ons op loop gaan met neosporose, moet ons in gedagte hou dat daar baie, baie verskillende oorsake van aborsies is en verskeie oorsake waarom kalwers neurologiese en spierafwykings toon. Daarom is dit so belangrik om u veearts te versoek om ‘n akkurate diagnose te maak.

    Behalwe die transplasentale oordraging van neosporose, is die ander mees algemene bron van besmetting die oôsiste in die mis van besmette honde (of moontlik enige lid van die hondefamilie. ‘n Hond (of jakkals) word besmet deur die vreet van geaborteerde fetusse en die plasentas (nageboorte) van die koei wat aborteer het en daardeur word die lewensiklus van die parasiet voltooi.

    Daarom is dit belangrik vir die kontrole van die siekte dat alle fetusse en nageboortes verbrand of begrawe moet word sodra die nodige monsters geneem is. Verder kan waar moontlik gepoog word om te keer dat honde in beeste se weiding of waterkrippe ontlas.

    Nog ‘n belangrike voorkomingsmaatreël wat die massiewe ekonomiese impak van die siekte kan beperk, is inenting.

    Die enigste entstof tans beskikbaar, is Bovilis Neogard (Reg. No. G3143 Wet 36/1947) wat deur Intervet vervaardig word en sedert 2004 beskikbaar is. Die entstof het ‘n ongelooflike ekonomiese verskil gemaak deur die aantal aborsies drasties te verminder. Die entstof is bedoel om die aborsies te verminder en nie om die goeie kontrole van infeksiebronne te vervang nie. Die koste van ‘n neosporose inentingsprogram moet opgeweeg word teenoor die koste van ‘n aborsie.

    Om ‘nvoorbeeld te noem: die onkoste om ‘n kudde van 100 melkkoeie ten volle in te ent (2 dosisse 3 weke uitmekaar), sal gedek word deur een neosporose aborsie wat voorkom word! Natuurlik sal die syfers verskil by ‘n stoet en vleisbeeskudde, maar weereens moet eers ‘n berekening gemaak word voordat daar besluit word!

    Bees-neosporose is ‘n relatief nuwe probleem in Suid-Afrika; dit is ook ‘n nuwe navorsingsonderwerp wêreldwyd, wat dit ‘n groot uitdaging maak om ‘n definitiewe diagnose te maak. Meer inligting oor bees-neosporose is vir die boer en die veearts verkrygbaar op ‘n uitstekende webblad: www.neosporosis.com Lees ook meer oor die onderwerp in die soortgelyke artikels wat hiernaas gelys word.

     

  • Geskryf deur dr. Barry Coates, Intervet (barry.coates@intervet.com)
    Verwysings by outeur verkrygbaar.

    Hierdie artikel het ook in die Dairymail van Junie 2006 verskyn


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X