Vra vir Faffa

Myte van huis- en plaasdiere – Skurfsiekte by boerbokke

Vraag

Ons merk die afgelope 6 maande dat boerbokke aangetas word deur vermoedelik 'n skurfmyt. Dit veroorsaak verharding van die vel en begin gewoonlik aan die onderkant van die pens. Die diere (klein en groot) raak treurig, wil nie wei nie en vrek dikwels sonder behandeling/byvoeding. Die boerdery is in die Suide van Namibie.Hoe raak mens ontslae van die myt in jou kudde en is daar behandeling vit aangetaste diere?

Antwoord

Die skurfte in die bokke word heelwaarskynlik veroorsaak deur die skurftemyt Sarcoptes scabiei.

Die belangrikste mytsoorte wat ekonomiese verliese in huisdiere en plaasdiere veroorsaak, word hieronder bespreek:

Myte behoort aan dieselfde groep parasiete (Acarina) as bosluise.

•    Sarcoptes scabiei: die sarkoptiese skurftemyt
Dit is belangrik dat ‘n veearts velskraapsels van die aangetaste area neem. Die materiaal word dan  op ‘n glasplaatjie in gliserien gesmeer, ‘n dekglasie word daarop geplaas en dan onder ‘n mikroskoop ondersoek om te bepaal of daar myte teenwoordig is. Die myte kan dan geïdentifiseer word volgens hulle bouvorm. Die myt is klein, witgekleurd ongeveer 0,5 mm lank en min of meer rond. Onder die mikroskoop kan skerp kegelvormige stekels op die rugoppervlakte gesien word. Die wyfie het suiers op die eerste en tweede paar pote. Die derde en vierde paar pote is baie kort en eindig elk in ‘n lang sweepagtige haar.

Die myte vorm tonnels in die horinglae van die vel en veroorsaak oppervlakkige letsels.

Hierdie myt is al op mense, beeste, honde, bokke, skape, varke, perde en konyne aangetref. Hierdie myte wat op die verskillende gashere aangetref word, lyk dieselfde, maar hulle verskil fisiologies en mag biologies in verskillende stamme val en mag selfs verskillende soorte wees.

Lewensiklus
Die verskillende stadia in die lewensiklus is: eiers, larwes, nimfe, volwasse mannetjies en onvolwasse en volwasse wyfies. Onvolwasse wyfies vervel eers nadat bevrugting plaasgevind het tot volwassenes. Die bevrugte wyfies grawe in die horinglaag van die vel in waar hulle gewoonlik hul hele lewe van omtrent 2 maande deurbring en elke 2 tot 3 dae eiers lê, terwyl hulle voortdurend in die vel intonnel.

Die eiers broei binne ongeveer 5 dae uit en die daaropvolgende larwes, nimfe en onvolwasse wyfies mag op die vel rondbeweeg of nuwe tonnels grawe. Die mannetjies bly gedurende die grootste gedeelte van hulle lewensloop bo-op die veloppervlakte waar hulle onbevrugte wyfies soek, eerder as om tonnels te grawe. Dit neem ongeveer 10-14 dae om die hele lewensiklus te voltooi.

Verspreiding
Skurftemyte is wêreldwyd verspreid en kom algemeen in Suid-Afrika op mense en verskeie diersoorte voor.

Siektetekens wat deur die skurftemyte veroorsaak word
Tekens word hoofsaaklik gesien in diere wat in ‘n swak kondisie is, gewoonlik aan die einde van die winter. Die myte word deur direkte kontak oorgedra. Die myte verkies die haarlose gedeeltes van die liggaam, maar in erge besmettings kan hulle oor die hele liggaam verspreid wees. Die meeste skade word veroorsaak deur die bevrugde wyfies wat voordurend in die vel tonnel. Myte prik ook die vel om op die limf te voed. ’n Ernstige jeuktoestand ontstaan. Die vel verdik en ‘n ontsteking ontstaan. Haarverlies en korste kom voor deurdat gestolde vloeistofafskeidings op die veloppervlakte vorm.

By honde begin die tekens gewoonlik op die kop en skouers, maar dit kan ook op die stertwortel, rug en elmboë gesien word.

Varke ontwikkel letsels om die oë en ore, langs die rug af en op die binnekant van die dye.

Haarskape en bokke ontwikkel letsels aan die gesig en ore.

Beeste se letsels is op die nek, stertwortel en stuitjie.

Perde ontwikkel letsels op die kop en nekgebied.

By konyne begin skurfte gewoonlik aan die bene maar dit versprei gou na die neus wat tot ‘n korsagtige,  horingagtige struktuur verander mag word.
Die siektetoestand mag vrektes onder bokke en konyne veroorsaak, maar wolskape word nie aangetas nie.

Psoroptiese skurftemyte
Hierdie myte is velparasiete van soogdiere en leef op die liggaamsdele wat goed met wol of hare bedek is of in die ore van hulle gashere. Hulle veroorsaak brandsiekte by skape en skurfte by ander diere.

Skaapbrandsiektemyte kan deur ‘n opgeleide persoon selfs met die oog waargeneem word.
Die myt het redelike lang pote wat in 2 paar aan die voor- en 2 paar aan die agterkant van die liggaam gegroepeer is.

•    Psoroptes communis ovis of die skaapbrandsiektemyt
Alle skaaprasse (merino’s, dorpers, karakoele ens.) van enige geslag is vir skaapbrandsiekte vatbaar. Skape met ‘n digte wolbedekking toon erger kliniese tekens as skape met ‘n haaragtige bedekking, soos die swartkoppersie. Wanneer ‘n skaap jeuk, moet skaapbrandsiekte vermoed en uitgeskakel word.

Die siekte het ‘n seisoenale voorkoms. In die somermaande, van Oktober tot Maart, neem dit af, maar in die winter, van April af, vermeerder die getalle drasties totdat dit in Oktober begin verminder. ‘n Rede hiervoor is dalk dat die myt in die wintermaande die skaap se liggaamshitte opsoek en nie in die somer nie.

Lewensiklus
Soos wat by Sarcoptes die geval is bestaan die lewensiklus uit die eier, larf, nimf en volwasse stadium. Die onvolwasse wyfies vervel eers na die volwasse stadium na paring. Wyfies lê daagliks ongeveer 5 eiers met ‘n totaal van 100 per leeftyd. Die eiers word om die kante van die brandsiekteletsels gelê en broei na 1 tot 3 dae uit indien hulle na aan die gasheer se liggaam gelê word.

Wanneer die eiers deur rowe of korse van die liggaamsoppervlak geskei word, neem hulle baie langer om uit te broei. Die myte leef en voed gewoonlik op die vel aan die rante van die letsels wat spoedig as gevolg van hulle aktiwiteite vorm. Hierdie myte grawe nie in die vel in nie. Die hele lewensiklus kan beide in die somer en in die winter binne 8 tot 9 dae voltooi word. In gunstige omstandighede kan een paar myte binne sowat 2 maande teoreties tot 180 000 vermeerder. Dit is die rede waarom die siekte so skielik sulke ernstige afmetings kan aanneem.

Siektetekens
Wanneer die myte die vel prik om die limf waarop hulle voed te verkry, veroorsaak hulle ‘n ontsteking met die gevolglike afskeiding van serum wat bo-op die vel stol.  Die irritasie wat deur die myte veroorsaak word, laat die skaap aan die vag byt en trek en sodoende word die toestand vererger.
By wolskape is die primêre letsel gewoonlik 4 dae na besmetting as smetterige gelerige knoppies sigbaar. Korse mag 5-6 dae na besmetting gevorm word.

Hierdie letsels word vinnig groter namate die mytbevolking aanwas en voortdurend weg van die korsbedekte dele na die kante van die aangetaste area beweeg. Kaal, korserige kolle vorm, of gekoekte wol sit in die korste vas. Nuwe kolle ontwikkel en in gevorderde gevalle word groot gedeeltes van die vel ontwol. Die aangetaste vel en gedurige irritasie lei tot vermaering en uiteindelik, indien die geval nie behandel word nie, tot die dood van die skaap. Brandsiekte is veral belangrik by wolskape waar letsels gewoonlik op die skouers en flanke van die liggaam gevind word, maar haarskape is ook vatbaar en ontwikkel gewoonlik letsels op die stert en rug. Besmette krale wat vir 17 dae leeggehou word, sal vry van myte wees.
Soms is skape (veral nie-wolrasse) besmet sonder dat hulle kliniese tekens toon.

Myte skuil dikwels in die “ou oog”, om die horingbasis, aan die balsak en in die liesvou. Die myte bly maande lank sluimerend totdat gunstige toestande aanbreek en die siektetoestand skielik vlam vat. Die latente fase van skaapbrandsiekte is heel moontlik waarom die oorsprong van die siekte nooit opgespoor word nie. 

Oordraging
Oordraging geskied hoofsaaklik deur direkte kontak tussen ‘n besmette en onbesmette skaap bv. wanneer ‘n besmette skaap deur die draad kom en die buurman se skape besmet of as besmette skape aangekoop word en by ‘n skoon kudde gejaag word.

Die brandsiektemyt kan tot 20 dae weg van die skaap af bly leef, maar kan na 13 dae nie meer ‘n skaap besmet nie. Dit is baie belangrik want stukkies besmette wol of korse in krale, bakke van vragmotors, klere van skeerders en skeerapparaat kan tot ‘n besmetting lei.

Beheer
Skaapbrandsiekte is ‘n beheerde siekte volgens die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) en moet aangemeld word by Veeartsenydienste wat dan die nodige stappe sal neem om die siekte te beheer. Die verpligte aanmelding geld nie net vir die plaaseienaar of beamptes van die direktoraat Veeartseny nie, maar vir almal: bure, private veeartse, verteenwoordigers van maatskappye, ens.

Diagnose word gedoen deur velskraapsels te neem en die myte te identifiseer. Die betrokke plaas word onder kwarantyn geplaas en alle skape moet behandel word met ‘n goedgekeurde dipmiddel of inspuitbare middel. Indien ‘n dipmiddel gebruik word, moet die diere ten minste 2 maal met ‘n 7 tot 10 dae tussenpose gedip word en met elke dipping moet hulle vir ten minste 2 minute in die dipvloeistof gehou word. Die koppe moet ook 3 keer onderdompel word.

Voorkoming
Boere kan sekere voorkomende maatreëls tref om skaapbrandsiekte te bekamp:

•    Sorg te alle tye dat die plaas se grensheinings in ‘n goeie toestand is.
•    Sonder skape af wat aangekoop word en dip of behandel hulle twee keer met ‘n goedgekeurde dipstof of inspuitbare middel (soos die regulasies vereis) voordat hulle by die ander skape gesit word.
•    Elke boer behoort sy eie stel oorklere te hê om aan skeerders te voorsien.
•    Dip skape jaarliks met ‘n effektiewe brandsiektemiddel.

Dit is byna onmoontlik om skaapbrandsiekte uit te roei. Die siekte kan wel beheer word as alle betrokkenes goed saamwerk en uitbreke nougeset aangemeld word.

•    Psoroptes natalensis
Die myt word op beeste aangetref. Die eerste tekens van ‘n besmetting kan op die nek, skof en om die stertwortel aangetref word.

•    Psoroptes equi
Hierdie myt veroorsaak letsels soortgelyk aan skurfte op die nek en stertwortel van perde. Die toestand is nie so ernstig soos skaapbrandsiekte nie.

•    Psoroptes caprae
Hierdie myt word  in die ore van bokke aangetref en kan doofheid, verlies aan eetlus en selfs die dood van die gasheer veroorsaak.

•    Psoroptes cuniculi
Myte parasiteer die binnekant van die oorskulp van konyne, bokke, skape, perde, donkies, muile en dalk ook wildsbokke. Dit is ‘n belangrike parasiet van bokke in Suid-Afrika en kan doofheid, verlies van aptyt of selfs die dood van die gasheer veroorsaak.

•    Chorioptes myte of simbiotiese skurfte- of jeukbeenmyte
Hierdie myte, wat ook skurfte veroorsaak, leef op die veloppervlakte van hul gashere. Hulle leef gewoonlik op die laer gedeeltes van die ledemate, maar hulle kan ook na ander gedeeltes van die liggaam versprei. Hulle is baie klein en lyk baie soos die brandsiekmyt.

Op bokke kom hulle dikwels voor op die kootgewrig.

Op beeste kom hulle veral op die kootgewrig van die agterbene asook op die stertwortel voor.

Besmette perde ontwikkel ‘n kondisie wat as jeukbeen bekend staan.

Korsagtige letsels word deur myte op die “muis” veroorsaak.

•    Otodectes cynotis of die oorskurftemyt
Hierdie myte besmet honde, katte en ander vleisvreters en is wêreldwyd verspreid. Hulle is tipies psoropties beide in hulle voorkoms en lewensiklus. Hulle hele lewensloop word in die ore van hulle gashere voltooi waar hulle otodektiese of oorskurfte veroorsaak. Die gasheerweefsels word deur die voedende myte ge?rriteer wat tot vleistofafskeidings en die vorming van korste op die veloppervlakte lei. Diere wat voortdurend hulle ore krap en hulle koppe skud, toon die vroeë kliniese tekens van otodektiese skurfte.

Dit lei dikwels tot bloeding tussen die vel en kraakbeen van die oor en groot swelsels mag ontstaan. Die ontsteking mag dieper in die oor versprei en senuweeaandoenings veroorsaak. Gewoonlik word albei ore aangetas en sekondêre bakteriese besmetting is ‘n algemene verwikkeling.

Daar moet in gedagte gehou word dat otitis (oorontsteking) deur verskeie ander toestande waarby myte nie betrokke is nie, veroorsaak kan word. Identifikasie kan deur die veearts gemaak word van materiaal wat deur middel van wattepluisies uit die oor verwyder word.

Beheer: ‘n veearts behoort geraadpleeg te word indien so ‘n besmetting vermoed word.

•    Demodex-soorte of die demodektiese skurftemyte
Hierdie myt is klein, sigaarvormig en slegs ongeveer 0,4 mm lank en word maklik in velskraapsels onder ‘n mikroskoop uitgeken. Party mense noem hulle “krokodilmyte”.

Gashere: mense, honde, beeste, perde, bokke en skape. Daar is verskillende soorte Demodex-myte  wat vernoem is na die gasheersoort waarop hulle aangetref word. D. canis, wat demodektiese skurfte by honde veroorsaak, word baie algemeen in Suid-Afrika aangetref. Demodektiese myte is ook al op leeus gevind.

Lewensiklus
Die myte lê eiers wat uitbroei en deur ‘n larf- en 2 nimfstadia tot volwassenes ontwikkel. Hulle leef permanent in die haarfollikels en velkliere van hulle gashere en word deur direkte kontak vanaf besmette na onbesmette diere oorgedra.

Verspreiding
Demodektiese myte word wêreldwyd aangetref en verskeie soorte kom in Suid-Afrika voor.

Kliniese tekens
Die erns van demodektiese skurfte varieer baie by die verskillende soorte gashere. By die mens veroorsaak die myt feitlik geen simptome nie, maar honde, beeste en varke kan ernstige velkwale ontwikkel.

By beeste word puisies en knoppe om die ore, op die skouers en tussen die agterbene veroorsaak. Hierdie knoppe mag so groot soos hoendereiers word en versweer. Die puisies wat by varke vorm, ontwikkel tot groot absesse wat mag saamvloei of oopbars om sere te vorm.

Daar word gewoonlik tussen 2 vorms van demodektiese skurfte by honde onderskei. In die skubvormige of skilferagtige vorm word haarverlies en velverdikking of verrimpeling veroorsaak. Die vel vertoon aanvanklik skilferagtig en rooi en verkleur later tot blougroen of koperrooi. Hierdie tipe letsel word die meeste op die kopgebied aangetref en indien dit nie behandel word nie, versprei dit na die ledemate en uiteindelik oor die hele liggaam.

Die puisierige vorm van die siektetoestand ontwikkel gewoonlik as gevolg van sekondêre bakteriese besmetting vanuit die skilferagtige vorm. Klein haarlose kolletjies, rooierige puisies en knoppies en ‘n velontsteking is tipies van hierdie vorm van skurfte. Die myte mag ook verskeie inwendige organe besmet. Daar kom dikwels ‘n onaangename reuk saam met hierdie skurftevorm voor, maar dit veroorsaak gewoonlik nie baie irritasie nie.

Beheer
Demodex kom selde op ander diere as die hond voor. U veearts sal die regte medisyne vir die behandeling van honde voorskryf nadat die besmetting deur ‘n velskraapsel bevestig is.

•    Psorergates ovis of die skaapjeukmyt
Skape en hoofsaaklik fynwolrasse word aangetas.

Lewensiklus
Die lewensiklus bestaan uit die eier, larf-, 3 nimf- en die volwasse stadia en kan binne 5-6 weke voltooi word. Hierdie myt is ‘n permanente parasiet van skape en die finale nimf en die volwasse stadium kom binne-in asook bo-op die vel voor, terwyl die ander volwasse stadia meestal binne-in die vel ingegrawe aangetref word. Die volwassenes word deur direkte kontak versprei en word die geredelikste tussen pasgeskeerde skape oorgedra. Die besmetting van skape met lang wol neem egter baie lank en mag eers plaasvind nadat hulle vir baie maande met besmette diere in aanraking was.

Verspreiding
Skaapjeukmyte is vir die eerste keer op skape in Australi? gevind. Sedertdien is hulle in die VSA, Nieu-Seeland en in Suid-Afrika, waar hulle wydverspreid voorkom, aangetref.

Kliniese tekens
Hierdie myte veroorsaak hewige irritasie wat veroorsaak dat die skape hulle wol byt en teen voorwerpe skuur. Nuut besmette diere waarop net ‘n paar myte voorkom, toon meer opvallende tekens as diere wat al lank besmet is. Dit is dus dikwels moeilik om die toestand te diagnoseer. By nadere ondersoek mag versteuring van die wol wat slierterig of gekoek mag vertoon,  asook ‘n aansameling van skilferigheid op die vel en die wolvesels aangetref word.

Die wol mag verkleur tot ’n geel-oranje kleur, wat meer intens naby die vel as ho?r op teen die vesels is. Besmette skape lewer minder wol en beskadiging van die vag het ‘n ekonomiese verlies vir die eienaar tot gevolg. Die toestand varieer baie by verskillende kuddes en nadat besmette diere die myte vir ‘n lang tydperk gehuisves het, toon hulle dikwels nie meer tekens nie.

Diagnose
Diagnose is uiters moeilik en kan slegs deur opgeleide persone op diep velskraapsels wat onder ‘n mikroskoop odersoek word, gemaak word.

Beheer
Die jaarlikse dip van skape wat pas geskeer is om ander parasiete soos luise en luisvlie? te beheer, sal gewoonlik ook die jeukmytbevolking onderdruk. Behandeling met ‘n makrosikliese laktoon sal ook die jeukmyte dood. Dit is belangrik dat elke skaap op die plaas behandel moet word.

•    Cheyletiella parasitivorax of die konynmyt
Hierdie klein mytsoort kom wêreldwyd voor waar konyne aangehou word. In Suid-Afrika is dit op Onderstepoort en ook in Pietermaritzburg in KZN aangetref. Die naverwante myt C. yasguri word ook op honde aangetref. Hierdie myte veroorsaak dikwels feitlik geen siektetekens nie, maar die mate van irritasie verskil van die een diersoort na ‘n ander. 

Die myte wat tydens die hantering van besmette diere op mense oorklim veroorsaak gewoonlik ‘n taamlik ernstige veluitslag op die arms en nek; dit is dikwels die eerste aanduiding van die myt se teenwoordigheid op die diere.

Beheer
Indien ‘n besmetting van hierdie myte vermoed word, behoort ‘n veearts geraadpleeg te word.

Middels geregistreer volgens Wet 36 van 1947, wat myte dood.

‘n Opsomming van ektoparasitiesemiddels wat onder andere myte dood, verskyn onder die opskrif: “Ektoparasietmiddels in die handel“ op Vra-vir-Faffa.

Voorbeelde van aktiewes wat myte dood, is: diasinon, triasofos, deltametrien, amitras en die makrosikliese laktone bv. ivermektien, moksidektien, doramektien.

Kontak u veearts om ’n diagnose te maak en u van die nodige inligting en raad te voorsien om die mytprobleem op die plaas hok te slaan.

Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartsenykundige konsultant.

Bronne:
De Wet, J en Bath, G. 1994. Kleinveesiektes. Tafelberg-Uitgewers Beperk. ISBN 0 624 03203 5
Howell, C.J., Walker, J. B en Nevill, E.M. 1983. Bosluise, myte en insekte van huisdiere in Suid-Afrika. Wetenskaplike Pamflet 393, Departement van Landbou-Tegniese Dienste, RSA. ISBN 0 621 03849 0

30 September 2009


Kommentaar

Een kommentaar op “Myte van huis- en plaasdiere – Skurfsiekte by boerbokke

  1. lidia leaxy lapperts
    lidia leaxy lapperts

    Dankie vir die informasie.waardeer dit. BOSLUIS EPIDEMIE. ONS ARME HONDE LUI DAARONDER SOOS DIE BOSLUISE KREOEL! HUL IS ORAL! Vermoed hul teel aan onder die akkerhoutbas ‘ want ons het ‘n hele laning bome voor ons huise af wat nie besproei word!! Het al gekla by munisipaliteit maar hul doen niks! Het ectodex probeer op ons hond dit werk soos ‘n bom! Die bosluise loop sommer in hordes van die hond af! Dankie vir die dip middel! Effektief’ my arme dier was amper verlam deur die bosluise!!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X