Vra vir Faffa

Myte op perde

Vraag

Waarmee kan myte op perde behandel word? En kan 'n organofosfaat op perde gebruik word?

Antwoord

Vraag:
Waarmee kan myte op perde behandel word? En kan ‘n organofosfaat op perde gebruik word? Ons perde word nie op stal gehou nie, maar loop in die veld. Ons dip gereeld met Bacticol. Ons spuit ook Ivomec om inwendige parasiete te beheer, maar die myte op die perd se kop en nek verbeter nie. As ek "Merck Veterinary Manual" reg verstaan dan is dit: "Sarcoptes scabiei equi" Ek lees in "H.O. Mönnig en F.J. Veldman" se handboek oor "Vee Siektes" dat myte behandel kan word met Diazinon (Dazzel) en Toksafeen (sover ek weet is Toksafeen van die mark af). Ek lees ook in die "Merck Veterinary Manual" dat dit behandel kan word deur ‘n organofosfaat insekmiddel of ‘n kalkswael oplossing op te spons of op te spuit. Alternatiewelik kan ivermektien teen 200 mikrogram/kg gebruik word. Gee asb. raad waarmee ek hulle kan behandel en hoe lank die behandeling moet duur voordat daar verbetering en of genesing sal wees? Is daar enige voeding of byvoeding wat die veltoestand kan verbeter? – Hennie van den Berg (hennievdb@gmail.com)

Antwoord:
Myt-besmetting in perde kom gereeld voor. Daar is verskeie myt spesies wat perde kan besmet en dit is belangrik om te weet watter myt verantwoordelik is vir die besmetting. Myte wat kan voorkom, is Sarcptes scabiei, Psoroptes communics equi, Chorioptes equi en Demodex. Myte wat in voer en op hoenders voorkom, kan soms ook vel irritasie veroorsaak. Die betrokke spesie kan gediagnoseer word deur velskraapsels te maak van die letsels en omliggende areas en dit onder ‘n mikroskoop te bekyk. Dit is onmoontlik om die spesifieke myt met die blote oog te diagnoseer. Demodex wat op ‘n perd se kop en nek voorkom, is baie moeilik om te behandel.

Daar is op hierdie oomblik geen middels wat spesifiek geregistreer is vir die behandeling van myte by perde nie. Daar is wel produkte wat geregistreer is vir die gebruik op perde, wat aktiewes bevat wat in ander diersoorte teen myte werk.

Organofosfate kan op perde gebruik word en het ‘n goeie werking teen myt-infeksies in perde. Van die sintetiese piretroïedes (Deltab – Reg. No. G2518 Wet 36/1947) werk ook baie goed teen myte. Hoewel ivermektien teen myte werk, is daar geen inspuitbare ivermektien wat vir gebruik in perde geregistreer is nie. Daar moet onder geen omstandighede amitraz op ‘n perd gebruik word nie, want die perd se derm kan verlam raak.

Myte oorleef baie goed van ‘n perd af. Behandeling vir myte moet daarom elke week herhaal word tot 4 weke nadat kliniese genesing (dit wil sê dat jy nie kliniese simptome van besmetting kan sien nie) plaasgevind het. As die area van besmetting nie baie groot is nie, kan kolbehandeling toegepas word. ‘n Mens moet ook onthou om alle toerusting wat op die perd gebruik word ook te behandel om herbesmetting te voorkom.

17 Januarie 2006


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X