Vra vir Faffa

Misvormde ledemate van lammers

Vraag

Ek het op ‘n pasgebore lam op my plaas in die Karoo afgekom. Al vier sy bene se spiere is styf getrek en as gevolg daarvan is sy bene krom getrek en hy kon dus nie staan nie. Ek het sy bene reguit getrek, maar sodra ek dit los, trek dit weer krom en hy is toe later dood. Ek het dit nog nooit gesien op my plaas nie en wonder nou wat die oorsaak daarvan kan wees?

Antwoord

Drie van die algemeenste tipes van misvorming van die ledemate is krom voorbene, artrogripose (stywe, gedraaide ledemate) en kort of geamputeerde ledemate.

Artrogripose kan in een, twee of al vier die ledemate voorkom. Die aangetaste ledemate is styf en in abnormale posisies gedraai weens die fiksering van die gewrigte. Die ledemate kan soms langer of korter as die normale wees en die spiere is gewoonlik swak ontwikkel. Dié toestand kan tot moeilike geboortes lei. Die meeste lammers wat hierdie gebrek het, word dood gebore of vrek kort ná geboorte.

Misvorming van die ledemate is in sommige gevalle oorerflik. ‘n Ander oorsaak van artrogripose is die inenting van dragtige ooie met die lewende entstof teen Slenkdalkoors en Wesselsbronsiekte. In dié geval is die onderkaak kort, die dier het nie ‘n brein nie en die nek is krom (tortikolis).

Ooie wat met die Simbugroep van virusse, Slenkdalkoors en Wesselsbron besmet word,  kan ook geboorte gee aan lammers met artrogripose.

Dit is onseker of kort of geamputeerde ledemate oorerflik is.

Bronne

Coetzer, J.A.W. and Tustin, R.C. 2004.Infectious diseases of Livestock, Oxford University Press.

ISBN 0 19 578202 X

De Wet, J en Bath, G. 1994. Kleinveesiektes. Tafelberguitgewers. ISBN 0 624 03203 5

 

Saamgestel deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

5 Mei 2013


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X