Vra vir Faffa

Melkkoors by dragtige ooie

Vraag

Raad vir die behandeling van melkkoors by ooie.

Antwoord

Vraag:
Kan u my dalk raad gee rondom die behandeling van melkkoors by ooie? – Lukas Kleynhans (lukaskleynhans@webmail.co.za)

Antwoord:
Lees ook antwoord nr. 2010235, Domsiekte by dragtige ooie dat domsiekte en melkkoors dikwels, maar nie noodwendig saam, mag voorkom. In hierdie artikel word klem op melkkoors gelê.

Melkkoors (ook bekend as geboorteverlamming) is ‘n metaboliese siekte wat hoofsaaklik by laatdragtige en lakterende ooie kort voor, tydens en net na lam voorkom weens onvoldoende kalsium in die bloed. Onder sekere omstandighede kan dit egter gedurende die laaste ses weke van dragtigheid en die eerste week van laktasie voorkom. Vrektes kom gewoonlik aan die begin van die uitbreek van melkkoors voor en die mortaliteit kan tot 20 % van die aangetasde diere wees, veral as die diere nie betyds behandel word nie.

Melkkoors ontwikkel as laatdragtige en lakterende ooie groen aangeplante weidings bewei of as die beskikbare groenweidings kort is. Dit gebeur veral wanneer daar ‘n tekort aan ruvoer of weiding is en sulke diere grane (is laag in kalsium en hoog in fosfor) gevoer word sonder die aanvulling van addisionele kalsium. Die skielike oorskakeling kort voor lam (1 tot 2 weke voor lam) van droë na groen, sappige en vinnig groeiende weidings kan ook tot hierdie toestand aanleiding gee. Diarree, as gevolg van die beweiding van vars, groen, sappige weiding of spysverteringsteurnisse, byvoorbeeld as gevolg van suurpens weens oormatige graanbyvoeding, kan kalsiumabsorpsie uit die spysverteringskanaal verlaag wat tot melkkoors aanleiding kan gee. Die beweiding van plante ryk aan oksalate (bv. suring, steenboksuring, tongblaar, garingboom, turksvy) kan dieselfde effek hê, veral as die diere nie aan hierdie plante gewoond is nie, omdat die oksalate die kalsium bind en dus ontoeganklik maak vir die diereliggaam.

Die ooi se kalsiumbehoeftes neem dramaties toe gedurende laatdragtigheid weens die hoë kalsiumbehoefte vir die bene (skelet) en tande van die groeiende fetusse. Beide kolostrum (biesmelk bevat byna tweekeer meer kalsium as melk), wat die laaste paar dae voor lam geproduseer word, en melk is ryk aan kalsium wat die vraag na kalsium verder verhoog. Melkkoors word aan die gang gesit deurdat die kalsiumbehoeftes van die ongebore lam, veral by meerlinge asook vir bies- en melkproduksie die voorsiening uit die dieet, skelet en die bloed oorskry. Hoewel die dier meer as voldoende kalsium-reserwes in die skelet stoor, kan hierdie reserwes nie gou genoeg vir die skielike hoë vraag gemobiliseer word nie. Die mobilisasie van kalsium staan onder hormonale beheer wat etlike dae neem om in werking te tree. Ouer ooie is meer vatbaar vir melkkoors omdat daar met toename in ouderdom die vermoë om kalsium uit die been te mobiliseer, asook die absorpsie van kalsium uit die spysverteringskanaal, afneem en gevolglik kan die kalsium nie gou genoeg uit die skelet vrygestel word nie.

Kort periodes sonder voer of water (bv. tydens ongure weer, vervoer oor lang afstande en oornag kraal van skaap vir skeer) veral as dit ook gepaard gaan met spanning, verminder kalsiumabsorpsie en mag kliniese simptome van melkkoors veroorsaak. ‘n Toestand bekend as vervoerverlamming (hipokalsemie) kan ook voorkom as skape vir ‘n periode gevas word, byvoorbeeld waar skape (insluitende ramme en lammers) oor lang afstande na skoue, veilings, slagpale of na voerkrale vervoer word. Die vermoë om kalsium vinnig te kan vrystel, is veral belangrik wanneer daar ‘n skielike hoë aanvraag is, byvoorbeeld tydens ongure weer (koue, wind of reën) as skape skuiling soek en nie wei nie, enige vorm van spanning, byvoorbeeld aanjaag (geforseerde oefening) van skape of skielike uithongering gee dikwels aanleiding tot melkkoors omdat dit die dier se kalsiumbehoefte skielik verhoog.

Dit blyk dat die onvermoë van die dier om gedurende periodes van hoë kalsiumaanvraag vinnig sy kalsiumreserwes in sy bene te mobiliseer, eerder as ‘n tekort aan kalsium in die dieet verantwoordelik is vir die ontwikkeling van melkkoors. ‘n Bewys hiervan is dat melkkoors voorkom op diëte wat voldoende kalsium bevat (droë grasweiding en -hooi, klawers, struike, bossies, kuilvoer, ens.), maar waar ooie aan fisiese inspanning blootgestel word (bv. aanjaag na kraal). Die risiko vir melkkoors word egter vergroot as sulke diere diëte ontvang wat laag is in kalsium (bv. suiwer graandieet, lae kwaliteit ruvoer asook groen, sappige, vinnig groeiende weidings, ens.). Skielike oorskakeling, veral kort voor lam, van droë na groen sappige natuurlike gras- of aangeplante weidings (bv. kleingraan, raaigras, lusern, ens.) kan ook tot melkkoors aanleiding gee, want die kalsiuminhoud van weiding is die laagste wanneer dit vinnig groei.

‘n Hoë peil van fosfor in die dieet onderdruk die opname van kalsium in die spysverterings-kanaal en beïnvloed ook kalsiummobilisasie en Vitamien D metabolisme wat tot die ontstaan van melkkoors aanleiding kan gee. Die inname van groot hoeveelhede fosfor het verhoogde fosfaat- en kalsiumuitskeiding in die urine tot gevolg. Aangesien grane hoog in fosfor en laag in kalsium is, sal die voer van suiwer grane of die beweiding van oesreste waar heelwat pitte aanwesig is die kanse vir melkkoors verhoog.

Die ironie is dat die oorvoeding van kalsium voor lam die voorkoms van melkkoors kan vererger. Die rede is dat hoë vlakke van kalsium in die dieet ‘n negatiewe invloed op die aktiwiteit van die hormoonstelsel het wat op sy beurt die hoeveelheid kalsium verlaag wat uit die dieet deur die spysverteringstelsel in die bloed geabsorbeer word. Proteïen speel ook ‘n belangrike rol in die absorpsie van kalsium vanuit die dieet. Waar die dieet voldoende goeie kwaliteit natuurlike proteïen bevat het, het ooie gesonde en normale lammers geproduseer selfs waar die dieet baie laag in kalsium was. Navorsing toon dat as die kalsiumvlakke van die dieet voldoende is, maar dit het ‘n proteïentekort sal kalsiumabsorpsie en die neerlegging van kalsium in die skelet nadelig beïnvloed word.

Hoewel die belang van die korrekte kalsium (Ca) tot fosforverhouding (P) in die dieet dikwels beklemtoon word, blyk dit dat ‘n verhouding tussen 1:1 en 2:1 bevredigend is, mits die vlak van elkeen binne die normale aanvaarbare reeks is omdat te lae vlakke van fosfor in die dieet ook melkkoors kan veroorsaak. Die rol van magnesium in kalsium-metabolisme is die onderwerp van kontroversie. Aan die eenkant maak ‘n magnesium-tekort die ooie meer vatbaar vir melkkoors terwyl voere ryk in magnesium dieselfde doen.

Die nuutste navorsing toon egter dat die voorkoms en intensiteit van melkkoors by melk-koeie meer verband hou met die kalium- as die kalsiumvlakke van die dieet en dat die urine-pH as ‘n indikator van die risiko van melkkoors in die kudde kan dien (Tabel 1). Aangeplante weidings (bv. kikoejoe, lusern, raaigras en soms ook kleingraanweidings afhangend van die bemesting), peulplanthooie (bv. lusern, klawer, ens.) en produkte soos hoendermis, melassestroop, maar veral CMS is veral hoog in kalium. Aangesien waarskynlik dieselfde situasie by ooie as by melkkoeie geld, is dit noodsaaklik om waar melkkoors voorkom om die kalium-, kalsium-, natrium-, fosfor-, magnesium-, chloor- en swawelinhoud van die grondstowwe en weidings te bepaal.

Tabel 1: Die voorkoms en intensiteit van melkkoors asook urine-pH (Hutjens, 1996)

 

* Lae kalsium = 0.7 % Ca en hoë kalsium = 1.4 % Ca
** Lae kalium = 1.1 % K, medium kalium = 1.8 % K
en hoë kalium = 2.5 % K
Kliniese tekens ‘n Afname in die plasma-kalsiumkonsentrasie van ongeveer 9 – 12 tot ongeveer 3 – 6 mg Ca per 100 ml is ‘n kenmerk van melkkoors wat tot kliniese tekens aanleiding gee. Die graad van kalsiumtekort sal die snelheid en intensiteit van die kliniese simptome bepaal, maar dit varieer tussen ooie. Die verloop van die siekte mag slegs ‘n paar uur wees, maar afhangend van die graad van kalsiumtekort kan dit ‘n dag of selfs langer duur (24 – 36 uur) voordat die ooie in ‘n koma gaan en vrek. Soms word ooie eenvoudig die oggend dood aangetref. Melkkoors kan diere afsonderlik aantas, maar dikwels ontstaan die siekte by baie diere tegelyk, veral die subkliniese gevalle. Die kliniese simptome van melkkoors word dikwels met dié van domsiekte, bloednier en magnesiumtetanie verwar omdat die diere wat aan enige van hierdie siektetoestande lei ongekoördineerde bewegings toon. In die geval van magnesiumtetanus word krampagtige spiersametrekkings waargeneem. Melkkoors is meer ernstig by laatdragtige as lakterende ooie.

Aangesien kalsium noodsaaklik is vir die behoorlike funksionering van die spiere (Ca is medeverantwoordelik vir die beheer van die regte senuspanning) is die simptome daarvan ‘n progressiewe aantasting van die spierfunksies wat normaalweg in drie stadiums geskied. Die eerste stadium is wanneer die bloedkalsiumvlak tot ongeveer 6.2 mg Ca per 100 ml bloedplasma gedaal het. Hierdie stadium, waartydens die dier tekens toon van opgewondenheid, hipersensitiwiteit (senuweeagtigheid) met starende oë wat aanvanklik verwilderd is, maar gou dof en dooierig word, is van korte duur. Wanneer die ooi hanteer word, word fyn spiertrillings oor veral die skouerspiere waargeneem en die agterbene begin ook styf raak. In hierdie stadium stel die diere nog in die omgewing belang en vreet hulle selfs die voer wat aangebied word. Hulle verloor spoedig hulle aptyt terwyl die meeste diere weier om te loop. Indien hulle wel loop, toon hulle ongekoördineerde bewegings (wankelrig) en val maklik. Wanneer aangetasde diere aangejaag word, kan hulle neerstort en selfs vrek.

‘n Kenmerk van die tweede stadium, bloedkalsiumvlak ongeveer 5.5 mg Ca per 100 ml bloedplasma, is dat die diere geneig is om op hulle bors te lê, somtyds met hulle agterbene na agter gestrek terwyl hulle kop op die grond rus en speeksel by hulle mond uitloop. Diere in hierdie toestand is nie in staat om op te staan nie omdat verlamming begin intree en die dier begin ook lomerig word. Die neusspieël is droog en die oorpunte is yskoud. Rumenstase (sametrekkings van die rumen stop) en hard-lywigheid (konstipasie) is kenmerkende simptome.

Die derde stadium neem ‘n aanvang wannneer die die bloedkalsiumvlak tot ongeveer 4.6 mg Ca per 100 ml bloedplasma daal. Gedurende hierdie stadium raak diere almeer lomerig en ‘n taai neusuitloopsel ontwikkel. Die asemhaling begin vlak word en die asemhalingstempo verhoog omdat die asemhalingspiere ook verswak word en uiteindelik gaan die dier in ‘n diep koma. Dikwels lê die dier ook op sy sy wat tot opblaas kan lei weens die onvermoë van die dier om wind op te breek. Indien die dier nie gou behandel word nie, sal hy vrek. Die ooie wat na behandeling herstel, is meer geneig om hulle lammers te verloor. In die res van die kudde word die toestand gekenmerk deur swak groei, soms lamheid en beenbroosheid.

Wanneer die bloedkalsiumvlakke na ongeveer 7 mg Ca per 100 ml val, word geen kliniese tekens waargeneem nie, maar ‘n groot persentasie van die ooie kan in ‘n toestand verkeer, bekend as subkliniese hipokalsemie (melkkoors) wat tot produksieverliese aanleiding kan gee sonder dat die produsent daarvan bewus is. Aangesien subkliniese hipokalsemie ontstaan as gevolg van ‘n kalsiumtekort sal ‘n onderhuidse kalsiuminspuiting van waarde wees vir toestande wat as gevolg daarvan ontstaan. Van die belangrikste gevolge van subkliniese melkkoors is:
 

  • Laer voerinname weens rumenstase (staking van ruminale kontraksies) wat tot domsiekte aanleiding kan gee.
     
  • Verhoogde kans vir prolaps van die baarmoeder, maar veral van die vagina as gevolg van die verlaging van die spiertonus wat dikwels sonder enige ander simptome van melkkoors voorkom.
     
  • Geboorteprobleme (distokie) as gevolg van spierswakheid wat normale geboorte verhoed. Kry soms staking van die geboorteproses (uterus-inersie of baarmoeder-traagheid). Dit blyk dat organe wat normaalweg betekenisvolle gladde spierfunksie het (bv. uterus, rumen en abomasum) deur ‘n kalsiumtekort (hipokalsemie) aangetas word en in eersgenoemde geval kan dit tot geboorteprobleme aanleiding gee.
     
  • Ooie wat swak en lam is na geboorte.
     
  • Neiging om die voorkoms van vassit van nageboorte te verhoog.
     
  • Groter moontlikheid vir baarmoederontsteking (metritis).
     
  • Groter kans om besmetlike siektes op te doen.
     
  • Afname in reproduksieprestasie.
     
  • Meer geneig om op te blaas as gevolg van verlies aan spierspanning (atonie).
     
  • Afname in melkproduksie van lakterende ooie weens laer voerinname met ‘n gevolglike stadiger groei van lammers en ‘n hoër persentasie lamvrektes veral by tweelinge.
     
  • Stadige groei van jongskape.

    Die nagevolge van kliniese sowel as subkliniese melkkoors kan dus duur wees en beklemtoon die belangrikheid om dit te voorkom.

    Behandeling As ‘n algemene reël word aanvaar dat wanneer ‘n dragtige of lakterende ooi in ‘n senuweeagtige of ineengestorte toestand aangetref word, dit heel waarskynlik domsiekte of melkkoors is as die ooi nog nie gelam het nie, terwyl dit waarskynlik melkkoors of magnesiumstaggers (hipomagnesemie) is as die ooi reeds gelam het. Die aangetasde dier moet onmiddellik 100 ml van ‘n 20 % kalsiumboroglukonaatoplossing, wat ook magnesium en fosfor bevat, onderhuids op vier plekke ingespuit word. Herstel geskied in die teenoorgestelde volgorde as dié waarin die siektetekens ontstaan. Ooie wat melkkoors het, sal vinnig reageer, mis passeer (ontlas), opstaan en wegstap. Hulle moet na behandeling eers regop gehou word totdat hulle vas op hulle voete is en as hulle opgeblaas is, moet gewag word totdat hulle wind opgebreek het voordat hulle losgelaat word. Behandelde diere moet vir ongeveer ‘n week dopgehou word, want van hulle kan weer ‘n aanval kry soms binne ‘n paar uur na behandeling.

    Voorkoming Vroeër was dit aanvaar dat melkkoors by ooie voorkom kan word deur hoë vlakke van kalsium en fosfor gedurende laatdragtigheid te voer. Navorsing het egter getoon dat dit kontra-produktief is en dat hierdie gebruik juis melkkoors veroorsaak. Oormatige kalsium- inname onderdruk die meganismes wat die mobilisasie van kalsium vanuit die skelet bewerkstellig en induseer gevolglik melkkoors in plaas daarvan om dit te voorkom wanneer die aanvraag vir kalsium van die reserwes hoog is.

    Die mees algemene strategie wat gevolg word om melkkoors by ooie te voorkom, is om die diere op ‘n lae kalsiumdieet te plaas wat laag in kalsium en normaal in fosfor is tot kort voor lam. Dit word dikwels aanbeveel dat ooie ‘n lae kalsiumvlak gedurende laatdragtigheid gevoer word en dat dit kort voor lam en tydens laktasie verhoog word. Met ‘n Ca:P-verhouding van 6:1 het 30 % van die koeie in ‘n proef melkkoors ontwikkel en met ‘n 1:1-verhouding 15 % en slegs 3 % toe dit 1:3 was.

    Homeostasis word onderhou deur die interaksie van twee hormone wat deur die tiroïedklier (skildklier) afgeskei word, naamlik die paratiroïed- (verhoog plasmakalsium) en kalsitonienhormoon (verlaag plasmakalsium en beperk kalsuimresorpsie uit die been) wat saam met die twee derivate van Vitamien D die kalsiumkonsentrasie tussen sy nou grense hou. Deur die dier op ‘n lae kalsiumdieet te plaas, word ‘n ligte graad van hipokalsemie veroorsaak wat die afskeiding van die paratiroïedhormoon en 1,25-dihidroksi-cholekalsiferol (derivaat van Vitamien D) verhoog en dié van kalsitonien verminder. Die paratiroïedhormoon is verantwoordelik vir die resorpsie van kalsium uit die skelet deurdat dit die hoeveelheid kalsium wat uit die spysverteringskanaal geabsorbeer reguleer deur die produksie van 1,25 – dihidroksi-cholekalsiferol te beïnvloed. Laasgenoemde is betrokke by die vorming van ‘n kalsiumgebinde proteïen wat betrokke is by die absorpsie van kalsium vanuit die spysverteringskanaal. Onder die aanhoudende stimulasie van hierdie twee hormone op die beenweefsel sal die weefsel voorberei wees op die skielike hoë aanvraag vir kalsium met die aanvang van laktasie sodat ernstige hipokalsemie en kliniese tekens van melkkoors nie ontwikkel nie.

    Die ooi se dieet moet ook goeie kwaliteit natuurlike proteïen bevat om behoorlike absorpsie van kalsium en fosfor te verseker. Oorvet ooie is geneig om gedurende laatdragtigheid ‘n afname in aptyt te toon. Daar moet deur die aanvulling van goeie kwaliteit natuurlike proteïen gepoog word om die ooie se aptyt te stimuleer asook om rumenstase te verhoed om te verseker dat voldoende kalsium geabsorbeer word. Hierdie aanvullings moet ook voldoende spoorelemente en vitamienes bevat. Ooie moet geleidelik van ses tot agt weke voor lam op ‘n geskikte konsentraataanvulling aangepas word om die probleem van hipokalsemie te voorkom. Waar aanvullings verskaf word, moet voldoende vreetspasie beskikbaar wees om te verseker dat skaamvreters ook hulle deel kry.

    Die beperking van kalsiuminname gedurende laatdragtigheid is die metode wat mees algemeen gebruik word om melkkoors te voorkom. Hierdie metode is wel doeltreffend vir die vermindering van melkkoorsgevalle by melkkoeie indien die kalsiuminhoud van die laatdragtige koei se dieet die laaste 25 dae voor kalf minder as 0.20 % (DM-basis) is. Dit is eerstens baie moeilik om met die beskikbare grondstowwe en weidings ‘n dieet met so ‘n lae Ca-inhoud te voorsien. Tweedens beperk hierdie metode die voorsiening van kalsium vanuit die dieet aan die koei.

    Die voer van anioonsoute aan laatdragtige koeie veroorsaak ‘n verbeterde kalsiumresorpsie uit die skelet asook kalsiumabsorpsie uit die spysverteringskanaal wat tot hoë bloedkalsiumvlakke aanleiding gee. Hierdie is ‘n relatief nuwe konsep in melk-beesvoeding vir die beperking en selfs voorkoming van melkkoors en subkliniese hipokalsemie wat egter nog nie in skaapvoeding toepassing gevind het nie. Dit het ‘n matige metaboliese asidose tot gevolg wat kalsiumonttrekking uit die beenstruktuur verhoog en kalsiumabsorpsie vanuit die spysverteringskanaal verbeter. Die ekstra kalsium wat as gevolg van hierdie twee prosesse vir die melkkoei beskikbaar kom, sal grotendeels voorkom dat sy melkkoors met kalwing ontwikkel. Wanneer anioniese soute in die dieet van die laatdragtige koei ingesluit word, word aanbeveel dat die kalsiuminhoud van die dieet 1 tot 1.2 % (DM-basis) moet wees. Navorsing toon dat met selfs ‘n hoë inname van kalsium (tot 1.81 % Ca van die dieet DM) gedurende die droë periode van die koei die voer van anioniese soute die voorkoms van melkkoors en subkliniese hipokalsemie verminder.

    Die voorkoms van melkkoors word dikwels ook met stresvolle omstandighede geassosieer en gevolglik moet aktiwiteite wat spanning op die diere plaas kort voor, tydens en kort na lam beperk word. Onnodige en oormatige hantering, aanjaag, gebruik van skaaphonde en vervoer van diere asook skeer, dip, ent en doseer of uithongering van diere deur die kraal van diere oornag, wisseling van kampe en voorkoms van suurpens, kan tot melkkoors aanleiding gee en moet vermy word of tot die minimum beperk word. Die voorsiening van natuurlike skuiling tydens ongure weer sal ook meehelp om melkkoors te beperk.

    Samevatting en aanbevelings Hoewel melkkoors (Parturient paresis) by laatdragtige en lakterende ooie voorkom, is die voorkoms van subkliniese hipokalsemie en geboorte verwante steurnisse (lambing related disorders) asook gesondheidsprobleme (Hypocalcemia cascade) wat daarmee saamgaan dikwels van groter belang. In die geval melkkoors is daar definitiewe kliniese simptome wat behandel kan word terwyl die subkliniese tekens in die geval van hipokalsemie dikwels ongesiens verbygaan wat tot ernstige produksieverliese aanleiding kan gee. Die voer van ‘n anioniese gebaseerde energielek het die urine-pH van laatdragtige ooie van 7.34 tot 5.15 verlaag (Coetzee, 1996) en volgens navorsing met melkkoeie behoort melkkoors en hipokalsemie beheer en selfs voorkom te word by ‘n urine-pH van 5.5 tot 6.5. Hierdie praktyk het egter nog nie by laatdragtige ooie toepassing gevind nie weens die koste en algemene beskikbaarheid van die anioniese soute. Weens die onsmaaklikheid van die anioniese soute word heelwat probleme met die inname daarvan ondervind en word die insluiting van geurmiddels genoodsaak. Hierdie voedingstrategie het egter belowende moontlikhede en kan ingespan word waar ander voedingstrategieë en bestuursmaatreëls nie melkkoors en hipokalsemie kan beheer nie.

    Indien ‘n hoë voorkoms van melkkoors of hipokalsemie verwante steurnisse voorkom, moet die voedings- en bestuurspraktyke gedurende laatdragtigheid en vroeë laktasie hersien word en die nodige aanpassings gemaak word. Op grond van voorafgaande inligting asook na aanleiding van navorsing wat met melkkoeie gedoen is, blyk dit dat melkkoors en subkliniese hipokalsemie in ‘n groot mate by skape beheer en selfs voorkom kan word deur die volgende strategieë:
     

  • Die mees doeltreffende metode is om die kaliuminname te beperk deur waar moontlik laatdragtige ooie op lae kaliumbevattende (< 1.5 % K) weidings (bv. droë grasweiding, grashooi of mieliekuilvoer) te plaas of ruvoere laag in kalium (bv. mieliekuilvoer, grashooi, ens.) te voer. Indien enigsins moontlik, moet hoë kaliumbevattende weidings (bv. peulplant-, raaigras-, kikoejoeweidings, veral die wat met miswater besproei word, en soms ook kleingraanweidings) gedurende die laaste paar weke voor lam vermy word asook die voer van ruvoer (bv. peulplanthooi en kleingraanstrooi) en produkte hoog in kalium (bv. hoendermis, CMS, Voermelasse, LS 33, melassemeel, Molovite, Supermol en Ekonolek) en kalsium (veral Energieblok, Proteïenblok, Wildsblok en in ‘n mindere mate Fosfaatblok, Rumevite P6 en P12, Blousak en Veldlek 50).
     
  • Waar moontlik vermy of beperk die beweiding van weidings wat baie laag is in kalsium met laatdragtige ooie (bv. groen, sappige vinnig groeiende weidings soos kleingraan-, grasweiding, ens.) en maak liewers van droë weidings of grashooie gebruik. Probeer ook die beweiding van plante wat hoog in oksalate is te vermy of te beperk omdat dit kalsiumabsorpsie verhoed. Die aanvulling van slegs grane op lae kalsiumbevattende weidings moet vermy word omdat dit die kalsiumtekort vererger en melkkoors kan induseer (veroorsaak).
     
  • Voer ‘n Maxiwollek of Maxiwolgebaseerde rantsoen aan laatdragtige ooie vanaf vier tot ses weke voor lam wat laag in kalium, sout en kalsium is, voldoende fosfor, swawel en magnesium bevat, maar hoog is in goeie kwaliteit natuurlike proteïen (deurvloeiproteïen). Vanaf een week voor lam, maar nie later as met lam, moet die kalsiumvlak van hierdie lekke en rantsoene na die normale vlak volgens die behoeftes van die ooie verhoog word. Hierdie strategie behoort te verseker dat die hoë kalsiumaanvraag rondom lamtyd en daarna bevredig kan word deur ‘n hoë kalsiuminname en dat tekorte vanaf kalsiumresorpsie uit die skeletreserwes aangevul kan word. Die insluiting van deurvloeiproteïen het nie net ten doel om kalsiumabsorpsie te verhoog en die aptyt te stimuleer nie, maar ook om lamoorlewing en lamgroei te verhoog omdat dit uierontwikkeling stimuleer en gevolglik bies- en melkproduksie verhoog. Deurvloeiproteïen verhoog ook die lewenskragtigheid van pasgebore lammers terwyl dit dit ook die ooie se moedereienskappe verbeter. Die nuwe generasie Maxiwollek, wat pas vrygestel is, is spesiaal ontwikkel om in al dié behoeftes van die laatdragtige en lakterende ooi te voorsien omdat dit laag in kalium en kalsium is, voldoende fosfor, swawel en magnesium bevat terwyl dit hoog in deurvloeiproteïen is. Voldoende vreetspasie moet voorsien word om te verseker dat skaamvreters ook hulle deel kry.
     
  • Beperk ook die natriuminname deur geen ekstra die sout (NaCl) gedurende die laaste drie tot vier weke voor lam te voer nie, terwyl die soutinsluiting in lekke ook gedurende hierdie stadium beperk moet word.
     
  • Moet geen buffers [bv. natriumbikarbonaat (koeksoda), kalsiumoksied (sement), voerkalk, ens.] gedurende die laaste drie tot vier weke voor lam voer nie. Die sogenaamde "suurpenslek" wat dikwels op mieliereste gebruik word, is veral hoog in sout, koeksoda en voerkalk wat die voorkoms van melkkoors en subkliniese hipokalsemie verhoog weens die hoë natriuminname en die verlaging van kalsium-absorpsie as gevolg van die verhoging van die rumen-pH.
     
  • Vermy alle vorms van spanning gedurende die laaste drie tot vier weke van laatdragtigheid of aktiwiteite wat daartoe aanleiding kan gee en voorsien natuurlike skuiling tydens ongure weer .
     
  • Vanjaar (2006) het daar baie gevalle van melkkoors en magnesiumtetaniegevalle voorgekom weens ‘n oormaat kalium in aangeplante weidings wat die kalsiumopname onderdruk. Die volgende lek (300 tot 500 g/ooi/dag) help vir beide melkkoors en ‘n magnesiumtekort:
    250 kg Maxiwolkonsentraat + 200 kg gemaalde mielies + 50 kg sout + 15 kg Magnesiumsulfaat + 5 kg voerkalk.

     

  • Geskryf deur Dr. Jasper Coetzee, Voermol.
    Vir verdere inligting oor melkkoors skryf aan dr. Jasper Coetzee, Voermol Voere, Posbus 13, Maidstone 4380 of skakel Voermol se Hoofkantoor (032 – 439 5599) of stuur ‘n e-pos aan info@voermol.co.za

    9 Oktober 2006


Kommentaar

Een kommentaar op “Melkkoors by dragtige ooie

  1. Douw Willemse
    Douw Willemse

    Ek wil net graag weet wat om vir die ooi te gee, haar lammetjie is dood gebore en die eier het geweldig baie melk.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X