Vra vir Faffa

Maxiwol Readymix

Vraag

Maxiwol readymix word 'n al beter opsie met die mielies wat duurder raak. Ek wil graag weet hoeveel lusern ek kan meng met die readymix , en wat die proteïeninhoud daarvan dan sal wees vir 'n volvoer aan lammerooie.

Antwoord

Maxiwol Readymix kan nie gebruik word om ‘n volledige Lammerooirantsoen te meng nie, want dit is ‘n klaargemengde lek met ‘n hoë soutinhoud.  Indien dit gebruik word om ‘n volledige Lammerooirantsoen te meng, sal die soutinhoud daarvan te hoog wees.  As gevolg daarvan sal die ooie nie voldoende hoeveelhede van die rantsoen inneem om aan hulle behoeftes te voldoen nie.  Die risiko bestaan ook dat hulle te veel sout kan inneem wat tot oormatige uierswelsel (uieredema) aanleiding kan gee wat bies- en melkproduksie kan benadeel en ook metaboliese siektes soos byvoorbeeld domsiekte kan "trigger."

Gebruik liewers een van die volgende volledige Lammerooirantsoene:

Die Lammerooirantsoen moet vir laatdragtige ooie vanaf ongeveer ses weke voor lam tot met speen van die lammers gevoer word.  Wanneer die Lammerooirantsoen gevoer word, moet die volgende bestuursaspekte stiptelik nagekom word:

(1)    Wanneer die Lammerooirantsoen gevoer word, moet alle lekbyvoeding gestaak word om te verhoed dat die diere te veel ureum inneem.

(2)    Voer die Lammerooirantsoen daagliks in bakke met voldoende vreetspasie (langwol ooie: ± 450 – 500 mm/ooi; kortwol ooie: ± 400 – 450 mm) sodat al die ooie gelyktydig kan vreet. 

(3)    Aangesien die Lammerooirantsoen ureum bevat, moet die maksimum inname nie 3.0 kg per ooi per dag oorskry nie, want anders kan die diere van ureumvergiftiging vrek.  Indien die ooie meer as 3.0 kg/dag gevoer moet word, moet jy asseblief met my in verbinding tree sodat ek dit kan herformuleer.

(4)    Die ooie moet stadig en geleidelik op die Lammerooirantsoen aangepas word om laminitis, suurpens (asidose) en moontlike vrektes te voorkom.  Indien ooie in lamhokke laat lam word, moet die ooie vanaf ses weke voor lam geleidelik op die Lammerooirantsoen aangepas word. 

Begin ses weke voor lam met 500 g Lammerooirantsoen/ooi/dag en verhoog dit weekliks met 250 g/ooi/dag sodat hulle een week voor lam op 1 500 g/ooi/dag is. 

Hulle kan dan een week voor lam na die lamhokke of lamkampe geskuif word waar hulle ad lib. gevoer word.  Dit is baie belangrik dat daar altyd voldoende vreetspasie is sodat al die ooie gelyktydig kan vreet.

(5)    Voer ooie met 1-lingfetusse na aanpassing ± 2.5 % en dié met 2-lingfetusse ± 3 % van liggaamsmassa en dié met 1-linglammers ± 3 % en dié met 2-linglammers ± 4 % van liggaamsmassa.  Voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte van die voer in die oggend en die ander helfte laatnamiddag.

Dr. Jasper Coetzee
 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X